Saturday, January 31, 2009

'n BESONDERSE VERHAAL

Ek het hierdie verhaaltjie per e-pos ontvang van my niggie Sue Jarps. Dit het my beindruk en ek het gevoel ek wil dit met almal deel....!

n Verhaal word vertel van n matriek klas by n sekere skool wat geregeer was deur die belhamel element. Die klas het haas onregeerbaar geword en een na die ander onderwyser het sy of haar goed gevat en geloop omdat dit nie vir hulle enigsins moontlik was om die disipline en orde te handhaaf nie.

Daar was advertensies in al die koerante geplaas maar soos wat die onderwysers aangestel was, so het hulle n paar weke later maar weer hulle goed gevat en geloop. Maar een oggend was daar n ligte kloppie aan die skoolhoof se deur en n tingerige geboude man het daar gestaan. Die skoolhoof het gegroet en toe stel die man homself voor, Ek is Mnr Buys en ek het kom aansoek doen vir die pos van matriek onderwyser. Die skoolhoof het die man op en af gekyk en toe vir hom gese, Dankie Mnr Buys, maar groter en sterker manne as jy het al aansoek gedoen en het maar weer stert tussen die bene n paar weke later weggesluip.

Mnr Buys het die skoolhoof in die oe gekyk en toe gese: Dan het jy mos niks om te verloor om my n geleendheid te gee nie. Ek sien kans vir hierdie klas.

Die skoolhoof het sy bedenkinge gehad, maar het te sleg gevoel om vir hierdie man te se dat hy heeltemal te klein en maer is vir hierdie klomp belhamels en het hom toe aangestel.

Die volgende oggend was die matriek klas op hulle beste, die geraas was deur die hele skool gehoor. Daar was n vreeslike rumoer wat deur die gange geeggo het. Die klas deur het oopgegaan en mnr Buys het stadig by die deur ingeloop terwyl hy die hele spul so op en af bekyk, hy het agter sy tafel gaan staan en net gekyk, nie n woord gese nie. Daar het skielik n doodse stilte oor die matriek klas neergedaal. Of dit verbasing was omdat so n klein verpiepte mannetjie die manne moed gehad het om in hulle klas in te stap, en of dit net die atmosfeer was wat die man omvou het, wat ookal die rede die stilte was voelbaar.

Mnr Buys het van die geleendheid gebruik gemaak om die klas te groet, homself voor te stel en hulle te vra om asb hulle plekke in te neem. Hy verduidelik toe vir hulle dat hy orde en disipline gaan toepas, maar met die verskil, dat hulle die reels en die straf sal bepaal. Hy gaan staan toe voor die swart bord en vra hulle, wat se reels wil hulle instel. Die een groot belhamel met die naam van Jakobus spring toe op en skree:"Daar mag geen diefstal wees nie, en mnr Buys skryf toe GEEN DIEFSTAL. Die volgende ou spring toe op en se daar mag geen vloekery wees nie, en mnr Buys skryf toe GEEN VUIL TAAL, en so het die klomp hulle totaal en al oorgeggee aan die genot van die maak van die reels. Toe staan mnr Buys eenkant en se dit is nou goed so, maar wat van die straf as een van hierdie reels gebreek word.
O dit is maklik skree ou Jakobus weer, 10 van die bestes met die rottang.
Goed se mnr Buys, so sal dit wees en skryf toe die straf ook op die bord.

Die dag het redelik vlot verloop en die pouse het aangebreek. Na pouse storm Jakobus die klas binne en se vir mnr Buys, "My toebroodtjies was gesteel, en die reels se daar mag nie gesteel word nie, so die skuldige moet asb gestraf word. Mnr Buys vra toe of hy weet wie die brood gesteel het, Ja se Jakobus dit was Klaas. Mnr Buys vra toe wie Klaas is, en agter in die klas staan n maer, verwaarloosde seun stadig op. Mnr Buys vra hom toe of hy die brood geneem het en hy se toe ja, hy het. Mnr Buys kyk toe vir die kind en sien dadelik die hongerpyne op die seun se gesig raak, maar hy het ook besef as hy nie die nodige disipline toepas nie gaan hy ook druipstert die skool verlaat.

Hy versoek toe vir Klaas om voorentoe te kom. Klaas was die toonbeeld van armoede, die skoene was stukkend, en oor sy skoolbroek het hy n oorgrote baadjie gedra wat hy styf voor toegevou het. Klaas trek uit jou baadjie en kom buk. Klaas kom toe voorentoe en buk met die baadjie pante nog steeds styf vasgehou. Nee Klaas die baadjie is te lank en dit hang oor jou boude, jy moet dit asb uittrek, Ag meneer, smeek Klaas, ek sal buk, want ek is skuldig, maar asb meneer, net nie my baadjie nie.

Mnr Buys voel hoe sy binneste ruk, want hy weet hier is groot behoefte, maar terwille van die disipline van die klas moet die seun gestraf word. Hy versoek toe weer vir Klaas om sy baadjie uit te trek, en weer smeek hierdie maer verwaarloosde kind, Meneer, ek sal enige iets doen maar asb meneer, ek kan nie die baadjie uittrek nie. Mnr Buys kon ook nie toegee nie, en se weer, kom Klaas uit met die baadjie, en toe Klaas sien hy gaan moet die baadjie uittrek toe maak hy dit oop en laat dit stadig grond toe gly en staan voor die onderwyser met net die broek aan sy lyf.

Klaas waar is jou hemp, vra mnr Buys, Meneer, in ons huis is daar net een hemp en een baadjie, en dit was vandag my boetie se beurt om die hemp te dra. En meneer ek het nie bedoel om die brood te neem nie, ek het gedink Jakobus gaan dit net weer in die asblik gooi soos elke dag, en ek was so honger, toe dink ek hy sal nie eers agterkom dat die brood weg is nie.

Mnr Buys het gemaak of hy iets op die bord kyk om hom geleendheid te gee om sy emosies onder beheer te kry. Toe draai hy om en se Klaas, jy verstaan dat ek wel die disipline moet toepas. Jy verstaan dat ek nie n uitsondering kan maak nie, en Klaas kyk hom in die oe en se Ja meneer, ek verstaan en toe buk hy, en Mnr Buys tel die rottang op om die eerste hou te slaan, toe breek Jacobus se stem die stilte in die klas, "Wag Meneer" moenie hom slaan nie. Mnr Buys kyk na Jacobus en se, nee die straf moet toegepas word vir die oortreding van die reels.

"Nee meneer, moenie hom slaan nie, hy was honger, los hom ek sal in sy plek kom buk om die straf te kry.

Daar was nie n droe oog daardie dag in daardie klas nie. Maar net so het daar Iemand ook voor die Vader gestaan en gese, Asseblief Vader moenie hulle straf nie, Ek sal in hulle plek die straf neem.

Kom ons maak n punt daarvan om in hierdie nuwe jaar, opnuut vir Jesus dankie te se vir die straf wat Hy namens ons verduur het.

Mag 2009 vir julle geseend wees in alle opsigte.

Laat mens dink, dink voor jy praat en doen aan andere wat jy graag wil hê gedoen moet word aan jou. Sien ook die nood raak van die ander met wie jy 'n pad kruis.

Friday, January 30, 2009

LAWAAIWATER

Deur die genade van die Here het ek amper 30 jaar gelede laas enige alkoholiese verversing gebruik.
Nou wonder ek of die gebruik voorheen geregverdig was?
Ek het so ‘n bietjie daar in Spreuke gaan rondkrap en interesante inligting omtrent die onderwerp gekry.

Spr 20:1 Die wyn is ‘n spotter, en sterk drank ‘n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie .

Spr 23:20 Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal.

Spr 23:21 Want ‘n drinker en ‘n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra.

Spr 21:17 Wie van vrolikheid hou, is ‘n man van gebrek; hy wat van wyn en olie hou, sal nie ryk word nie.

Spr 23:29 By wie is "Ag!"; by wie is "Wee my!"; by wie is getwis; by wie is geklaag; by wie is wonde sonder oorsaak; by wie is dofheid van oë?
Spr 23:30 By die wat láát opbly by die wyn, by die wat ingaan om gemengde drank te proe.
Spr 23:31 Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie:
Spr 23:33 Jou oë sal vreemde dinge sien en jou hart verkeerde dinge spreek;
Spr 23:34 en jy sal wees soos een wat in die hart van die see lê en soos een wat op die top van die mas lê.

Ek dink hier praat Salomo van daardie horibale gevoel as jy op die bed gaan le en die wil nie stilstaan nie, maar hou aan om sy pote op te tel en dreig om jou aft e gooi…..!

Spr 23:35 Hulle het my geslaan, sê jy dan, ek het geen pyn gevoel nie; hulle het my neergeslaan, ek het dit nie gemerk nie! (23:36) Wanneer sal ek wakker word? Dan sal ek dit weer opnuut soek.

Spr 23:32 op die end byt dit soos ‘n slang en spuug gif uit soos ‘n basilisk.

Gebed:
Vader, daar is so baie alkoholiste in ons land, wat deur die gebruik van wyn en sterkdrank in die afgrond beland het. Daar is ook andere wat nog oppad is na daardie afgrond toe. Vader maak asseblief mense se oe oop dat hulle kan sien wat gebeur met hulle self en hulle huisgesinne as die die duiwel van drank eers houvas op hulle gekry het. Ek bid vir daardie instellings wat mense help om te rehabiliteer, vir mense wat kan getuig dat hulle verlos is en die eer aan U gee, Amen

Thursday, January 29, 2009

HET JY DAN NIE PLEK VIR JESUS

Het jy dan nie plek vir Jesus,
Wat vir al jou skuld moes ly?
As Hy klop en vra om toegang,
Laat jy Hom dan buite bly?

Refrein:
Maak nou plek vir Koning Jesus,
Haas jou, moet Hy buite staan?
Open die geslote deur,
Voordat Jesus verder gaan!

Wêreldsake en plesiere
Gaan by jou in massas tuis;
Maar vir Jesus jou Verlosser,
Het jy nooit ‘n ope huis.

Het jy dan geen tyd vir Jesus?
Kyk hoe smekend klop die Heer,
O, vandag het jy geleentheid,
Môre vind jy Hom nie meer!

Maak nou plek en tyd vir Jesus,
Gods genade gaan verby,
Weldra sal jou hart verhard wees,
nooit sal jy die kans weer kry!


Dit is ‘n tragiese dag wanneer die Here se stem stil word in jou. Net een keer te veel het jy Hom geignoreer, wou nie luister toe Hy jou roep nie, het jy jou hart verhard…,nou is Sy stem vir ewig stil! Dwalend sal jy vir die res van jou onder maanse lewe wees, soekend, vraend……!

Hoekom laat ons Hom buite staan en wag? Openbaring 3:20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.

Die Here sê Jes 1:17 Kom nou, dat ons die saak uitmaak! Al was jou sonde soos skarlaken, dit sal word soos sneeu.

Dink jy nie dit is tyd dat jy luister en oopmaak nie…, moenie jou hart verhard nie? Gee Hom ‘n kans in jou lewe!

Wednesday, January 28, 2009

VERGEWE (met wolwegif) EN VERGEET

Nou onlangs een dag, het ek en vroulief woorde.., en ons veg mekaar oor en weer met die woorde. Party dinge sê ons met mening omdat ons dit bedoel, ander dinge sê ons net om mekaar seer te maak! Jy weet mos hoe gaan dit partykeer in so ‘n binnegeveg. Eintlik is dit verskriklik onaangenaam, maar as die geveg eers aan die gang is, dan is daar mos nie ophou nie. Ons is te beskaaf om mekaar te slaan, net dronklappe raak handgemeen en slaan mekaar pimple en pers.

Na die geveg so ‘n paar minute verby is en ek op my stoel sit en slegvoel oor die ding, staan ek op en stap kamer toe, waar ek vir vroulief op die bed kry sit en saggies ween. My primere doel van hierdie besoek aan haar, is om askies te vra vir my optrede en die dinge wat ek gesê het net om haar seer te maak. Nou sit ek met die problem die oomblik as ek haar probeer aanspreek dan huil sy harder, en ek weet ek moet die verskoning uit my lyf uitkry. Sy draai haar kop weg van my af, as ‘n duidelike teken dat my skouer nie vandag goed genoeg is om op te huil nie. Ek is amper seker ek hoor haar knor….sy is nog glad nie uitgeveg nie. Toe weet ek, ek gaan nog ‘n paar dae op die matjie slaap, die Yorkie gaan op my plek slaap langs vroulief stelling in neem.

