Thursday, December 3, 2009

Stort vol gistergoed

Dit was een van daardie enig-van-sy-soort, spesiale Kalahari-aande. ‘n Flou suidewindjie met sy bietjie-bietjie asem probeer ‘n paar uur gelede se steeksonhitte wegblaas, maar sy wen is maar aan die skraps kant. Die geelwit helder volmaan verbeel hom hy’s die son en koggel ‘n wolklose hemelruim met ‘n skielike vermoë om donker skadu’s te gooi. Daarmee saam lê hemelstraat versprei van verste sien tot verste sien en skilder ‘n diamantblink prentjie vol helderheid en vrolikheid met sy skitter silwer sterreprag. Onse wêreld was in ‘n kombers van donkerblink skoonheid vol hemelse stilte toegevou. ‘n Hemelse stilte waarin jy maklik kan wegraak en vasgevang word in die gistergoed van jou eie unieke binnewêreld. Gistergoed waar sommige onlekker gedagtes en ervarings diep en seer littekens nagelaat het.

Dis amper middernag toe ek by die huis uitstap om in die uniekheid van ons eenvoudige buitestort met grasgedekte kante te gaan stort. Versigtig maak ek die enigste kraan in die swart PVC pyp oop en dan spoel die louwarm brakwater vanuit die songebakte waterdrom met ‘n dun straaltjie oor my se moeë en droë geswete liggaam. Soos inspandonkies wat saam-saam loop, spoel die moegheidsweet saam met die watertjies op die stort se sementblad af waarna dit gulsig opgeslurp word deur ‘n dorstige stuk aarde langs die stort. Salig, al te salig, geniet ek die louwarm water wat op my val.

Onverwags en listig soos ‘n uitgeteerde en honger, vraatsige jakkals, kruip ‘n episode van my se onlekker gistergoed al nader en nader. Ek onthou weer my en die Mooiste Mooi se oorstaan by hulle verwaarloosde eenkantstaan volkshuisie ‘n paar maande gelede. Daar waar Leya met trots tussen die duine en oor die Kalahari-vlak uitbasuin het dat sy Hom nie nou nodig het nie. “Miskien later, Pastoor” het sy met ‘n breë glimlag gespog, “ek het Hom nie nou nodig nie, miskien ‘n bietjie later. Ek is mos nie van plan om nou se tyd al dood te lê nie.”

Die onverwagse onthou van haar se woorde herinner my weer aan die spot in die “aanklaer” se stem terwyl die Genadewa daardie aand gemaklik sy pad oor die Kalahari sinkplaatpad terug huis toe wieg. “Jy’s nutteloos, nie eers goed genoeg om ‘n verskil te maak in die lewe van ‘n vergete eenkantgooi mens nie. Jy’s pateties, man. Dink net, jy kon nie eers ou Leya kry om uit te kniel vir die Kêrelkind van God nie en nou is sy myne. Myne vir altyd want jou bediening is soos die wêreld waar jy bly - onvrugbaar en nutteloos.”

Oor en oor eggo, maal en draai daardie gewraakte aanklagwoorde in my binneste-ore en ek druk my se kop met skaamte onder die louwarm straal water in. Ek draai my kop skeef sodat die waterstraal op my oor val met die hoop dat dit die “aanklaer” se stem sal verdoof of selfs uitvee. Dit help nie en onophoudelik maal en draai sy geesbrekende teleurstellingsaanklag binne-in my. Vinniger en vinniger weerklink sy refrein “Jy is nutteloos man, jy’s pateties”. Binnekant trane wat hulle oorsprong in my gekneusde binnevoering het, styg met elke herhaling en bars spoedig soos ‘n gebreekte damwal oor my se gesig om saam met die brakwater op die sementblad te val.

Hierdie binnekant marteling raak net te veel, heel te veel vir my. “Hou op. In Jesus naam, hou tog net op en bly stil,” bars dit oor my lippe en so word die uitroep van my se hart opgeneem in die stilte van die nag. “Ek wil dit nie meer hoor nie, nooit weer nie. Ek is spesiaal vir Hom want ek glo Hom. Hy sal my vir altyd vashou, ongeag wat. Ek glo Hom en ek vertrou Hom.”

Saggies en geruisloos omvou Sy se salige stilte my en Sy se goddelike vrede deurdrenk my hele wese. Alles is skielik anders, lyk anders, voel anders, klink anders, proe anders en ruik selfs anders. Eerbiedig en vol erkenning kyk ek op na die helder sterreprag van die hemelstraat met sy helder geelwit hemellig. Nakend, met arms wyd oop gestrek na bo staan ek daar en verklaar in die stilte van die middernag dat Hy steeds die Skepper van alle Hemelgoed en Stofaarde is. Hy wat selfs vrede en kalmte gee vir die pyn en seer van onse onlekker gistergoed.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot 'n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ...................

Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene
DIVINE LIFE.
(Landlyn 054-551 1000)

No comments: