Saturday, January 10, 2009

TAALGEBRUIK

Gee net bietjie aandag aan die taalgebruik van ons mense in hulle daaglikse omgang. Of dit nou vrou, man of kind is en of dit nou swart, kleurling, indier of wit is, daar kom woorde uit hulle monde uit wat my soms na asem laat snak. Dit gebeur in restaurante, in privaat huise, by die werk, in die skool, in die voorportaal van die teater en ja selfs op die kerkgronde.


Verwonderd luister ek na mense se gesprekke..... Nie na die inhoud van wat hulle vir mekaar sê nie, want dit is privaat en het niks met my uit te waai nie. Ek luister na hulle woordgebruik, die lelike woorde wat hulle gebruik, ons sal in eenvoudige taal dus sê die vloekwoorde wat hulle gebruik. Dit borrel uit die monde van speenoud tot beenoud sonder in ag neming van andere.


Mense kom nie eers agter hoe vuilbekkig hulle is in hulle normale gesprekke nie, woorde wat by hulle monde uitrol, het al so deel van hulle woordeskat geword dat hulle sinsbou sonder daardie woorde dit net nie sal maak nie.
Dit wil voorkom asof mense net nie ‘n gesprek kan voer sonder om van die “hogere franse” woorde gebruik te maak nie. Partykeer is daar sommer ‘n paar van hulle in dieselfde sin, dit nou net asof daar nie genoeg byvoeglike naamwoorde in die taal is nie.


Soms word daar gebruik gemaak van een of ander vorm van eufemisme sodat die kras woord nie gebruik word nie, want dit klink seker beter op die oor as die ware jakob... maar sonder twyfel weet almal presies wat die person wil sê... Ek praat hier van flippen, jissie ens.

Ja ok! Hierdie is nie vloekwoorde nie maar dit klink darem baie na van daardie lekker rond in die mond woorde wat daagliks in “ordentlike” geselskap gebruik word….. dit is hoekom hulle gebruik word!


Mammie en pappie wat so lekker swets, berispe dadelik vir kleinding as hy in sy onskuld een van daardie woorde gebruik... As mammie en pappie met hulle gesprek voortgaan dan swets hulle weer ewe lustig sonder om ag te slaan op hulle eie taalgebruik. Uiteindelik word die skool , die speelgroepie... of... die buurman se kinders daarvan verdink dat dit die plek is waar hulle onskuldige ou bloedjies al die lelike woorde aanleer..
Daar is deesdae ook nie meer ‘n demper op die manne se woordeskat wanneer hulle in damesgeselskap is nie, want dames gesels lustig saam en gebruik dieselfde woorde as die manne sonder om tweemaal daaroor te dink.
Een van die slegste ding is natuurlik wanneer ‘n kleinding spesifieke woorde deur sy oupa of pa geleer word. Dan wil hulle, hulle so doodlag wanneer kleinding die woord gebruik want dit is mos nou al te fraai...! Dit is nou oulik maar oor ‘n jaar of drie, dan word daardie einste kleinding gestraf wanneer hy dieselfde lelike woord gebruik.


‘n Ander wonderlike ding is natuurlik wanneer ‘n person iets oorvertel wat iemand anders gesê het met al die geur en kleur en die woorde wat hy dalk nie self sou gebruik nie. Verbeel hom dat hy nou vrypas het om daardie woord of woorde te gebruik.


Die taal puriste wil die papies kry omdat ons Afrikaners ons taal so meng met ander tale, maar ek dink die taal kry groter skade met al die vloekwoorde wat gebesig word....... dit is mos nie suiwer Afrikaans nie... of hoe?


Wat se skade doen dit nie aan ons nie, voel jy nie ook vuil en verkrag wanneer jy ‘n dag deurgebring het in die geselskap van mense wat so lekker swets nie? Ons is so gewoond daaraan dat ons die woorde nie eers meer hoor nie omdat dit so algemeen geword het. Ons is ook te skaam om te vra dat ‘n person nie voor ons vloek nie. In werklikheid laat ons hulle toe om ons ore te verkrag sonder om ‘n woord daaroor te sê.


Weet jy, dit is ‘n gruwel in die Here se oë.


NAV - Kol3:8 Maar nou moet julle al hierdie ding laat staan……(onder andere) gevloek. Vuil taal moet nie uit julle mond kom nie.


Kom ons probeer om in die dae wat kom te “luister” hoe ek praat en watter woorde ek gebruik wat andere tot aanstoot kan wees en bowenal skade aan my siel kan bring. Dan begin ons "suiwer" Afrikaans te praat al mix ons dit met Engels



Skynheiligheid is die aanbidding wat sonde aan deug bewys - F.de la Rouchefaucauld-

4 comments:

Nimsi se Blog said...

Hello Oom Petrus,
Net gou kom inloer, en daar raps jy my alweer raak!
Nimsi

Oom Petrus said...

Hallo Nimsi
Toemaar, myself al vandag gevang dat ek een van die eufemismes gebruik.
Ons moet maar aanhou probeer. Ons moet net verbeter en strewe om dit te stop!
Sterkte

mariki said...

Raakgevat, Oom Petrus. Daar kan tog nie twee soorte water uit een fontein kom nie. Geen wonder Jacobus praat so oor die beheersing van die tong nie.
Dankie.

Muriel said...

Is dit nie erg hoe dit deesdae gaan nie! Ek kry soms regtig skaam! Die tv het natuurlik ook 'n groot aandeel in hierdie storie!

Elke fliek het deesdae die woorde "O God" of so iets in! Nog erger Jesus Christ! Dit voel sommer of iemand my met 'n klip in die maag gooi!

Ek meng baie tale, natuurlik omdat ek aan albei kante van die draad groot geword het. Maar dis nie verskoning nie! Ten minste waak ek teen vloek en dis deesdae so maklik om dit op te tel!!!
Dankie dat jy my ook weer wakker gemaak het hieroor Oom Petrus!!

Vir myself sien ek dit net as ongemanierd en onopgevoed om te vloek, 'n vrou is nie veronderstel om te vloek nie. Punt.

Ek klink nou net soos hierdie stywe lip tannies. Miskien kom dit toe regtig saam met die ouderdom!! hie hie

Lekker naweek Oom Petrus!!