Ek en vroulief is total verskillend getemperamenteerd. Ek die opvlieënd een en sy die rustige een, wat altyd die minste is en nooit terugveg wanneer ek "opgestart" het nie. Wat nou daardie dag verkeerd geloop het met haar emosies, weet ek nie, ek het myself eintlik besimpeld geskrik toe sy so lustig saam baklei en my met haar tong braai.
Ek in my opvlieëndheid is altyd die een wat druipstert agter vroulief aanloop en askies vra. Ek het al baie vir haar gesê ek moet so ‘n neonbord teen my voorkop laat aanbring wat die hele tyd met flitsende rooiletters sê: “EK IS JAMMER” want ek is met my geaardheid, altyd by iemand in die moeilikheid en moet om verskoning vra.

Nou wonder jy seker of ek regtig vir ‘n paar dae op die matjie geslaap het? Antwoord is nee…! Ons is mos altwee grootmense, wat die Here in ons lewens het. As daar woorde kom, is dit nie ‘n “shouting match” wat in iets leliks ontaard nie. Ons verskil in liefde van mekaar. As ons vir mekaar ontsteld is gaan ons nie slaap voordat die saak uitgepraat is nie.Eff 4:26.......laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; (27) en gee aan die duiwel geen plek nie.

Dit is jammer dat die binnegevegte in baie huishoudings uiteindelik ontaard in ‘n toeklap van die voordeur en ‘die geluid van ‘n motor wat in die nag wegspoed... Die volgende dag is die balju op die stoep….! Ag nee, dit is oor sulke dinge wat die egskeiding syfer in ons land so ontsettend hoog is.

Op die keper beskou is ‘n man en ‘n vrou wat in die eg verbind is net mooi niks van mekaar nie. Dit is twee totale vreemdelinge wat besluit om hulle skapies in dieselfde kraal te jaag, hulle is nie familie van mekaar nie en sal ook nooit wees nie. Hulle agtergronde verskil tien teen een ook nog van mekaar.
'n Huwelik kan net werk, as albei partye besluit, dit sal werk en nie daardie agterdeur van, “as dit nie werk nie dan skei ons maar” oophou nie.Die moet die dag van die huwelik styf toegemaak en gegrendel word.

Ons mag verskil van opinie, maar ons moet nie ‘n olifant geheue hê nie, as ons mekaar om verskoning gevra het moet ons dit bedoel en die verskoning met erns bejeen en aanneem, dan vergewe en vergeet ons. Dit is dan asof daardie onderonsie nooit gebeur het nie.Rom12:17 vergeld niemand kwaad vir kwaad nie;….(19) Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: “Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.” So wie is ons om iets teen ons wederhelfte te hou?

Die belangrikste is om jou huwelik te bou op die Rots Jesus Christus. As die storms dan om jou begin woed dan sal die fondamente van daardie huis nie skuif en inmekaar tuimel nie, maar as die fondament op sand gelê is……… !

Vergewe (nie met wolwegif nie, maar met die hart) en vergeet en gaan aan met jou lewe. Geniet jou huwelik, dit is ‘n ontdekkingsreis wat alles baie interessant maak!

Tuesday, January 27, 2009

EENSAAM EN ALLEEN

Al ooit die uitdrukking gehoor: “van God en mens verlate?”

As jy voel dat jy in daardie staat verkeer dan is jy regtig alleen. Geen mens, geen lewende dier in die omtrek van ‘n paar kilometer nie… Net jy..!

Die gevoel van eensaamheid kan ‘n mens ondervind na die onverwagse dood van ‘n geliefde, man of vrou of dalk ‘n ouer of ‘n kind. Jy probeer hierdie eensaamheid beveg deur jou oor te gee aan drank of pille of iets dergliks. Sodra die tydelike susmiddel uit jou liggaam is ondervind jy dat die eensaamheid net groter is, en so volg die volgende pil of drankie maar elke keer in ‘n groter hoeveelheid, tot wanneer…….! Hierdie verlies van ‘n geliefde kan ook veroorsaak dat ‘n mens jou kan onttrek van mense en niks met hulle te doen wil hê nie. Dit veroorsaak dat jy total vereensaam en ‘n soort kluisenaar word wat op sy beurt weer niks goeds vir jou op emosionele gebied doen nie. Depressie is die volgende stap in die ketting, met ‘n gevoel van nikswerd wees vir almal rondom jou wat uiteindelik op gedagtes van selfmoord uitloop.
Hoe baie keer gebeur dit nie, dat jy te midde van ‘n groot groep mense om jou, so eensaam voel asof jy duisende kilometer van die naaste persoon af is. Dink veral aan ouer mense wat in ‘n ouetehuis is en baie min besoek van hulle kinders kry

Hoeveel huisvroue veral diegene wat nie meer kinders in die huis het nie, sit met hierdie leë-nes-sindroom. Al die jare het hulle nuttig gevoel, met kinders wakker maak.., help aantrek.., kos gee.., wegneem skooltoe.., in die middae weer gaan haal en kos gee.., help met huiswerk. Die kinders na buitemuurse aktiwiteite aankarwei, of net langs die rugbyveld of korfgbalveld vir die kinders skreeu tydens wedstryde. Nou, nou is daar niks……! Net jy….!
Het jy al daaraan gedink hoe eensaam en alleen Jesus in die tuin van Getsemane gevoel het die nag toe Hy verraai is?
Matt26:38…….bly hier en waak saam met my. (39) en Hy het ‘n entjie verder gegaan en op Sy aangesig geval en gebid……..(40) en Hy kom by die dissipels en vind hulle aan die slap (42)weer het Hy vir die tweede maal gaan bid…. (43) Toe kom Hy en vind hulle weer aan die slap….
Hy het total alleen geworstel niemand het saam met Hom gewaak in daardie lydings uur nie. Later aan die kruis roep Jesus uit My God! My God! Waarom het u my verlaat.

Jy sien Jesus weet wat dit is om van God en mens verlate te wees! As jy in daardie toestand verval of besig is om te verval, gaan soek die teenwoordigheid van die Meester op. Hy sal jou help en deurdra en vertroos.

Gebed
Here ek wil bid vir elkeen wat eensaam is of besig is om te vereensaam. Dit kan nie lekker wees nie. Gee vir hulle die krag om uit daardie kettings van eensaamheid te breek en hulle self te dwing om met ander gemeenskap te hê. Laat hulle inskakel by klein omgeegroepies sodat hulle daar weer hulle menswaardigheid kan terug kry en die eensaamheid oorwin, Amen.

Monday, January 26, 2009

GEBED

Elke mens op hierdie aarde is gebore met die behoefte om iets te aanbid, of dit nou die lewende God is, ‘n boomstomp,’n beeld, ‘n dier of wat ookal.... die behoefte is daar!
Gebed is sekerlik een van die mees sielsverrykende ervarings wat ‘n mens kan hê. Stil te word voor jou Heiland en net met Hom te gesels, om Hom vir raad te vra oor jou finansies, oor jou toekomsplanne. Voor Hom te huil en Hom te vertel van jou teleurstellings, hoe jou hart gebreek is, van jou mislukkings....! Jy vertel Hom van jou suksesse, dat jy die wiskunde som waarmee jy gesukkel het reggekry het en nou verstaan! Jy vra die Here om vir jou ‘n huweliksmaat te gee, jy deel al jou vreugdes met Hom, jy vertel Hom van jou beplanning en wat jy beoog...! Jy kan met die Here gesels net waaroor jy wil...!
Dit is absoluut fantasties om te weet as jy jou hart voor die Here oopmaak met alles wat binne in jou is, daar nooit ooit ‘n skinderpraatjie sal onstaan nie. Hy help, ja, maar God sal nooit uitpraat nie!
Het jy al voor die Here op jou aangesig gelê en geween oor ‘n verlore gaande wêreld, oor bekende mense of familie wat die ewigheid in die hel gaan deurbring, oor jou man, vrou, boetie, ma, pa, sussie, jou seun of dogter?
As jy daar opstaan en jy weet, dat jy weet dat die Here jou gebed gehoor het, dat jy deurgebid het en dat jy met rykhalsende verlange kan uitsien na die verhoring van die gebed... Soms neem dit net ‘n paar dae en soms neem dit jare voordat jy resultate sien op jou gebed. Die Bybel leer ons om te volhard in die gebed.... en dat ons die Here gedurig moet herinner aan die dinge wat ons van hom vra.
Bid jy ooit nog regtig in kinderlike geloof soos jou moeder jou geleer het? Dalk is jy een van daardie ongelukkige mense wat in ‘n huis grootgeword het waar geen gebede gebid is nie en die Here nie gedien is nie, dan voel ek vir jou jammer, en wil jou vra dat jy leer om te bid. As jy nie op jou eie daarvoor kans sien nie, die Here het vir ons die wonderlikste gebed geleer in Matt 6:9 -13, Onse Vader wat in die Hemele is, Laat U Naam geheilig word.......

Dit is natuurlik ook so dat mense bid en vra en hulle ontvang nie, die Bybel sê dat dit is omdat ons selfsugtig is en dinge vra wat net om ons gaan en nie regtig nodig is nie ons wil dit net hê. Ons moet wegkom daarvan om net vir ons eie selfsugtige behoeftes te bid, rondom ons is soveel nood en mense wat gebed nodig het, dat ons eintlik nie eers op ons self kan tydmors nie. Maar ja, ons moet vir ons eie behoeftes ook vra...!

As jy net ‘n Christen is en nie ‘n kind van die Here nie, dan sal God seker eerder Sy kindertjies se gebede verhoor. Maar dit is nie onmoontlik vir God om ook die ander gebede te verhoor nie. God is soewerein en kan doen soos Hy goed dink.

As jy ook dink dat God in vandag se dae nie meer gebede verhoor nie, wil ek jou uitdaag om vir die volgende jaar elke gebedsversoek wat jy tot Hom rig neer te skryf met die datum daarby Kry sommer vir jou een van hierdie hardeblad, helfte A4, boekies wat die kinders gebruik, die goed kos ‘n paar sente, en skryf alles daarin neer. Kyk dan aan die einde van die week, maand, jaar daaroor terug en sien hoeveel gebede God verhoor het. Jy sal verbaas staan! Dit is in elke geval ‘n goeie ding om ‘n daaglikse joernaal te hou van jou wandeling met die Here en alles sorgvuldig op te teken.

Ek wil voor jou bely dat ek ‘n ontsettende groot behoefte het om vir die kinders enjongmense van ons dag te bid. Hulle is so blootgestel in ‘n tyd waar alles wat mooi was lelik geword het en alles wat lelik was mooi en aanvaarbaar geword het. Is jy tevrede met wat daar deesdae vir ons kinders en jongmense opgedis word? Hulle is die leiers van more, hulle is die besluitnemers wat nou opgroei en die land in die toekoms moet regeer. Hier gaan dit ook nie net oor die kinders van jou dorp of stad nie, maar ook oor die kinders van die land en die hele wêreld, want oral is dieselfde dinge aan die orde van die dag.
Ek vra jou mooi, bid asseblief elke dag saam met my vir die kinders en jongmense van die wêreld...???

Sunday, January 25, 2009

IS ABORSIE MOORD

Van tyd tot tyd blaai ek so deur die koerante en tydskrifte en lees deur die klein advertensietjies. Een van die advertensies wat my met weersin vervul, is die wat aborsie klinieke adverteer..

As mens vra wat is ‘n aborsie, dan sal jy seker verskillend antwoorde kry! Dit is iets wat my uit die moeilikheid kan help of gehelp het…!Dit gee my vryheid aan my terug…..! Dit neem my ma se verleentheid weg…..! Dit verlos my van ‘n verantwoordelikheid, waarvoor ek nie nou kans sien nie….! Dit maak my lewe baie makliker…!

Daar word blykbaar jaarliks, wêreldwyd ongeveer 55 miljoen aborsies gedoen. Is dit 55 miljoen moorde waaroor geen haan kraai nie?.

Daar is ‘n paar maniere waarop aborsies gedoen word. Een of ander suigaparaat word in die vrou opgedruk en dan word die fetus stuk vir stuk uitgesuig en in ‘n asblik uitgespuit. ‘n Ander manier is om instrumente in ‘n vrou te plaas en dan word die fetus vermink en in stukkies gesny en so verwyder, selfs verwurging van die baba is ook ‘n manier. Presies hoe dit werk weet ek nie.

Is al hierdie moorde geregverdig? Sal God die mens vryskeld hiervan?

Ps139:13 God het die babatjie in die moeder se skoot geweef ! Lewe ontstaan die oomblik dat die twee eierseletjies een word en bevrugting plaasvind. Haai dit is ‘n kunswerk wat God maak wanneer Hy daardie lewe binne in ‘n vrou laat ontstaan!
God het in die eerste plek lewe geskep en Hy het ons as mense die vermoë gegee om voort te plant. Wie is ons om daardie lewe wat God geskenk het te neem? Waar kry ons daardie reg?
Hoe gaan hierdie mense slagting eendag aan God verduidelik word? Spr 6:16-17 (onder andere)…..haat die Here………..hande wat onskuldige bloed vergiet.
Wat is aborsie anders as onskuldige bloed vergiet?

Die persoon wat toestemming gee en haar liggaam aanbied waarop die aborsie uitgevoer word, die persoon wat aandring dat die aborsie uitgevoer word en die persoon wat die aborsie uitvoer het almal ewe groot aandeel daarin.. Elke persoon wat ‘n aandeel in hierdie slagting het sal voor God se troon moet rekenskap gee. Mense dink nou hulle kan daarmee wegkom, maar die wiel draai stadig maar seker tot op daardie dag…!

Die Here was baie lief vir kindertjies en hy vermaan Sy dissipels met…..laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie.., Hy gebruik ook kindertjies se geloof as voorbeeld vir grootmense, wanneer Hy sê dat ons soos kindertjies moet glo..! Mat18:14So is dit nie die wil van julle Vader wat in die hemele is, dat een van hierdie kleintjies verlore gaan nie.

Gebed
Here laat mense se oë asseblief oopgaan sodat hulle sal sien wat doen hulle aan U Vaderhart wanneer hulle hierdie onskuldige bloed vergiet en die Godgegewe lewe wat U gee, neem, Amen.

Saturday, January 24, 2009

KLEREDRAG

Met verloop van jare het kerkdrag ‘n dramatiese verandering ondergaan...

As ek maar dink in my jong dae het ons so ‘n losboordjie hemp gedra, wat stokstyf met stysel gestyf was. Dit was ‘n ernstige saak om die ding aangetrek te kry want as jy die das om jou nek het dan staan daardie boordjie stokstyf hier teen jou nek op. Wat ‘n stryd om die ding afgeslaan te kry...! Dan was daar natuurlik nog daardie pakklere met onderbaadjie en die lot in die middel van die somer. Jy sit daar in die kerk al blasend en swetend. Jy haak die voorvinger in die boordjie en trek dit so ‘n bietjie van jou nek af net om so ‘n ekstra bietjie lug deur te laat na jou smagtende longe toe want dit voel die heeltyd of die boordjie jou verwurg. Jy dra altyd ‘n handvol sakdoeke in jou sak om daardie sweet wat hier uit jou hare biggel en teen jou nek en voorkop afloop mee af te vee.
Die arme vrouens, ek het hulle net so jammer gekry, daardie jare was dit nog die stywe borstrok wat hulle asem behoorlik uit hulle longe gewurg het net terwille daarvan om streamline te lyk. As hulle eers sit kan hulle omtrent nie asemhaal nie. Dan nog die warm sykouse hier in die middel van die somer wat met sockspanners bo gehou is, dit was nou natuurlik in die dae voor broekieskouse hulle opwagting gemaak het. Ons ou voormoeders het natuurlik die kouse bo gehou met ‘n perskepit wat hulle in die bo-kant van die kous gesit en die dan so ‘n paar draaie gegee het.....! Wat nou nog van die hoed? Party hoeddens was so klein dan dit amper nie eers iets was nie, maar dit was daar. Ons was arm, so my ma het net so ‘n veertjies dingetjie gedra wat die haartjies net so effentjies bedek het . Die ryk ou dames of dames wat ryk mans gehad het, het ‘n konstruksie op die kop gedra wat so hoog was, as jy agter een van hulle beland kan jy geen woord sien wat daarvoor op die preekstoel aangaan nie! Dit was natuurlik in die tyd van mini rokkies..., van die dames wat eintlik nie heeltemal in die goedjies gepas het nie, het hulle gedra! Liewer dood as uit die mode!
Moet nou ook nie daardie reuk van twakrook en peppermente wat in die lug hang terwyl die diens aan die gang is, vergeet nie. Al die ouderlinge en diakens het sulke klein pienk lekkertjies gesuig, seker om die rookreuk in hulle asems weg te neem.

Hoe lyk dit vandag?

Die pakklere en stywe boordjie het plek gemaak vir gemaklike sportdrag sonder ‘n baadjie in die somer en ‘n das is net iets wat in die kas hang. Die dames se hoed het verdwyn, hulle is nie meer so styf ingegord nie en dit lyk of al die mode klere en sykouse plek gemaak het vir ‘n gemaklike broekpak en sandale.

Wat ‘n aangename rustige atmosfeer heers daar nou tydens die dienste! Daar is luidspreker stelsels, lugversorgers en dakwaaiers wat prober om mens darem koeler te hou as in die outyd. Daar is nie meer ‘n hoed wat jou uitsig versper nie. Jy trek nie aan jou boordjie om asem te kan haal nie.

Het hierdie verandering nou enigsins ‘n invloed op jou geloof? Dien jy die Here nou minder as voorheen, of dink jy dat die Here nou minder van jou dink as voorheen? Gaan die Here nou nie meer Sy seën oor jou uitstort nie? Gaan jy nou hel toe, omdat jy nou meer gemaklik aantrek?

As jou Gemeente of denominasie wetties is oor kleredrag, dan is dit goed so! Jy trek aan soos jy voorgeskryf word of soos jy voel jy moet aantrek, maar moenie andere veroordeel oor hulle kleredrag nie.

Moet tog nooit klere of die gebrek daaraan as ‘n verskoning gebruik om uit die kerk te bly nie. Liewers kaalvoet onder die geklank van God se Woord as met skoene aan langs die viswater! Die woord sê dat ons nie die onderlinge byeenkomste moet versuim nie.....!

Het jy opgemerk dat sedert die kleredrag rewolusie plaasgevind het, is daar meer mense in die dienste as wat ek kon onthou? Miskien verbeel ek my dit maar!

GEBED
Here dankie dat ons u kan dien, en dat u nie voorskrifte het hoe ons moet aantrek nie. U het in U wandel op aarde met vissermanne, tollenaars , kerkmense en gewone alledaagse mense omgegaan en nêrens lees ek in U woord dat U enigeen weggewys het omdat hy nie reg aangetrek was nie. Dankie dat u vir ons nooi om na U te kom net soos ons is. Help ons om asseblief nooit meerderwaardig te voel teenoor daardie person wat agter in die kerk gaan sit en dalk nie sulke mooi klere as ons aanhet nie en dat ek bowenal nie so ‘n person sal verkleineer nie. Wat maak dit tog saak of die klere R1000.00 of R50.00 kos, U kyk nie daarna nie, vir U is net die siel van die mens belangrik. Help ons om mekaar op sigwaarde te aanvaar. Amen

Friday, January 23, 2009

MINDERWAARDIGHEID

Baie mense in ons samelewing loop met ‘n minderwaardighieds kompleks rond en dit is iets wat die meeste mense met hulle saamdra tot die einde van hulle lewens.

Wat is minderwaardigheid? Dit is die gevoel wat mense in hulle ronddra dat hulle nie so goed is soos die volgende person nie. Dit mag beperk wees tot sekere dinge in hulle lewens of dit kan sommer net in alle opsigte wees.
Ek voel minderwaardig teenoor my sussie of boetie, want hulle het verder as ek geleer. Hulle kommunikeer op vlakke wat ek nie verstaan nie. Hulle verdien baie meer geld as ek, ry ‘n baie beter motorkar as ek......!!
Ek voel minderwaardig omdat ek nie kinders kan kry of verwek nie..... omdat ek puisies het....oorgewig is....nog nie getroud is nie....nie matriek gemaak het nie.....nog nie ‘n spesiale seuns of meisie vriend het nie.......dom is.....!

Waar kom minderwaardigheid vandaan? Dit kan sy oorsprong in jou kinderdae hê! Dit kan so maklik gebeur dat ‘n ouer of ouers ‘n kind se selfbeeld aanhoudend afkraak. Dit gebeur baie keer in huishoudings waar oormatige gebruik van sterkdrank aan die orde van die dag is. Of waar die vader- en soms ook die moederfiguur, onvergenoeg is met alles in die lewe, aggressief is of aan depressie ly!
As hulle dan in die toestand verval, haal hulle dit op die kinders uit, beledig hulle en kraak hulle af. Die kinders kan dan niks goeds doen in die oë van die ouers nie. Hierdie aanhoudende beledigings word naderhand deur die kinders geglo. Dit laat blywende skade op die kindertjies se gees en gemoed, wat in latere jare vir hulle in baie groot problem word en hulle strem in hulle lewe of werk.

Dit gebeur ook baie in ‘n huwelik dat die man die vrou aanhoudend afkraak, jy kan nie soos my ma kook nie..., jy het vet geword sedert ons getroud is, jy lyk verwaarloos mens kan jou ook nie meer uitneem nie, jou hare hang sulke toiings jy kyk nie meer na jouself nie. Net soveel gebeur dit dat die vrou die man afkraak, jy kan my nie bevredig nie, joune is te klein. Jy verdien te min geld omdat jy ‘n ......... is, my boetie is ‘n..........en hy verdien tien maal soveel as jy. Kyk na hulle mooi nuwe duitse motor en die nuwe bakkie en die “quadbike “of waterponie, kyk na die buurt waar hulle woon.....!

Ja dink net hoeveel skade aan mense gedoen word deur hulle aft e kraak. As dit lank genoeg aangaan dan glo die person wat afgekraak word dit, wat keer op keer voor sy kop gegooi word. Die person glo hy is nikswerd en ly naderhand aan ‘n groot kompleks van minderwaardigheid.
Ek glo, en dit is my eie opinie, dat geen mens met ‘n minderwaardigheidskompleks gebore word nie. Dit is iets wat ontwikkel as gevolg van invloede van buite.

God het ons almal volgens Sy beeld geskape, en God maak nie foute nie. God wil nie hê jy moet minderwaardig wees nie, want God het nog nooit ‘n minderwaardige mens geskape nie.
God is nie minderwaardig nie!!

Liewe Vader in die hemel, U is die Anker waaraan ons almal moet vashou, anders word ons verswelg deur die omstandighede om ons. Daardieselfde Anker kan ook keer dat ons deur hierdie satan gedrewe emosie van minderwaardigheid verswelg word. ‘n Emosie wat vir ons as mens ook van U af kan weghou omdat ons mag dink dat ons nie waardig is om na u te kom vir vergifnes van sonde nie. Help ons asseblief en kom ons kleingelowigheid te gemoed , Amen

Thursday, January 22, 2009

AANBID ONS ALMAL DIESELFDE GOD

Jesus het baie keer die mense laat regop sit met Sy uitsprake, want so baie keer was dit glad nie wat die mense geglo het en wou hoor nie. Miskien wil hulle dit in hierdie dag ook nie hoor nie. Uitsprake soos: as jou vyand jou op die een wang slaan, draai dan ook die ander wang; jy moet jou vyand liefhê ………
Dan het Jesus ook gesê: Joh14:6 “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. Ons lewe in ‘n wêreld waarin ons kan kies of dit of dat……., Mense hou nie daarvan om in een rigting gedwing te word nie, hulle wil vry wees om te kan kies. Die ou storie van ondersoek alle ding en behou die goeie

Alle godsdienste is maar eintlik dieselfde, as jy al die form van die verskillende godsdienste wegneem. As die godsdienste behoorlik beskou word is daar sekerlik in sommige gevalle basiese waardes wat baie dieselfde kan wees.
Daar is egter ook fundamentele verskille wat nie sommer in die wind geslaan kan word nie, wat die Christelike geloof in ‘n klas van sy eie plaas.

Wat maak die Christelike godsdiens uniek? Daar kan net een antwoord wees nl Jesus! Ander godsdiensleiers sê: “volg my en ek sal jou die waarheid wys” Jesus sê: “Ek is die waarheid. Ander leiers sê: “volg my en ek sal jou die weg na verlossing wys. Dit verskil radikaal met wat Jesus sê: “Ek is die weg…….”

Leiers van ander godsdienste, kan maklik slimmighede en indoktrinasies aan hulle lede opdis, maar dit is net Jesus wat Sy bloed gestort het…..!!!!


. Daar is baie godsdienste dus baie filosofië en die Christelike filosofie is maar net een van vele, miskien ‘n bietjie anders as die meeste ander, maar darem baie dieselfde. Dit beteken nie noodwendig dat al die alle godsdienste en filosofië reg is nie! Omdat ons in ‘n samelewing woon waar daar geen druk op enigiemand geplaas word om in, sê nou maar ‘n staatsgodsdiens filosofie te glo nie het elkeen vryheid om te glo soos hy wil. Dit beteken dan nou ook nie dat almal reg is nie en wat hulle glo die waarheid is nie.

Jesus het nie net gesê, dat Hy die Seun van God is nie, maar met sy kruisdood het hy dit bewys en die waarheid is deur God se gees aan die hoofman oor honderd aan die voet van die kruis bekend gemaak Markus15:39 En toe die hoofman oor honderd wat daar reg voor Hom staan sien dat Hy so uitroep en die laaste asem uitgeblaas het, sê hy: “Waarlik, Hy was die Seun van God.”
Dit is mos nou absoluut oortuigend.


Omdat Christene ( en daarmee bedoel ek Kinders van die Here) glo dat Jesus die enigste weg tot saligheid is, word hulle beskou as dat hulle hoogmoedig en beter as mense van ander godsdienste is. Is dit werklik so?
Andere glo weer hulle godsdiens is die enigste, miskien is hulle net ‘n bietjie meer verdraagsaam teenoor Christene want hulle word dan nie beskou as hoogmoedig nie.

Die feit van die saak is dat geen ander godsdiens vir jou kan bied wat jy deur Jesus Christus se kruisdood en Sy gestorte bloed verwerf het nie.

Aanbid ons dan, as ons al die “dressing” afgehaal het, almal dieselfde God?

Jesus waarsku ons in Sy word Markus 13:5 ……..Pasop dat niemand julle mislei nie.(6) Want baie sal onder My naam kom en sê: Dit is ek! En hulle sal baie mense mislei.

Waak daarteen om verlei te word !!! Heb 10:31 Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.

Wednesday, January 21, 2009

BEKOMMERNIS

Met erkenning aan Flip Nel


Jesus het ‘n paar harede woorde uitgelaat oor bekommernis. Hy meen dat ons soos heidene is wanneer ons so bekommerd is oor alles. Hy verkies dat ons op Hom sal vertrou omdat Hy ons hemelse Vader is en dat Hy vir ons sorg.
Jesus het vir ons die volgend raad
Moet julle nie bekommer oor wat julle moet eet, drink, aantrek of oor julle liggame nie. Die lewe is belangriker as al die dinge. As die natuur nie eers daaroor bekommerd is nie, is dit ook nie nodig vir my en jou om ons daaroor te bekommer nie. Ons is soveel meer werdas die natuur (Mat 6:25-27)

Moenie oor jou toekoms bekommerd wees nie, want dit sal geen uur by jou lewe voeg nie. Die ongelowiges is gedurig bekommerd oor die dinge wat aan die vlees gemeet word, Die rede vir hulle bekommernis is juis deur dat hulle geen geloof het om aan vas te hou nie, en hou dus vas aan die handvatsel van bekommernis wat deur satan ontwerp is en wat lei na ondergang en selfvernietiging. Moet net asseblief nie vir een oomblik dink daar sal geen moeilikheid wees nie, maar dit hanteer ons met geloof van dag tot dag (Mat6:28-34)
Moenie jou aan die bekommernis oorgee nie, want dit bring net ellende. Dit is in dae soos hierdie, waar dinge nie altyd seepglad verloop,dat ons in die geloof sal groei, daarin sal wandel en dit dan uiteindelik in ons opterede sal uitleef. Begin Vader in die klein dinge ken en vertrou, sien en ervaar geleidelik die uitkoms en soos dinge groter word ken ons hom later in alles wat in ons lewe plaasvind.Komaan, ons moet iewers leer van dit wat die Woord ons leer aangaande geloof in God.

Gebed
Vader, U is die bron van alles wat ek nodig het en dit waarmee ek moet voortbestaan. Dankie date k weet U is ‘n planmaker van alles in my lewe, Amen.

Tuesday, January 20, 2009

UITDAGINGS EN GELOOF

Elke mens word van babatyd af gekonfronteer met uidagings waarmee hy of sy moet deel. Om die uitdaging aan te neem en daarop te reageer, moet so ‘n persoon die geloof in hom hê dat hy wel kan doen wat die uitdaging van hom vra.
Dink byvoorbeeld aan ‘n kleinding wat deur ‘n. reus wat voor hom staan, al is dit sy mamma of pappa, uitgedaag word om sy eerste treetjies te gee. Daardie kindjie sal nie beweeg tot tyd en wyl hy genoeg geloof het dat hy dit wel sal regkry om te loop nie.

Op dieselfde manier word ons dwarsdeur ons lewens uitgedaag om te presteer of om iets te doen. Soms is die uitdagings maklik ander kere is dit weer verskriklik moeilik. Baie keer moet ‘n mens dadelik reageer op ‘n uitdaging, ander kere het jy weer tyd om daaroor te dink. Hoe dit ookal sy wanneer daardie uitdaging voor jou kom staan, het jy een van twee keuses, of jy moet die uitdaging aanneem of jy moet dit afwys.

Een van die belangrikste elemente is natuurlik dat jy die geloof moet hê dat wanneer jy die uitdaging aanneem, jy sal kan doen wat die uitdaging van jou vra, mits jy nie andere daardeur sal banadeel nie. Indien jy nie die geloof het dat jy sal slaag nie, of as jy sien dat jy andere sal benadeel, sal jy normal weg nie die uitdaging aanneem nie.

Soms staan uitdagings soos ‘n reus voor ‘n mens, en soos die tyd aanstap groei daardie reus tot proporsies wat mens bang maak. Jy weet jy moet daardie reus konfronteer, maar jy het dood eenvoudig net nie die geloof dat jy die reus sal verslaan nie.
Jy hardloop weg! Gaan staan op ‘n afstand na die reus en kyk, kom weer stadig nader en kyk of jy die moed van jou oortuiging het om hom aan te vat, as jy sien dit gaan nie werk nie, dan retireer jy maar weer. Daardie reus pla jou dag en nag. As jy in die oggend opstaan is dit die eerste wat jy sien, as jy in die aand gaan slaap worstel jy vir ure en maak planne hoe jy hom gaan verslaan. Hierdie reus put jou tot die dood toe uit.

So was Koning Saul en die Israelietiese soldate uitgedaag by Sogo toe hulle in ‘n oorlog situasie met die Filistyne was. Goliat van Gat het die Israeliete uitgedaag om iemand te kies om teen hom te veg. Toe Saul en sy manskappe die uitdaging hoor was hulle verskrik en baie bevrees. Hulle was getreiter met hierdie uitdaging, want hierdie Filistyn het soggens vroeg en saans nader gekom om die uitdaging aan hulle gerig vir veertig dae lank.
Toe verskyn Dawid die jong seun, ‘n veewagter op die toneel om vir sy broers wat veg kos te bring, en soos daar normaalweg gesê word, en die res was geskiedenis.

Terwyl Dawid op die slagveld uitkyk, het die Reus weer tevoorskyn gekom en sy uitdaging gerig 1Sam 17:24 Maar toe al die manne van Istael die man sien, vlug hulle vir hom weg, want hulle was baie bang.
Dawid hoor toe stories van groot rykdom en een van Saul se vrouens as betaling vir die man wat die reus verslaan. Dawid, was seker jammer dat hy nie ‘n grootman was om hierdie pryse te kon verdien nie.

Dawid het hom natuurlik vererg vir hierdie reus, 1Sam 17:26 ……Want wie is hierdie onbesnede Filistyn, dat hy die slagordes van die lewende God durf uitdaag.
Koning Saul het van Dawid gehoor en hom laat roep! Dawid het aangebied om teen die reus te veg, Saul wou nie (vers 33) ………jy kan nie…….jy is ‘n seun en hy is ‘n krygsman……..

Dawid het die geloof dat hy die Filistyn kan verslaan, maar hoor bietjie waarop basseer hy sy geloof (vers37) ….die HERE wat my gered het uit die klou van die leeu en die beer, HY sal my red uit die hand van die Filistyn.

Toe Dawid teenoor die Filistyn stelling inneem het hulle mekaar uitgedaag! (vers 45) Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jy kom na my toe met ‘n swaard en ‘n spies…maar ek kom na jou toe in die naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel wat jy uitgedaag het.(46) Vandag sal die Here jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan…….” (47)”….die stryd behoort aan die Here, en Hy sal julle in ons hand gee”

Hoe hanteer jy die uitdagings in jou lewe? Waarop basseer jy jou geloof en vertroue?
Spreuke 3:5 Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.

Ja daar is maar net een plek waar ons geloof en vertroue kan kry en dit is by die Here.

Is jy nou al in geplug by daardie Bron?

Monday, January 19, 2009

VRYHEID

Oorloë is al geveg en baie mense is dood en dit net om die magiese ideaal van vryheid te bereik. In ons eie land se geskiedenis, het die Voortrekkers die onbekende binneland van Suid Afrika aangepak en oorloë geveg teen die inheemse volke om net vry te wees en om van die Engelse oorheersing vry te kom is daar twee vryheids oorloë geveg...! Mense begin hulle eie besighede om vry te wees van die daaglikse verantwoordelikheid van om vir ‘n ander werkgewer te werk.
Ons het Vryheid van spraak...!
Vryheid van assosiasie....!
Persvryheid...!
Is dit regtig vryheid ? Is dit Vryheid wat blywend is? Is dit Vryheid wat rustigheid in ons bring en ons tevrede agterlaat? Ek dink nie so nie...!
Word ons as mense nie so besig gehou met die alledaagse dat ons self geen gedagte meer het nie? Ons hardloop vandat die son opkom in die oggend tot laat in die aand....! Dit is voldag werk, kinders grootmaak, kosmaak huis skoonmaak, tuinwerk op datum kry. Dan wil ons nog ‘n sosiale lewe ook hê. Ons wil kerk toe gaan, met vriende kuier, gaan fliek, en nog vele meer.
Waar is die gewaande vryheid wat ons het? Is dit nie net ‘n mite nie? Ons is so ingehok met alles wat om ons aangaan en wat van ons verwag word om te doen dat vryheid glad nie ter sprake is nie.
Sedert die sondeval in die Paradys is daar vir die mens grense gestel wat hom onmiddelik ingeperk het. Die Vryheid wat die mens gehad het in Adam en Eva voor die val, het slegs een klein beperking op die mens gehad.... Gen 2:17 Maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie: want die dag as jy daarvan eet sal jy sekerlik sterwe. Nie eers hierdie een klein beperking wat God op die mens geplaas het, was die mens bereid om te respekteer nie. Nee die mens moes die grense van vryheid toets omdat daardie mite van vry wees, doen wat ek wil deur die Satan in sy kop geplaas is.
Behalwe vir daardie een klein beperking, was die mens vry om te heers oor die diere van die aarde, die voëls van die hemel en die visse van die see. Die mens is vrypas gegee om te heers oor God se skepping . Adam en Eva kon doen wat hulle wil,slaap wanneer hulle wil. Die enigste taak wat God aan Adam gegee het, was om aan al die diere name te gee. Dit moes hom seker ‘n redelik lang tyd geneem het om hierdie opdrag uit te voer.
Dit was vryheid.....tot daardie noodlottige dag......! Die dag wat Eva geval het vir die praatjies van die slang en op sy uitdaging gereageer het.
Van toe af is die mens in kettings van sonde gebind..., en al die dinge wat ons so besig hou het oor ons pad begin kom as straf vir ongehoorsaamheid.
Daar is hoop, ons kan vryraak van die bande wat ons bind. Joh8: (32) En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak(36) As die Seun julle vrygemaak het sal julle waarlik vry wees.
Die Vryheid wat daar vir ons is binne die wil van die Here, is ware Vryheid, nie losbandigheid nie.
Kom ons dank God dat Hy die plan gemaak het om ons, ons vryheid terug te gee deur die bloed van Jesus.

