Tuesday, January 6, 2009

HARDLOOP JY WEG

Het jy nou onlangs ‘n paar minute van jou besige skedule geneem om tyd te maak vir jouself?
Of, is jy dalk ook soos ek was, te bang om tyd te maak vir jouself?
Net vir ‘n oomblikkie tot stilstand te kom en vas te stel of jou lewe nog op koers is?
Jy weet, mens raak so besig met allerhande dinge, dat jy vergeet van jouself en waar jy in die prentjie inpas. Dit is ‘n loopbaan volg, trou, aan jou huwelik werk, kinders grootmaak sosiale verpligtinge, ens. ens. Jy is altyd besig om iets te doen waar ander mense ‘n rol in speel.

Veronderstel, jy sit daar vêr in die veld op ‘n klip onder ‘n boom en dit is doodstil. Jy neem jou hele lewe in oënskou:
Is jy tevrede met jou lewe tot hier toe?
Het jy bereik wat jy wou?
Is jy vervuld?
Het jy ‘n verlange na iets?
Maak al daardie “dinge” wat jy doen jou gelukkig?
Is jy eensaam te midde van alles wat jy doen?
Hardloop jy dalk van jouself en jou gedagtes af weg?

Haai man, kom tot stilstand.

Doen ‘n voorraad opname.”kyk” na jou lewe tot op datum. Om aan te gaan soos op die oomblik, hoef jy niks te doen nie.
Vir ‘n beter en vervulde lewe moet jy ‘n daadwerklike besluit neem om iets te verander

Nou onlangs het my pad gekruis met ‘n persoon wat vir 15 jaar onskuldig tronk toe gestuur is vir moord. Dit is nou die mees positiewe mens wat ek in ‘n baie lang tyd ontmoed het.
Van ‘n persoon wat op die punt gestaan het om sy slagare af te sny..., die bloed het al begin loop, het hy verander in ‘n persoon wat wat bruikbaar is vir die samelewing en vir ander mense en bowenal vir God.

Nou wat is anders aan hom dat hy nou skierlik bruikbaar geword het?


My dierbare vriend/vriendin, elkeen van ons word gebore met ’n “gat” in ons “hart”. ‘n Gat wat ons so pla, dat ons van jongs af rondhardloop en soek na iets om die gat mee te vul. Ons probeer enige iets om die gat mee toe te stop. Plesier, drank, verdowingsmiddels, voor huwelikse seks, en dan na die huwelik, buite egtelike verhoudings, dobbel ens., ens. Ons probeer van jongs af in wees by ons maats. Ons jaag die klatergoud na, in die hoop dat dit die gat sal kan toe stop, die leemte vul.

Helaas, al probeer ons hoe hard, dit gebeur nie. Daardie gat bly daar, trouens met die jare word die gat groter soos ons dit rek om allerhande tydelike goed daar in te stop om dit te probeer vul. Eers was een bier genoeg, nou is dit ’n bottel brandewyn. Eers was een partytjie per maand genoeg, nou is dit elke aand. Eers was een pilletjie genoeg, nou is dit ’n spuitnaald...

Ek vra jou weer. As jy nou daar iewers in die veld, stok siel alleen op ’n klip sit, ver verwyder van die alle daagse.

Is jy tevrede met jou lewe?

Ek praat nie van hoeveel geld jy in die bank het nie, of hoe nuut en hoe blink jou motor is nie. Hoe hoog jy op die suksesleer in jou loopbaan geklim het nie. Hoeveel vriende jy het nie. Hoeveel keer jy al getroud en geskei was nie. Hoeveel doppe jy kan drink voordat jy neerslaan nie. Hoe dikwels jy op ’n trip gaan nie. By hoeveel meisies jy al geslaap het nie.

Ek praat van jou as mens, gestroop van al die dinge waarmee jy jou omring. Al die ding wat jy dink jou gelukkig maak.
Net jy..!
Is jy tevrede met jouself?
As jy jou lewe kan oor kry sal jy alles presies doen soos jy dit tot dusver gedoen het?
Sal jy dieselfde verhoudings met mense bou?

Is jy ’n vervuld persoon?

Ek wil jou vra, hoe lyk jou verhouding met jou kinders?

Vriend, as jou seun presies in jou voetspore volg en alles presies doen soos jyself, sal jy tevrede en trots op hom wees?

Vriendin, as jou dogter doen wat jy doen en gedoen het, sal dit jou goedkeuring wegdra?

Weet jy, ek was ook al op daardie plek waar ek gestroop van alles, oor my lewe moes nadink. Wat ek gesien het was nie ’n mooi prentjie nie. Ek was nie trots op wat ek bereik het nie, ek was nie vervuld met wat ek gedoen het nie, trouens ek moes my kop in skaamte laat sak toe ek besef het ek het niks om na te laat nie. My lewe was soos om pêrels voor die varke te gooi, dit is vertrap en daar het niks van oorgebly nie. My verhouding met die mense rondom my was swak. Ek het mense vertrap en niks vir my medemens gevoel nie. Ek het skielik tot die besef gekom dat alles was net ’n gejaag na wind. Klatergoud, sinlike genot, alles het net om myself gedraai. My eie ego was ’n groot monster wat aanmekaar gevoed moes word, sonder ophou. Dit het al meer gevra, dag vir dag. Ek kon nie byhou nie.

