Wednesday, January 7, 2009

ELKE NUWE DAG

Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees. Psalm 118:24.

Elke nuwe dag bring sy eie lekker met hom saam. Dink nou maar byvoorbeeld aan die pragtige kleure waarmee die Vader die hemelruim verf wanneer die son in die oggend sy kop oor die oosterkim uitsteek. Het jy al opgemerk dat die luggie op sy koudste is net voor die son opkom en dat daar geen skaduwees is nie?
Is dit nie die lekkerste lekker om vroeg oggend die aangesig van die Here te soek nie? Jou hart voor Hom stil te maak en sy aangesig te soek voordat jou dagtaak begin nie? Alles is nog stil…. die gejaag van die dag het nog nie begin nie. Fyn te luister na Sy stem om te hoor wat Hy vir jou wil sê hier aan die begin van die nuwe dag. Jou te waarsku teen die versoekings wat jou in die dag gaan pla.
Jy kan rustig met Hom begin gesels soos met ‘n vriend, want Hy is jou vriend, jy kan jou hart leegmaak voor Hom. Alhoewel die Here al jou behoeftes en versugtinge ken nog voordat jy dit vir Hom vertel, moet jy steeds jou hart voor Hom uitstort. Hy wil hê ons moet dit doen. Dit gaan nie net oor die groot dinge nie maar ook oor die klein dingetjies, jy kan selfs jou bekommernis oor ‘n plantjie wat nie wil groei nie, teenoor Hom uitspreek.
Dit is so lekker om met Hom te gesels en in Sy woord te delf, dat die tyd wat jy met Hom spandeer amper te kort is. Jy moet jou losskeur van Sy teenwoordigeid af om met jou daaglikse take voort te gaan…. maar dan het jy wind onder jou vlerke en kan jy jou dagtaak voltooi in Sy leiding.
Is dit nie die lekkerste lekker om by die werk in te stap en jou kollegas met ‘n vriendelike gesig en ‘n Jesus glimlag te groet nie? Het jy al gesien hoe verander hulle gesigsuitdrukkings as jy dit doen?
Weet jy hoe lekker kom jy deur jou werkdag as jy die dag by Jesus begin het...,dit is asof alles net makliker gaan!
Kom ons maak ‘n besluit om elke dag met Jesus te begin, staan daardie paar minute vroeër op en ruim tyd in om met die Here te gesels. Moenie verskonings maak nie.
An excuse is worse and more terrible than a lie; for an excuse is a lie guarded – Alexander Pope
GEBED
Dankie Here dat daar aan die einde van elke moeilike dag ‘n tydperk van rus aanbreek waartydens my batterye gelaai word. Here U het die dag en die nag gemaak met ‘n doel Dankie Heer dat u die rede is hoekom ek elke oggend kan opstaan om die nuwe dag in U naam te begin.
Amen

1 comment:

Nimsi se Blog said...

Baie Geluk Oom Petrus met jou prag blog. Jy mag nooit ooit ophou hiermee nie. Ek het nou heerlik gekuier hier.
Liefde
Nimsie