Saturday, January 17, 2009

OWERSPEL/ONTROUHEID

Hierdie onding is deesdae aan die orde van die dag, nie dat dit nie vroeër dae ook gebeur het nie....dit het selfs in Bybelse tyd gebeur, dink maar aan Dawid en Batseba. Die dimensie daarvan het egter ook heeltemal verander. Om saam met ‘n ander vrou of man koffie te drink in ‘n koffiewinkel kan in hierdie tyd gesien word as ontrouheid aan jou maat ......saamslaap is nie noodwendig nie.
Wat maak dat die een maat aan die ander ontrou is? As ek nou so mooi daaroor dink, kan daar vele redes voor wees.
Iemand het gesê “die man bly die jagter, en as die jagseisoen verby is vernietig hy tog nie sy geweer nie.” Dit mag so wees, maar om buite seisoen te jag is onwettig. Solank jy getroud is het jou “buiteseisoen” aangebreek en jy mag nie jag nie.
My man of vrou verstaan my nie....! dit is ‘n goeie verskoning om “verstaan” in iemand anders se arms en bed te gaan soek. Vraag is hoekom sit julle nie en kyk mekaar in die oë en gesels met mekaar nie. Kommunikasie of die gebrek daaraan, is seker een van die grootste redes hoekom huweliksmaats voel dat die ander een verstaan hom of haar nie. Luister ook ‘n slag.., moet nie net aanmekaar praat nie
My man of vrou het my nie meer liefe nie....! Is dit....? Is liefde dan ‘n emosie wat mens kan aan of af skakel? Wat het geword van daardie ewige trou en liefde wat julle voor die kansel aan mekaar belowe het?
“Ons is nie op dieselfde intelektuele vlak nie...!” Haai, waar was jy toe julle getroud is, toe julle mekaar die hof gemaak het? Julle het toe mos met mekaar gesels...(hopelik), jy het toe mos al agter gekom julle is nie op die selfde vlak nie. Dit is mos nie iets wat na die huwelik verander het nie!!
“Ons het net na werk in ‘n groep gaan ‘n drankie drink......en toe het hy/sy my verlei!” Bull twang man...., wat gaan soek jy na werk saam met die groep by ‘n uithang plek. Jou plek is mos by die huis waar jou maat en huisgesin na jou teenwoordigheid verlang. Jy het met voorbedagte rade saam met die groep uitgegaan in die hoop dat jy ietsie sal optel.....!
Is al hierdie nie maar net verskonings om jou wellus te bevredig nie. Vir elke man wat ontrou is, is daar ook ‘n vrou wat aan haar man ontrou is, of ‘n ongetroude vrou/man wat deur hulle drange gedryf word om ‘n man of vrou se aandag te vang. Hoe jy ookal daarna kyk, albei partye moet gewillig wees anders kan en sal daar niks gebeur nie.
Meneer/Mevrou, het jy nou al daaraan gedink hoe jou maat oor jou ontrouheid voel? Dink jy dit is vir hom/haar lekker om aand vir aand vir jou by die huis te sit en wag. Opgewond te voel elke keer as daar ‘n motor in die straat af kom. Het jy al daaraan gedink dat jou huweliksmaat dalk die person met wie jy ontrou is ken? Hoe dink jy moet hy/sy voel wanneer hulle in mekaar se geselskap beland?
Plaas jou skelmverhoudings jou nie onmiddelik op ‘n plek waar jy nie wil wees nie. Wil jy vir die res van jou lewe altyd in die skaduwees rondsluip, lieg oor jou doen en late...,die veertjie in jou hoed mis....met kettings geboei wees?
Nou onlangs die verhaaltjie gelees van die paartjie wat net so op toemaaktyd by die wegneemete saak inloop. In die warboel gee die dametjie agter die toonbank toe aan hulle die pakkie waarin die dag se geld is ipv hulle kospakkie. Toe die paartjie dit by die huis agterkom, besluit hulle om dadelik terug te gaan en die geld te gaan terug gee. By die winkel aangekom is alles in rep en roer soos daar na die geld gesoek word deur die dametjie en haar bestuurder. Toe hulle die geld teruggee, wil die bestuurder net die koerante skakel sodat ‘n foto geneem en ‘n berig oor hulle eerlikheid in die koerant gepubliseer kan word. Die paartjie moes toe die bestuurder vra om dit nie te doen nie aangesien ‘n foto in die koerant hulle skelm verhouding op die lappe sou bring....!
Owerspel en ontrouheid is die oortreding van een van God se erkende wette Exodus 20:14 Jy mag nie egbreuk nie. Dit is sonde..., as jy daarmee aanhou en dit nie bely en laat staan nie, sal jy eendag voor God se troon staan en moet antwoord gee hoekom jy nie moet hel to gaan nie.
As jy verder in Psalm 51 lees, dan kom jy agter wat owerspeligheid en ontrouheid alles van jou maak: jy is ‘n oortreder..., jy is ongeregtig..., jy is sondig..., jy is onrein.....jy is vuil....jy het nie meer vreugde of blydskap nie...! Weet jy dat Dawid selfs moord laat pleeg het vir die vrou Batseba, daar was tot bloed aan sy hande.
Is dit hoe jy deur die lewe wil ploeter?
Hoor net bietjie wat sê Dawid nadat Natan hom gekonfronteer het met sy owerspel en ontrouheid met Batseba en hy onder die oortuiging gekom het dat dit verkeerd is.
Psalm 51:(3) Wees my genadig o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. (9) Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees......(12) Skep vir my ‘n rein hart, o God........(13)Verwerp my nie van u aangesig nie....(16) Red my van bloedskuld o God....?
Dink net hoe kragtig God vir Dawid gebruik het nadat hy sy sonde van owerspel, ontrouheid en moord bely en laat staan het.
Wat nou van die seer wat daar in die huweliksmaat oorbly nadat jy aan hom/haar ontrou is of was.
Ek wens ek het vir diegene ‘n kits oplossing gehad, maar daar is nie. Omdat die mens so ‘n komplekse wese is wat bestaan uit siel, gees en liggaam, het die seerkry baie groot impak op die persoon. Dit gaan ook nie help om jou kop in die sand te steek en te sê ek sal maar self daaroor kom nie..., jy sal nie! Jy sal moet ‘n berader sien om jou te help om perspektief op die saak te kry en jou te help om daardeur te werk, anders gaan jy die bagasie vir die res van jou lewe saam met jou dra.
Soek hulp!!!
Gebed
Hemelse Vader daar is baie mense in ons land en oor die hele wêreld wat met hierdie problem worstel. Mans en vrouens wat gebroke is omdat hulle huweliksmaat aan hulle ontrou is. Help hulle asseblief Vader om die vrymoedigheid te hê om te gaan hulp soek vir hulle seer.
Vader, maar ek wil ook vir hulle bid wat in ‘n staat van ontrouheid staan! Maak asseblief hulle oë oop dat hulle kan sien wat hulle doen is verkeerd. Help asb dat hulle nie verblind word deur hulle wellus nie? Versag hulle harte Vader dat hulle sal los waarmee hulle besig is en terugkom na U toe.
Vader, ek bid ook dat u die Beraders sal wysheid gee om die mense wat seergekry het te help om daaroor te kom
Bind asseblief die werke van satan wanneer hy prober om Christen huwelike en huisgesinne op te breek.
Ek vra dit in die naam van Jesus Christus ons Verlosser en Saligmaker.
Amen

Vir diegene in en om Rustenburg wat dalk met so ‘n problem worstel. Daar is opgeleide beraders beskikbaar wat jou kan help, moenie alleen aan die vrag dra nie.

Friday, January 16, 2009

DIE JUK

Die osse stap aan deur die stowwe,
Geduldig gedienstig gedweë....

Die osse moet gelyk trek om daardie sware vrag te beweeg, sou een van hulle trek in ‘n verkeerde rigting, veroorsaak dit konsternasie wat al groter word soos die os teen die juk spook. Dit put die os uit en hy kry slae by die drywer.

In Mat11:29 nooi Jesus ons uit: “Neem My juk op julle en leer van My, want ek is sagmoedig en nederig van hart, julle sal rus vind vir julle siele.

Ons neem daardie uitnodiging aan in die vertroue dat dit met ons sal beter gaan…miskien met ‘n dubbele agenda en wanneer sake nie uitwerk soos ons dit wil nie, dan begin ons teen Jesus se juk werk en trek. Ons hou dan aan om in die verkeerde rigting te trek teenoorgesteld wat die Here vir ons in gedagte het, want ons weet mos beter as die Here wat goed en reg is vir ons. As ons bietjie slae kry dan is ons kwaad vir die Here en wil sommer heeltemal uit die juk spring.

Wat gebeur as ‘n mens beur en trek? Jy is naderhand flou en die sweet tap jou af. Jy beur harder want niks beweeg in die rigting wat jy wil hê dit moet gaan nie. Jy raak gefrustreerd en beur nog harder….jy raak so uitgeput dat jou bene onder jou wankel en jy voel of jy wil neerslaan.

Is dit die moeite werd

Seker een van die grootste beloftes wat Jesus ooit aan ons gegee het was…, “kom na my almal wat uitgeput en oorlaai is en Ek sal julle rus gee….. My juk is sag en My las is lig.”

Kom ons los die dwarstrekkery en ontspan. Wanneer ons Jesus se juk aanvaar dan beteken dit onderdanigheid aan Hom. Dit is ook ‘n teken van hulp want jy trek nie alleen aan die vrag nie. In elke paar osse is daar een wat lei en die ander een volg.
Jesus sal die leiding neem, maar ons moet saam met Hom ingespan wees om voordeel daaruit te kan trek en Hom volg

Om dus hierdie intieme verhouding met Christus te geniet, moet jy voor Hom buig en Sy wil vir jou lewen aanvaar. Hy belowe dat Sy juk jou nie sal wurg nie, dit sal jou nie uitput of beperk nie. Sy juk sal jou nie skaaf nie.
As jy waarlik vry wil wees, moet jy toelaat dat Jesus jou inspan onder Sy juk, deur onderdanig te word aan Sy wil.

Slegs binne Sy wil vir jou lewe is jy VRY…….!!!

Thursday, January 15, 2009

AS ONS Sò GLO

Met erkenning aan Mart-marie Page. Toe ek hierdie lees het ek dadelik haar toestemming gaan vra om dit te gebruik

Hier en daar het ek so ‘n bietjie aangepas, daarvoor het ek nie toestemming gevra nie.

Ek lees tans ‘n boek waar die wonderwerk van die man van Betesda opgehaal word (Joh. 5), en die 100% gelowige reaksie van hierdie man het my voete onder my uitgeslaan.

Om die bad Betesda het baie gestremdes gelê en wag dat die Engel die water roer. Diegene wat dan eerste in die water ingaan word genees. Toe Jesus by die bad aankom, het Hy by ‘n man gaan stilstaan wat al 38 jaar wag om genees te word. “Wil jy gesond word” vra Jesus hom.Hy het nie ‘Ja!” uitgeskreeu nie – miskien het hy gevoel dit is voor die hand liggend? Hy verduidelik net aan Jesus, hoekom hy nog nie in die bad kon kom nie... en wat was Jesus se reaksie daarop?

“Staan op tel jou goed op en loop.” (vers8) sê Hy eenvoudig.

Ek het gewonder wat my reaksie in sy skoene sou wees…!

Hierdie man wat so lank nie kon loop nie, doen presies dit wat Jesus hom sê om te doen – hy staan op en loop (vers9)

Hoe wonderlik moet en kan dit wees as ons Jesus se woorde ernstig opneem ….

As ons Hom glo dat ons kosbaar en waardevol is…
As ons Hom glo dat ons nie oor more hoef te bekommer nie….
As ons Hom glo dat Hy die beste vir elkeen van ons wil hê….

Ek is mal oor die storie van die troep wat agter Napoleon se weghol perd aangehardloop en hom gevang het. Toe hy die perd vir die keiser terugbring, bedank Napoleon hom met..”Dankie Kaptein..”
Met daardie woorde is die troep bevorder. Toe die keiser dit sê, toe glo die troep dit. Hy het na die Kwartiermeester gegaan en ‘n nuwe uniform gekies, hy het ‘n nuwe bed in die offisierskwartiere gaan kies en toe by die offisiersmenasie gaan eet.
Die keiser het dit gesê, hy het dit geglo en daarvolgens opgetree!

Is dit my en jou storie ook?
Bed-opvat en opstaan? Glo en gaan uitleef?
As ons besluit om te glo soos wat God dit vra, sal dit ons storie wees!
Dit is elkeen van ons se keuse vandag……..!!

Wednesday, January 14, 2009

KRUISIGING STATISTIEKE

Die volgende groot gebeurtenis in die Christen se lewe is die herdenking en dankbaarheids betoning van die kruisiging van Jesus.

• Jesus is op die ouderdom van 33 ter dood veroordeel vir ‘n misdaad wat Hy nie gepleeg het nie.
• Hy is gevonnis om gekruisig te word. Dit was toe die wreedste vorm van teregstelling.
• Die spykers was groot, 15-20 cm lank. Nie rond soos vandag nie maar plat vierkantig.
• Die spykers was deur die polse geslaan en nie soos algemeen aanvaar word deur die handpalms nie.
• Daar is ‘n spier wat van die pols na die skouer strek. Wanner die spykers deur die polse gekap word, skeur hierdie spier af wat veroorsaak dat die liggaam in ‘n regop posisie na vore platval, die lug uit die longe pers en vloei van lug na die longe afsny. Die rugspiere moet dan nou gebruik word om die liggaam regop te bring sodat lug in die longe getrek kan word.
• Om dit reg te kry moes Jesus met daardie twee deurboorde voete teen die spyker trap om te help om die liggaam regop te kry. Die voete kon nie baie stremming vat voordat die vleis begin skeur nie, dus moes Hy net ‘n bietjie trap en dan weer los.
• Dit het Jesus uitgehou vir meer as 3 ure, ja meer as 3 ure het Hy geworstel om asem te kry.
• ‘n Paar minute voor Sy dood was daar nie meer bloed nie en het slegs water uit Sy liggaam geloop.
• Jesus het nie beserings gehad nie, maar wonde, Hy het nie meer bloed in sy liggaam gehad nie, net water. In ‘n volwassene is daar ongeveer 3.5 liter bloed. Dit het Hy alles verloor.
• Hy het drie spykers in Sy liggaam gehad, ‘n doringkroon is op sy kop ingevorseer, sy rug was een bloederige massa geslaan, tot so ‘n mate dat Sy binnegoed sigbaar was deur Sy ribbes en ‘n Romeinse soldaat het Hom met ‘n spies in die sy/bors gesteek.
• Hy is verneder, die skare het op Hom gespoeg en met klippe gegooi terwyl hy die kruis vir amper 2 kilometer moes dra. Blykbaar het net die dwarshout ongeveer 30 kilogram geweeg.