Nadat ek behoorlik voorraadopname van my lewe gedoen het, het ek opnuut besef dat daar net een oplossing vir my is. Dit is om terug te keer na die basiese ding, daardie dinge wat ek aan moedersknie geleer het, daardie dinge wat ek lankgelede al afgeskryf het as outyds, nie vir my nie. Daardie dinge wat die fondament is waarop my lewe gebou moes gewees het maar wat ek eenkant toe geskop het in my haas om my eie lewe te lei. My eie ding te doen, want ek is mos nou groot ek het die regte ouderdom bereik om my eie vlerke te sprei en te vlieg waarheen ek wil sonder om aan iemand verantwoordelik te wees.

Ja, daardie dag wat die vlerke moeg geklap is en jy besef dit kon jou net mooi nerens heen vat nie en jy noodgedwonge moet sit en wonder.... wat nou...?
Dan, kom daar so ’n sagte fluistering in jou gewete, ’n stemmetjie wat met jou praat... sag, nie opdringerig nie.... jy kan jou nie opruk daaroor nie... sag, met liefde.., sag, met afwagting.....”.Het jy vandag jou Bybel gelees en ook gebid”.

Dit is dan wat jy besef jy het nie eers meer ’n Bybel nie en jy het ook nie woorde om te bid nie, jy weet nie hoe nie....

Ma en Pa lewe nie meer nie, waar gaan ek heen om te vra.....en as hulle nog gelewe het sou hulle bereid wees om met my te praat?

Naarstigtelik krap jy in jou geheue rond. Wat het Ma en Pa my nou weer geleer van die Bybel? Adam en Eva.... nee dit sal my nie help nie. Geduldige Job.....nee ook nie. Dawid en Jonathan.....nee.
Wag, wag, daar was mos iemand wat aan die kruis gesterf het.... as ek reg is.

Stadig kom die onthou terug. Die God mens, Jesus het aan die kruis gesterf vir die mens se sonde. Ja maar dit was net vir die Jode en dit is ligjare gelede, dit is nie op my van toepassing nie.

Die sagte fluistering is terug..., “God het jou so lief dat Hy Sy Seun terwille van jou laat doodmaak het om vir jou en elke ander persoon op die aarde die weg te baan om met God vrede te maak.”

Ook vir my...? Maar wat help dit my nou hier waar ek aan die einde van alles gekom het?

Fluistering....steeds sag... ! “Daardie leegheid in jou, dit moet gevul word. Al die jare het jy rondgehardloop opsoek na iets en wat het dit jou in die sak gebring...? Kom na My toe, as jy moeg en oorlaai is Ek sal jou rus gee....! Ek sal jou rus gee....!” Ego dit in jou gedagtes.

Here ek is moeg...., trane wat spoortjies maak op jou wange en in jou klere wegraak, .......ek wil ook rus hê?

Die Bloed, die Bloed die fontein van bloed wat lewe gee. Die doring kroon wat in die Vlees wegsink en straaljies bloed wat teen Sy hoof afloop. Sy liggaam stukkend geslaan die binnegoed sigbaar tussen die gestroopte ribbes. Sy voete glyend in Sy eie bloed soos Hy probeer om regop te bly. Daardie oë wat so vol liefde na Sy medemens kyk, het nou vervlou van die pyn.

Die Herder is alleen... Sy volgelinge het uitmekaar gespat Hy is alleen dit is net Hy wat die prys kan betaal wat die versoening kan bewerkstellig... dit is net Hy alleen.

Die swaar hout van die kruis sny in die bebloede en voosgeslane skouers in.. dit is swaar, Hy struikel en dit druk Hom op sy knieë neer. Hy word soos ’n dier aangepor om op te staan.. Hy wankel en land weer op die stukkend knieë. Die bloedspoor wys die pad waarlangs hulle gekom het. Die skare raas, hulle is bloeddorstig kruisig Hom...kruisig Hom...

‘Here....(snikkend).., ek is jammer dat U dit alles terwille van my moes deurgemaak het. Ek is jammer dat ek my eie pad begin loop het, ek is jammer vir elke verkeerde ding wat ek in my lewe gedoen het, ek is jammer vir elke persoon wat ek te na gekom het, ek is jammer omdat ek liefdeloos teenoor my medemens opgetree het. Ag Here.., my lewe is in totale chaos, my huwelik is op die rotse, niks is reg nie, ek is koud en moeg.....!” Trane, selfverwyt, ek moes nie....., alles het te moeilik geword. Hoe gaan ek regmaak wat ek verbrou het? Vergewe my...? Gedagtes wil nie stilstaan nie. Oomblikke word minute , minute word ure.........die loutering en die genesing is besig om plaas te vind....!

Dan kom die berusting, jy kan weer asemhaal, hoekom voel jy nou anders, jy voel ligter, jy voel soos lank gelede toe alles nog reg was. Jy het vrede gemaak jy het die Weg ontdek. Daardie hart van klip is weg, daar is liefde in jou hart. Jy voel soos die verlore seun wat tuis gekom het, jy voel Vader se arms om jou. Ja vir die eerste keer het jy waarlik tuisgekom, jy het rus gevind....

Dankie Here, U het my aangeraak. Ek het verander ek is ’n nuwe skepsel. Deur u genade het ek diensbaar geword.

Haai, hardloop jy nog weg?

No comments: