Monday, January 5, 2009

LAAT INSKRYWING

Hierdie is eintlik geskryf vir Nimsie se blog, maar as gevolg van 'n probleem kon sy dit nie gebruik nie, nou probeer ek dit maar al hier verewig



Wat beteken Kersfees – Toeka en Nou

Desember, dis warm en die aanloop tot Kersfees is uitputtend want Ma is besig om allerhande lekkernye te maak vir daardie groot dag.

Die Ellis de Lux koolstoof is al van vroeg af gestook wat die kombuis nog warmer maak. Daardie jare was daar of nog nie elektriese stowe nie of ons was te arm om een te bekostig!
Die meuletjie is aan die tafel vasgeskroef en ek is opgekommandeer om die draaiwerk te doen terwyl ma die koekiedeeg wat aan die anderkant uitkom op ‘n stuk dubbel gevoude bruinpapier vang. Die papier het al sulke vetterige kolle op wat ‘n teken dat daar al baie koekies voor vandag daarop gevang is. My draaispoed en ma se vangspoed moet dieselfde wees anders word die ou degie wat uitkom, of op ‘n hoop gedruk of dit word so ‘n lang maer stukkie deeg op die papier , wat dan weer terug in die meuletjie gaan. Wanneer ma die reep bruinpapier met die koekiedeeg plat op die tafel neerlê, sny sy die deeg in ewe lang stukkies wat dan op ‘n plat bakpan gepak word en oond toe gaan. Terwyl die koekies gaar word, word die proses herhaal vir die volgende baksel.

Daar word verskillende koekies op die manier gebak, koffiekoekies, kondensmelkkoekies, wat dan later as hulle afgekoel het opmekaar geplak word voordat dit in die blikke met die mooi prentjies op die deksels gepak word vir die groot feesdag . Later word gemmerkoekies met ronde uitdrukkers gemaak en gebak en moenie praat van die konfyttertjies , suurroomterjies en appelkooskoekies nie.

Daar word ook nog voor die tyd gemmerbier gemaak in sulke ronde 1 gallon klipkanne met een oor. Wanneer die prop opgesit word, word dit met ‘n lyn vasgemaak sodat die prop nie kan afskied tydens die gistings proses nie.

Wanneer Kersdag aanbreek kom al die ooms en tannies, neefs en niggies by Ouma en Oupa op Greylingstad bymekaar. Omdat almal binne ry afstand gewoon het, het die eerstes al hier by 06:00 opgedaag. Dan is oor en weer gegroet en die geskenke is uitgedeel. Ons kinders het so deur die oggend ‘n paar keer kersfees gevier want elke keer wanneer ‘n ander huisgesin opdaag is hulle geskenke weer uitgedeel. Daardie jare het almal nog vir almal geskenke gekoop.


Daardie jare het Kersfees dieselfde beteken as vandag, ons het dit net baie anders beleef. Van kerktoe gaan was daar geen sprake nie, trouens ek weet nie eers of daar op Kersdag dienste was nie.

As kinders het dit vir ons geskenke en speelgoed beteken, wat dit vir die grootmense beteken het het ek geen idée gehad nie.

Gelukkig word ‘n mens groot en kry jy verstand en op ‘n dag maak die Liewe Vader in die hemel jou verstand oop sodat jy met nuwe oë na die wêreld om jou kyk en jy besef dat Kersfees nie net oor geskenke gaan nie.

Kersfees gaan oor DIE GESKENK wat deur die Vader aan die wêreld gegee is. Ons was minder bevoorreg nadat die sondeval in die Paradys gebeur het.

Dink net vir een oomblik hoe moes die Vader gevoel het om sy enigste Seun na die wêreld te stuur welwetende dat Hy so verniel sou word.

Aan die einde van elke geboorte moet daar ‘n sterfte en ‘n graf wees, want elke begin het ‘n einde.

Die geboorte van Jesus het egter hierdie stelling kom omkeer, Die fees van die geboorte van Jesus het alles kom verander, daar is nie meer dood nie tensy jy dit self kies om dood te gaan.

Jesus se geboorte beteken vir ons lewe en lewe in oorvloed as ons hierdie GESKENK wat die Vader vir ons gestuur het ontvang en eienaarskap daarvan neem dan is die dood sonder angel en nie meer ‘n faktor nie Die Vader het oneindig baie liefde vir jou en my gehad om hierdie Geskenk vir ons te stuur. Hierdie selfde liefde moet ons aan ons medemens betoon ongeag.

Die geskenk Jesus is in ‘n tyd van donkies en kamele vir ons gestuur, maar is vandag in die era van motorkarre, rekenaars en ipods nog net so relevant as toe. Trouens in vandag se tyd is Hy nog meer relevant want ons luister nie meer soos die skaapwagters na die engele geluister het nie, ons sien nie meer die ster soos die wysemanne uit die ooste nie. Nee ons lewe bestaan uit ‘n gejaag na wind, ons het nie tyd om tot stilstand te kom nie en te luister en te kyk nie, en as ons luister en kyk, is radio of televisie wat ons oordonder met alles wat ons kan koop.

Jingle Bells, Jingle Bells. Ho, Ho, Ho, kom kyk net na hierdie winskopie, daardie is ‘n moet…, koop nou en betaal later…, die rook trek uit die plastiek soos ons die kaarte swipe. Daar is nog laaste minute inkopies om te doen, ons moet behoorlik by winkelsluiting op die 24ste uitgegooi word want ons kry nie genoeg geshop nie …. Shop till you drop … is ons leuse.

Kom tot stilstand in Kersfeestyd 2008 en dink vir ‘n oomblik waaroor dit regtig gaan.

Liefde, empatie en sondeloosheid.

As die sonde voor jou hang en jou uitdaag om ‘n proe te vat…., moenie…, neem eerder die Jesus geskenk aan troetel en dien Hom in jou lewe.

Dis Kersfeestyd regoor die wêreld…. hoor ons heeldag oor die radio.

Waaroor gaan Kersfeestyd?

Dit gaan oor een mens, die God Mens Jesus Christus.

1 comment:

Muriel said...

Baie mooi inskrywing!