Toe ek hierdie statistiek van Jesus se dood lees, het dit my weer van vooraf aangegryp en opnuut laat besef hoe duur die prys regtig was. ‘n Prys wat Hy bereid was om te betaal vir jou en my. Hoe kan mens Hom ignoreer en niks met hom te doen wil he nie! Hoe kan ons aanhou om die verkeerde ding te doen waarvoor Hy met elke druppel bloed in Sy liggaam betaal het! Hoe kan ons se, “Here U is nie my Verlosser nie”! Hoe kan ons se daar is nie ‘n Vader in die hemel nie!

Hoe kan ons in die waan leef en aan mekaar die leuen van Satan verkondig dat ‘n liefdevolle God nie mense in die hel sal werp nie.

Jesus het sonde geword aan die kruis en God die Vader het SY kop weggedraai toe Sy seun aan die kruis gesterf het. As God toegelaat het dat sy enigste Seun daardie prys betaal, dink jy regtig dat God jou in Sy hemel sal toelaat as daar sonde in jou lewe is.

Moenie agter ‘n liefdevolle God skuil en dink jy sal die hel vryspring in jou staat van sonde nie.

Ag nee! Bely jou sondes en laat staan dit…., verander jou lewe. sodat God nie nodig het om jou in die hel te werp nie!

Tuesday, January 13, 2009

BEGRAFNIS

Wat ‘n morbiede onderwerp om oor te skryf…., of is dit?

My roete na die werk toe gaan verby die plaaslike begraafplaas. Oor ‘n tydperk van jare het ek gesien hoe die plek uitbrei en voller word. Bietjie meer as ‘n jaar gelede het ons ‘n ou vriend van my ook daar gaan begrawe. Renier se laaste rusplekkie is in die laaste ry voor die heining, ek sien dit dus elke dag as ek daar verby ry.

Saterdag oggend so ongeveer 09:10 toe ek so om die draai kom sien ek hordes motors daar by die begraafplaas of kerkhof staan. Eers dag ek dit is ‘n allemintage begrafnis, seker van een of ander hooggeplaaste. Toe ek nader kom sou ek sien dat daar reeds twee ter aarde bestellings aan die gang is. Die derde een se mense is besig om nader te staan en die vierde een is besig om te arriver.

Skielik kom dit by my op ….hoe is die mense dood?.....het hulle afskeid van hulle geliefdes geneem?.....was hulle kwaad vir iemand to hulle gesterf het?......was iemand kwaad vir hulle tydens die sterfte?...was hulle alleen toe hulle gesterf het?....hoe oud was hulle toe hulle gesterf het?..... waar gaan hulle heen noudat hulle gesterf het?

Die dood is mos nie die einde nie, dit is mos net ‘n oorgang na die volgende fase.
Die permanente ewige lewe!

Hier waar ons nou op die ondermaanse is, is net tydelik… miskien so sewentig of tagtig jaar as jy baie sterk is, maar hoe sal ons weet of ons dit regtig tot daardie ouderdom sal maak? Hoe sal ons weet wanneer ons tentpenne uitgetrek gaan word en dit ons tyd is om aan te beweeg.

Dit is nou een ding wat ons nie weet nie, gelukkig bly dit vir ons verborge tot op die regte tyd…!

Waar gaan jy jou ewigelewe deurbring……?

Monday, January 12, 2009

KLIM IN ‘n BOOM

Het jy al daardie uitdrukking gehoor. “ek klim sommer in ‘n boom en verlaat die aard”?

Dit is iets wat gesê word wanneer jy net total keelvol is vir die omstandighede om jou en jy voel jy word gedruk totdat jy dit nie meer kan hou nie.

Dan wil jy weghardloop van alles en almal af en iewers in ‘n gat gaan wegkruip waar jy nie nodig het om alles te hanteer nie.

Hierdie gevoel wel in jou op soms wanneer dit moeilik gaan by die werk! Vernaam nou in hierdie tyd wat die wêreld se ekonomie op sy gesig lê en afleggings almal in alle sektore van die ekonomie in die gesig staar. Ons weet nooit vooraf of dit dalk ek sal wees nie, almal hoop maar om dit vry te spring... Algemene rugstekery is aan die orde van die dag want elkeen veg net vir sy eie plekkie in die son.

Soms wanneer jou huwelik en gesin deur ‘n moeilike fase gaan…, gewoonlik as gevolg van geld…., die gebrek daaraan nooit die oorvloed nie. Dan voel jy asof alles vir jou te veel word.

By die jongmense gaan dit oor gebroke verhoudings…, matriekuitslae…., kry nie werk nie…, kom nie met pa oor die weg nie, kan nie die ouers tevrede stel nie…, ag dan word alles net te veel.

As die storms so om jou woed Dan….. oorweeg jy dit sterk om in die boom te klim…...!!

Moenie alleen voel nie, dit is ook net nie in vandag se dae dat mense so voel nie, daardie gevoel kom al vir baie eeue saam met die mens.

Hoor bietjie wat sê Dawid in Psalm 55:7 - 9 …Ag had ek maar vlerke soos ‘n duif, dan sou ek wegvlieg en wegbly! Kyk ek sou ver wegvlug; ek sou vernag in die woestyn! Gou sou ek vir my ‘n skuilplek soek teen die onstuimige wind, teen die storm.

Dawid is moeg vir die drama in sy lewe en wil nou net wegvlug van alles en almal af… sommer in eensaamheid in die woestyn gaan wegkruip.

Nadat hy ‘n bietjie “gesulk” het kom hy by die oplossing van al sy probleme in vers 17 Maar ek, ek roep God aan, en die Here sal my verlos……….vers 23 Werp jou sorg op die Here, en Hy sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wnkel nie.

Daar! Nou het jy ook die oplossing….., bly liewer uit die boom uit……

Saturday, January 10, 2009

TAALGEBRUIK

Gee net bietjie aandag aan die taalgebruik van ons mense in hulle daaglikse omgang. Of dit nou vrou, man of kind is en of dit nou swart, kleurling, indier of wit is, daar kom woorde uit hulle monde uit wat my soms na asem laat snak. Dit gebeur in restaurante, in privaat huise, by die werk, in die skool, in die voorportaal van die teater en ja selfs op die kerkgronde.


Verwonderd luister ek na mense se gesprekke..... Nie na die inhoud van wat hulle vir mekaar sê nie, want dit is privaat en het niks met my uit te waai nie. Ek luister na hulle woordgebruik, die lelike woorde wat hulle gebruik, ons sal in eenvoudige taal dus sê die vloekwoorde wat hulle gebruik. Dit borrel uit die monde van speenoud tot beenoud sonder in ag neming van andere.


Mense kom nie eers agter hoe vuilbekkig hulle is in hulle normale gesprekke nie, woorde wat by hulle monde uitrol, het al so deel van hulle woordeskat geword dat hulle sinsbou sonder daardie woorde dit net nie sal maak nie.
Dit wil voorkom asof mense net nie ‘n gesprek kan voer sonder om van die “hogere franse” woorde gebruik te maak nie. Partykeer is daar sommer ‘n paar van hulle in dieselfde sin, dit nou net asof daar nie genoeg byvoeglike naamwoorde in die taal is nie.


Soms word daar gebruik gemaak van een of ander vorm van eufemisme sodat die kras woord nie gebruik word nie, want dit klink seker beter op die oor as die ware jakob... maar sonder twyfel weet almal presies wat die person wil sê... Ek praat hier van flippen, jissie ens.

Ja ok! Hierdie is nie vloekwoorde nie maar dit klink darem baie na van daardie lekker rond in die mond woorde wat daagliks in “ordentlike” geselskap gebruik word….. dit is hoekom hulle gebruik word!


Mammie en pappie wat so lekker swets, berispe dadelik vir kleinding as hy in sy onskuld een van daardie woorde gebruik... As mammie en pappie met hulle gesprek voortgaan dan swets hulle weer ewe lustig sonder om ag te slaan op hulle eie taalgebruik. Uiteindelik word die skool , die speelgroepie... of... die buurman se kinders daarvan verdink dat dit die plek is waar hulle onskuldige ou bloedjies al die lelike woorde aanleer..
Daar is deesdae ook nie meer ‘n demper op die manne se woordeskat wanneer hulle in damesgeselskap is nie, want dames gesels lustig saam en gebruik dieselfde woorde as die manne sonder om tweemaal daaroor te dink.
Een van die slegste ding is natuurlik wanneer ‘n kleinding spesifieke woorde deur sy oupa of pa geleer word. Dan wil hulle, hulle so doodlag wanneer kleinding die woord gebruik want dit is mos nou al te fraai...! Dit is nou oulik maar oor ‘n jaar of drie, dan word daardie einste kleinding gestraf wanneer hy dieselfde lelike woord gebruik.


‘n Ander wonderlike ding is natuurlik wanneer ‘n person iets oorvertel wat iemand anders gesê het met al die geur en kleur en die woorde wat hy dalk nie self sou gebruik nie. Verbeel hom dat hy nou vrypas het om daardie woord of woorde te gebruik.


Die taal puriste wil die papies kry omdat ons Afrikaners ons taal so meng met ander tale, maar ek dink die taal kry groter skade met al die vloekwoorde wat gebesig word....... dit is mos nie suiwer Afrikaans nie... of hoe?


Wat se skade doen dit nie aan ons nie, voel jy nie ook vuil en verkrag wanneer jy ‘n dag deurgebring het in die geselskap van mense wat so lekker swets nie? Ons is so gewoond daaraan dat ons die woorde nie eers meer hoor nie omdat dit so algemeen geword het. Ons is ook te skaam om te vra dat ‘n person nie voor ons vloek nie. In werklikheid laat ons hulle toe om ons ore te verkrag sonder om ‘n woord daaroor te sê.


Weet jy, dit is ‘n gruwel in die Here se oë.


NAV - Kol3:8 Maar nou moet julle al hierdie ding laat staan……(onder andere) gevloek. Vuil taal moet nie uit julle mond kom nie.


Kom ons probeer om in die dae wat kom te “luister” hoe ek praat en watter woorde ek gebruik wat andere tot aanstoot kan wees en bowenal skade aan my siel kan bring. Dan begin ons "suiwer" Afrikaans te praat al mix ons dit met Engels



Skynheiligheid is die aanbidding wat sonde aan deug bewys - F.de la Rouchefaucauld-

Thursday, January 8, 2009

AS EK SIT AAN JESUS VOETE

Blaai ek nou die aand deur 'n liedere boekie wat al 'n klompie jare in onbruik verval het. Ek lees so hier en daar en opnuut tref die woorde van hierdie lied my.... Bevestig weer opnuut aan my dat daar 'n plekkie van rus is vir my.. en vir jou. Ons moet net ons kant bring en die eerste stap neem en ons self bereid verklaar om ons te onderwerp aan Sy gesag....!

Maar nouja wie se nekkie staan nie styf en wil nie buig nie....., ons weet mos beter wat is goed vir ons....nou...! Later kom ons miskien onder ander insigte.........

Hoe dit ookal sy, wie ons ookal is, waar ons ookal is, hoe oud ons ookal is, van watter geslag ons ookal is of van watter kleur ons ookal is......! Elke knie sal buig en elke tong bely dat Jesus die Here is.
Rom14:11 So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.


As ek sit aan Jesus voete
Spreek Hy woorde soet tot my,
Beste plek wat ek ontdek het,
Mag dit my aldag daar kry;
As ek sit aan Jesus voete
En ek dink aan al my wee
Dan voel ek Sy troue liefde,
Dwing my om my oor te gee


As ek sit aan Jesus voete
Waar kan sterfling beter kry?
Sondelas bly daar en moeite
Daar is rus en vree vir my,
As ek sit aan Jesus voete
Kan ek bid en antwoord kry,
Uit Sy volheid smaak ek oorvloed
Van genade ryk en vry.


Seën my, o my Heiland seën my,
Aan U voete nederig
Laat U liefde my bestraal, Heer
Toon my daar U aangesig,
Gee my, Heer, die gees van Jesus
Skenk my ook Sy heiligheid.
Mag ek toon ek was by Jesus,
Hy is my geregtigheid

Wednesday, January 7, 2009

WOEDE

Woede is ‘n emosie wat al baie mense in groot moeilikheid laat beland het en kom voor by alle ouderdomme en geslagte.
Woede is ‘n emosie wat ontstaan wanneer ek voel dat ek benadeel word. Dit gaan altyd oor ek, ek, nooit oor jou nie. Ek gee nie ‘n flenter om hoe jy voel nie, net oor hoe ek voel.


Woede is ook ‘n emosie wat nie brieke het nie. As dit eers ontvlam het is daar geen keer aan nie. Dan wil ek net veg en as die eerste hou geval het of die eerste woord van teenstand ge-uiter is, dan is dit soos ‘n rivier wat afkom..., dit sleur almal en alles saam.
Bewaar die person wat inmeng of prober om water op die vuur te gooi, dan het hy ook moeilikheid. As die geveg tussen man en vrou is, het die inmenger nog groter moeilikheid want dan draai man en vrou in ‘n gesamentlike front op hom.


As dit dan uitgewoed het en nie op ‘n tragedie, soos aanranding, moord of gesinsmoord uitgeloop het nie is ons net dankbaar.
Dan volg daardie stil stuipe, “stille diplomasie” wat soms ure, dae en weke aanhou.
Die geveg word oor en oor in ons koppe geveg. Wat het sy gesê.... wat het ek gesê.... ek soek die heeltyd na die regverdiging vir wat ek gesê of gedoen het.. Hy het net gekry waarvoor hy gesoek het...! Dit sal hom leer om nie sy neus in my sake te steek nie...!


‘n Woede uitbarsting is seker nooit sonder ‘n rede nie, maar in bitter min gevalle is die rede regverdigbaar.


As jy voel dat die woede in jou opwel.... tel..1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10 en gaan drink ‘n glas koue water. Dan het jy met oorwinning uit die stryd getree.


Vergewe en vergeet....., dit is beter vir jou siel.

Want die toorn.......bewerk nie geregtigheid voor God nie - Jakobus 1:20


Anger makes you smaller, while forgiveness forces you to grow beyond what you were – Cherrie Carter-Scott

DIE MENS

Psalm 8: 1-3..
Wat is die mens dat U aan hom dink..., U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid bekroon. U laat hom heers oor die werke van U hande; U het alles onder sy voete gestel....., skape.. , beeste.., wilde diere.., visse.., voëls...

As mens hierdie skrif lees, kom jy agter dat jy met nuwe oë na jouself en jou medemens en ons almal se optrede moet kyk. Daar rus ‘n verantwoordelikheid op ons waarvan ons dalk nie weet of besef nie.
Jy sien daar staan nie dat mense ook onder ons voete gestel is nie.., maar dat die Vader my medemens en myself met eer en heerlikheid bekroon het. Ek moet dus op ‘n sekere manier teenoor my medemens en dus ook teenoor myself optree. Die mens word nie in kleure en geure opgedeel nie maar almal word op dieselfde platform gestel en is gelyk
As God die mens met eer en heerlikheid bekroon het hoe kan ek dan so verkeerd teenoor myself en my medemens optree. Dan verbeel ek my mos dat ek beter is as God, dat ek kan optree soos ek wil en dat ek maar kan afbreek en afkraak soos ek wil.
Kom ons tree op soos mense van statuur, soos wat die Psalmdigter sê ons is. Kom ons behandel dit wat deur God aan ons gegee is om oor te heers met respek.


Wat nou van ons medemens?


Hulle is mos nou nie deel van dit waaroor ons aangestel is om te heers nie....!
Ons optrede teenoor ons medemens laat soms veel te wense oor, ons behandel hulle partykeer asof hulle slang bollie is. Ons praat sleg oor hulle, ons sien net altyd die foute raak, ons veroordeel hulle. Ons dink omdat ons meer as hulle het is ons beter as hulle en hoef hulle nie met respek te behandel nie.
Is dit dalk omdat hulle optrede teenoor hulleself en hulle medemens nie is soos wat dit iemand van statuur betaam nie......?
Gee dit ons die reg om te oordeel? Onthou net ons weet nie wat andere van ons dink en sê nie!
Jy sien dit is ‘n tweesnydende swaard......!!
Kom ons tree teenoor andere op soos wat dit ‘n person van statuur betaam en asof daardie person een van statuur is. Iewers in die woord van die Here staan daar dat die een die ander moet voorgaan in eerbetoon. Wie is ons om teen die grein te gaan?


A little consideration, a little thought for others, makes all the difference. - Eeyore

ELKE NUWE DAG

Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees. Psalm 118:24.

Elke nuwe dag bring sy eie lekker met hom saam. Dink nou maar byvoorbeeld aan die pragtige kleure waarmee die Vader die hemelruim verf wanneer die son in die oggend sy kop oor die oosterkim uitsteek. Het jy al opgemerk dat die luggie op sy koudste is net voor die son opkom en dat daar geen skaduwees is nie?
Is dit nie die lekkerste lekker om vroeg oggend die aangesig van die Here te soek nie? Jou hart voor Hom stil te maak en sy aangesig te soek voordat jou dagtaak begin nie? Alles is nog stil…. die gejaag van die dag het nog nie begin nie. Fyn te luister na Sy stem om te hoor wat Hy vir jou wil sê hier aan die begin van die nuwe dag. Jou te waarsku teen die versoekings wat jou in die dag gaan pla.
Jy kan rustig met Hom begin gesels soos met ‘n vriend, want Hy is jou vriend, jy kan jou hart leegmaak voor Hom. Alhoewel die Here al jou behoeftes en versugtinge ken nog voordat jy dit vir Hom vertel, moet jy steeds jou hart voor Hom uitstort. Hy wil hê ons moet dit doen. Dit gaan nie net oor die groot dinge nie maar ook oor die klein dingetjies, jy kan selfs jou bekommernis oor ‘n plantjie wat nie wil groei nie, teenoor Hom uitspreek.
Dit is so lekker om met Hom te gesels en in Sy woord te delf, dat die tyd wat jy met Hom spandeer amper te kort is. Jy moet jou losskeur van Sy teenwoordigeid af om met jou daaglikse take voort te gaan…. maar dan het jy wind onder jou vlerke en kan jy jou dagtaak voltooi in Sy leiding.
Is dit nie die lekkerste lekker om by die werk in te stap en jou kollegas met ‘n vriendelike gesig en ‘n Jesus glimlag te groet nie? Het jy al gesien hoe verander hulle gesigsuitdrukkings as jy dit doen?
Weet jy hoe lekker kom jy deur jou werkdag as jy die dag by Jesus begin het...,dit is asof alles net makliker gaan!
Kom ons maak ‘n besluit om elke dag met Jesus te begin, staan daardie paar minute vroeër op en ruim tyd in om met die Here te gesels. Moenie verskonings maak nie.
An excuse is worse and more terrible than a lie; for an excuse is a lie guarded – Alexander Pope
GEBED
Dankie Here dat daar aan die einde van elke moeilike dag ‘n tydperk van rus aanbreek waartydens my batterye gelaai word. Here U het die dag en die nag gemaak met ‘n doel Dankie Heer dat u die rede is hoekom ek elke oggend kan opstaan om die nuwe dag in U naam te begin.
Amen

Tuesday, January 6, 2009

HARDLOOP JY WEG

Het jy nou onlangs ‘n paar minute van jou besige skedule geneem om tyd te maak vir jouself?
Of, is jy dalk ook soos ek was, te bang om tyd te maak vir jouself?
Net vir ‘n oomblikkie tot stilstand te kom en vas te stel of jou lewe nog op koers is?
Jy weet, mens raak so besig met allerhande dinge, dat jy vergeet van jouself en waar jy in die prentjie inpas. Dit is ‘n loopbaan volg, trou, aan jou huwelik werk, kinders grootmaak sosiale verpligtinge, ens. ens. Jy is altyd besig om iets te doen waar ander mense ‘n rol in speel.

Veronderstel, jy sit daar vêr in die veld op ‘n klip onder ‘n boom en dit is doodstil. Jy neem jou hele lewe in oënskou:
Is jy tevrede met jou lewe tot hier toe?
Het jy bereik wat jy wou?
Is jy vervuld?
Het jy ‘n verlange na iets?
Maak al daardie “dinge” wat jy doen jou gelukkig?
Is jy eensaam te midde van alles wat jy doen?
Hardloop jy dalk van jouself en jou gedagtes af weg?

Haai man, kom tot stilstand.

Doen ‘n voorraad opname.”kyk” na jou lewe tot op datum. Om aan te gaan soos op die oomblik, hoef jy niks te doen nie.
Vir ‘n beter en vervulde lewe moet jy ‘n daadwerklike besluit neem om iets te verander

Nou onlangs het my pad gekruis met ‘n persoon wat vir 15 jaar onskuldig tronk toe gestuur is vir moord. Dit is nou die mees positiewe mens wat ek in ‘n baie lang tyd ontmoed het.
Van ‘n persoon wat op die punt gestaan het om sy slagare af te sny..., die bloed het al begin loop, het hy verander in ‘n persoon wat wat bruikbaar is vir die samelewing en vir ander mense en bowenal vir God.

Nou wat is anders aan hom dat hy nou skierlik bruikbaar geword het?


My dierbare vriend/vriendin, elkeen van ons word gebore met ’n “gat” in ons “hart”. ‘n Gat wat ons so pla, dat ons van jongs af rondhardloop en soek na iets om die gat mee te vul. Ons probeer enige iets om die gat mee toe te stop. Plesier, drank, verdowingsmiddels, voor huwelikse seks, en dan na die huwelik, buite egtelike verhoudings, dobbel ens., ens. Ons probeer van jongs af in wees by ons maats. Ons jaag die klatergoud na, in die hoop dat dit die gat sal kan toe stop, die leemte vul.

Helaas, al probeer ons hoe hard, dit gebeur nie. Daardie gat bly daar, trouens met die jare word die gat groter soos ons dit rek om allerhande tydelike goed daar in te stop om dit te probeer vul. Eers was een bier genoeg, nou is dit ’n bottel brandewyn. Eers was een partytjie per maand genoeg, nou is dit elke aand. Eers was een pilletjie genoeg, nou is dit ’n spuitnaald...

Ek vra jou weer. As jy nou daar iewers in die veld, stok siel alleen op ’n klip sit, ver verwyder van die alle daagse.

Is jy tevrede met jou lewe?

Ek praat nie van hoeveel geld jy in die bank het nie, of hoe nuut en hoe blink jou motor is nie. Hoe hoog jy op die suksesleer in jou loopbaan geklim het nie. Hoeveel vriende jy het nie. Hoeveel keer jy al getroud en geskei was nie. Hoeveel doppe jy kan drink voordat jy neerslaan nie. Hoe dikwels jy op ’n trip gaan nie. By hoeveel meisies jy al geslaap het nie.

Ek praat van jou as mens, gestroop van al die dinge waarmee jy jou omring. Al die ding wat jy dink jou gelukkig maak.
Net jy..!
Is jy tevrede met jouself?
As jy jou lewe kan oor kry sal jy alles presies doen soos jy dit tot dusver gedoen het?
Sal jy dieselfde verhoudings met mense bou?

Is jy ’n vervuld persoon?

Ek wil jou vra, hoe lyk jou verhouding met jou kinders?

Vriend, as jou seun presies in jou voetspore volg en alles presies doen soos jyself, sal jy tevrede en trots op hom wees?

Vriendin, as jou dogter doen wat jy doen en gedoen het, sal dit jou goedkeuring wegdra?

Weet jy, ek was ook al op daardie plek waar ek gestroop van alles, oor my lewe moes nadink. Wat ek gesien het was nie ’n mooi prentjie nie. Ek was nie trots op wat ek bereik het nie, ek was nie vervuld met wat ek gedoen het nie, trouens ek moes my kop in skaamte laat sak toe ek besef het ek het niks om na te laat nie. My lewe was soos om pêrels voor die varke te gooi, dit is vertrap en daar het niks van oorgebly nie. My verhouding met die mense rondom my was swak. Ek het mense vertrap en niks vir my medemens gevoel nie. Ek het skielik tot die besef gekom dat alles was net ’n gejaag na wind. Klatergoud, sinlike genot, alles het net om myself gedraai. My eie ego was ’n groot monster wat aanmekaar gevoed moes word, sonder ophou. Dit het al meer gevra, dag vir dag. Ek kon nie byhou nie.

Nadat ek behoorlik voorraadopname van my lewe gedoen het, het ek opnuut besef dat daar net een oplossing vir my is. Dit is om terug te keer na die basiese ding, daardie dinge wat ek aan moedersknie geleer het, daardie dinge wat ek lankgelede al afgeskryf het as outyds, nie vir my nie. Daardie dinge wat die fondament is waarop my lewe gebou moes gewees het maar wat ek eenkant toe geskop het in my haas om my eie lewe te lei. My eie ding te doen, want ek is mos nou groot ek het die regte ouderdom bereik om my eie vlerke te sprei en te vlieg waarheen ek wil sonder om aan iemand verantwoordelik te wees.

Ja, daardie dag wat die vlerke moeg geklap is en jy besef dit kon jou net mooi nerens heen vat nie en jy noodgedwonge moet sit en wonder.... wat nou...?
Dan, kom daar so ’n sagte fluistering in jou gewete, ’n stemmetjie wat met jou praat... sag, nie opdringerig nie.... jy kan jou nie opruk daaroor nie... sag, met liefde.., sag, met afwagting.....”.Het jy vandag jou Bybel gelees en ook gebid”.

Dit is dan wat jy besef jy het nie eers meer ’n Bybel nie en jy het ook nie woorde om te bid nie, jy weet nie hoe nie....

Ma en Pa lewe nie meer nie, waar gaan ek heen om te vra.....en as hulle nog gelewe het sou hulle bereid wees om met my te praat?

Naarstigtelik krap jy in jou geheue rond. Wat het Ma en Pa my nou weer geleer van die Bybel? Adam en Eva.... nee dit sal my nie help nie. Geduldige Job.....nee ook nie. Dawid en Jonathan.....nee.
Wag, wag, daar was mos iemand wat aan die kruis gesterf het.... as ek reg is.

Stadig kom die onthou terug. Die God mens, Jesus het aan die kruis gesterf vir die mens se sonde. Ja maar dit was net vir die Jode en dit is ligjare gelede, dit is nie op my van toepassing nie.

Die sagte fluistering is terug..., “God het jou so lief dat Hy Sy Seun terwille van jou laat doodmaak het om vir jou en elke ander persoon op die aarde die weg te baan om met God vrede te maak.”

Ook vir my...? Maar wat help dit my nou hier waar ek aan die einde van alles gekom het?

Fluistering....steeds sag... ! “Daardie leegheid in jou, dit moet gevul word. Al die jare het jy rondgehardloop opsoek na iets en wat het dit jou in die sak gebring...? Kom na My toe, as jy moeg en oorlaai is Ek sal jou rus gee....! Ek sal jou rus gee....!” Ego dit in jou gedagtes.

Here ek is moeg...., trane wat spoortjies maak op jou wange en in jou klere wegraak, .......ek wil ook rus hê?

Die Bloed, die Bloed die fontein van bloed wat lewe gee. Die doring kroon wat in die Vlees wegsink en straaljies bloed wat teen Sy hoof afloop. Sy liggaam stukkend geslaan die binnegoed sigbaar tussen die gestroopte ribbes. Sy voete glyend in Sy eie bloed soos Hy probeer om regop te bly. Daardie oë wat so vol liefde na Sy medemens kyk, het nou vervlou van die pyn.

Die Herder is alleen... Sy volgelinge het uitmekaar gespat Hy is alleen dit is net Hy wat die prys kan betaal wat die versoening kan bewerkstellig... dit is net Hy alleen.

Die swaar hout van die kruis sny in die bebloede en voosgeslane skouers in.. dit is swaar, Hy struikel en dit druk Hom op sy knieë neer. Hy word soos ’n dier aangepor om op te staan.. Hy wankel en land weer op die stukkend knieë. Die bloedspoor wys die pad waarlangs hulle gekom het. Die skare raas, hulle is bloeddorstig kruisig Hom...kruisig Hom...

‘Here....(snikkend).., ek is jammer dat U dit alles terwille van my moes deurgemaak het. Ek is jammer dat ek my eie pad begin loop het, ek is jammer vir elke verkeerde ding wat ek in my lewe gedoen het, ek is jammer vir elke persoon wat ek te na gekom het, ek is jammer omdat ek liefdeloos teenoor my medemens opgetree het. Ag Here.., my lewe is in totale chaos, my huwelik is op die rotse, niks is reg nie, ek is koud en moeg.....!” Trane, selfverwyt, ek moes nie....., alles het te moeilik geword. Hoe gaan ek regmaak wat ek verbrou het? Vergewe my...? Gedagtes wil nie stilstaan nie. Oomblikke word minute , minute word ure.........die loutering en die genesing is besig om plaas te vind....!

Dan kom die berusting, jy kan weer asemhaal, hoekom voel jy nou anders, jy voel ligter, jy voel soos lank gelede toe alles nog reg was. Jy het vrede gemaak jy het die Weg ontdek. Daardie hart van klip is weg, daar is liefde in jou hart. Jy voel soos die verlore seun wat tuis gekom het, jy voel Vader se arms om jou. Ja vir die eerste keer het jy waarlik tuisgekom, jy het rus gevind....

Dankie Here, U het my aangeraak. Ek het verander ek is ’n nuwe skepsel. Deur u genade het ek diensbaar geword.

Haai, hardloop jy nog weg?

Monday, January 5, 2009

LAAT INSKRYWING

Hierdie is eintlik geskryf vir Nimsie se blog, maar as gevolg van 'n probleem kon sy dit nie gebruik nie, nou probeer ek dit maar al hier verewig



Wat beteken Kersfees – Toeka en Nou

Desember, dis warm en die aanloop tot Kersfees is uitputtend want Ma is besig om allerhande lekkernye te maak vir daardie groot dag.

Die Ellis de Lux koolstoof is al van vroeg af gestook wat die kombuis nog warmer maak. Daardie jare was daar of nog nie elektriese stowe nie of ons was te arm om een te bekostig!
Die meuletjie is aan die tafel vasgeskroef en ek is opgekommandeer om die draaiwerk te doen terwyl ma die koekiedeeg wat aan die anderkant uitkom op ‘n stuk dubbel gevoude bruinpapier vang. Die papier het al sulke vetterige kolle op wat ‘n teken dat daar al baie koekies voor vandag daarop gevang is. My draaispoed en ma se vangspoed moet dieselfde wees anders word die ou degie wat uitkom, of op ‘n hoop gedruk of dit word so ‘n lang maer stukkie deeg op die papier , wat dan weer terug in die meuletjie gaan. Wanneer ma die reep bruinpapier met die koekiedeeg plat op die tafel neerlê, sny sy die deeg in ewe lang stukkies wat dan op ‘n plat bakpan gepak word en oond toe gaan. Terwyl die koekies gaar word, word die proses herhaal vir die volgende baksel.

Daar word verskillende koekies op die manier gebak, koffiekoekies, kondensmelkkoekies, wat dan later as hulle afgekoel het opmekaar geplak word voordat dit in die blikke met die mooi prentjies op die deksels gepak word vir die groot feesdag . Later word gemmerkoekies met ronde uitdrukkers gemaak en gebak en moenie praat van die konfyttertjies , suurroomterjies en appelkooskoekies nie.

Daar word ook nog voor die tyd gemmerbier gemaak in sulke ronde 1 gallon klipkanne met een oor. Wanneer die prop opgesit word, word dit met ‘n lyn vasgemaak sodat die prop nie kan afskied tydens die gistings proses nie.

Wanneer Kersdag aanbreek kom al die ooms en tannies, neefs en niggies by Ouma en Oupa op Greylingstad bymekaar. Omdat almal binne ry afstand gewoon het, het die eerstes al hier by 06:00 opgedaag. Dan is oor en weer gegroet en die geskenke is uitgedeel. Ons kinders het so deur die oggend ‘n paar keer kersfees gevier want elke keer wanneer ‘n ander huisgesin opdaag is hulle geskenke weer uitgedeel. Daardie jare het almal nog vir almal geskenke gekoop.


Daardie jare het Kersfees dieselfde beteken as vandag, ons het dit net baie anders beleef. Van kerktoe gaan was daar geen sprake nie, trouens ek weet nie eers of daar op Kersdag dienste was nie.

As kinders het dit vir ons geskenke en speelgoed beteken, wat dit vir die grootmense beteken het het ek geen idée gehad nie.

Gelukkig word ‘n mens groot en kry jy verstand en op ‘n dag maak die Liewe Vader in die hemel jou verstand oop sodat jy met nuwe oë na die wêreld om jou kyk en jy besef dat Kersfees nie net oor geskenke gaan nie.

Kersfees gaan oor DIE GESKENK wat deur die Vader aan die wêreld gegee is. Ons was minder bevoorreg nadat die sondeval in die Paradys gebeur het.

Dink net vir een oomblik hoe moes die Vader gevoel het om sy enigste Seun na die wêreld te stuur welwetende dat Hy so verniel sou word.

Aan die einde van elke geboorte moet daar ‘n sterfte en ‘n graf wees, want elke begin het ‘n einde.

Die geboorte van Jesus het egter hierdie stelling kom omkeer, Die fees van die geboorte van Jesus het alles kom verander, daar is nie meer dood nie tensy jy dit self kies om dood te gaan.

Jesus se geboorte beteken vir ons lewe en lewe in oorvloed as ons hierdie GESKENK wat die Vader vir ons gestuur het ontvang en eienaarskap daarvan neem dan is die dood sonder angel en nie meer ‘n faktor nie Die Vader het oneindig baie liefde vir jou en my gehad om hierdie Geskenk vir ons te stuur. Hierdie selfde liefde moet ons aan ons medemens betoon ongeag.

Die geskenk Jesus is in ‘n tyd van donkies en kamele vir ons gestuur, maar is vandag in die era van motorkarre, rekenaars en ipods nog net so relevant as toe. Trouens in vandag se tyd is Hy nog meer relevant want ons luister nie meer soos die skaapwagters na die engele geluister het nie, ons sien nie meer die ster soos die wysemanne uit die ooste nie. Nee ons lewe bestaan uit ‘n gejaag na wind, ons het nie tyd om tot stilstand te kom nie en te luister en te kyk nie, en as ons luister en kyk, is radio of televisie wat ons oordonder met alles wat ons kan koop.

Jingle Bells, Jingle Bells. Ho, Ho, Ho, kom kyk net na hierdie winskopie, daardie is ‘n moet…, koop nou en betaal later…, die rook trek uit die plastiek soos ons die kaarte swipe. Daar is nog laaste minute inkopies om te doen, ons moet behoorlik by winkelsluiting op die 24ste uitgegooi word want ons kry nie genoeg geshop nie …. Shop till you drop … is ons leuse.

Kom tot stilstand in Kersfeestyd 2008 en dink vir ‘n oomblik waaroor dit regtig gaan.

Liefde, empatie en sondeloosheid.

As die sonde voor jou hang en jou uitdaag om ‘n proe te vat…., moenie…, neem eerder die Jesus geskenk aan troetel en dien Hom in jou lewe.

Dis Kersfeestyd regoor die wêreld…. hoor ons heeldag oor die radio.

Waaroor gaan Kersfeestyd?

Dit gaan oor een mens, die God Mens Jesus Christus.

EERSTE WERKDAG VAN DIE NUWE JAAR

5 Januarie 2009..... Ja, so breek die eerste werksdag van die nuwe jaar toe nou uiteindelik aan.

Toe die wekker vanoggend 05:00 lui, is dit nie maklik om my lyf betyds uit die bed te kry nie, sien, sedert 21 Oktober verlede jaar het ek ook nou maar geleer om laat te slaap.

Eers was dit mos die heupvervanging en toe is ek met verlof. Regtig sleg geword in die afgelope aantal weke.

Stap ek vanoggend in my kantoor in..., berge val op my.... Ek stoei behoorlik my pad oop om by die lessenaar uit te kom. Dit lyk asof almal maar net bo-op neergesit het sedert ek laas op kantoor was. Niks van die daaglikse papieroorlog is geveg tydens my verlof nie.

Die rekenaarstelsels het gelukkig goed geloop in my afwesigheid. 'n Paar keer moes ek telefonies maar uithelp en voorsê wat om te doen toe die kalf in die put geval het. Enkeer op die rit Swaziland toe, by Middelburg se Shell Ultra City vir 45 minute op die telefoon gesit om die probleem opgelos te kry. Slaat my dood maar mens kan soms sukkel as die rekenaar nie voor jou is nie en die ander ou is nie geletterd in die program waarmee mens hom moet help nie.

Waar is die dae toe daar aflos personeel was wat jou werk doen en op datum hou as jy vir een of ander rede nie by die werk is nie.

Gelukkig het ek die eerste dag oorleef.., my as afgewerk, hier en daar kortpad gevat, en die dringendste take eerste verrig. Sal maar soos die dae aanstap die res van die ou papier oorlog veg topdat alles op datum is.