Wednesday, January 27, 2010

HUWELIK MET GOD


Haai, ek wil jou vandag ‘n ding vra: Is jou verhouding met God soos twee mense wat maar net saambly?

Dit is gerieflik, jy kry uit die ander een so veel as moontlik. Jy het geen verantwoordelikheid teenoor jou maat nie.Dinge word saam gedoen net tot op ‘n punt en dan is dit nie meer lekker nie, dan is dit tyd om jou eie gang te gaan....!

Jy word vanoggend kwaad vir jou maat en omdat jy geen verantwoordelikheid teenoor hom/haar het nie, besluit jy, ek gaan nie vanaand huistoe nie.

Ek gaan liewer by een van my ander vriende oorbly vir ‘n dag of twee totdat ek minder kwaad is . As ek dan besluit om met iemand anderster, in die bed te spring, dan is dit regso want die verantwoordelikheid teenoor die eintlike maat ontbreek. “Ons is mos nie getroud nie...!”

Ek kan eintlik maak soos wat dit my plesier verskaf, want ek is nie gebonde aan die ander persoon nie. Maar as ek wil teruggaan, gaan hy daar wees en my met ope arms ontvang. Hopelik! Dink net hoe groot sal die ontnugtering wees as jy wil teruggaan en daar is nie meer plek vir jou nie. Dit is dan amper soos die vyf maagde wie se olie vir die lampies opgeraak het terwyl hulle vir die bruidegom gewag het. Toe hulle terugkom nadat hulle gaan olie koop het, was die deur gesluit en kon hulle nie ingaan nie.

Is dit dalk hoe jou verhouding met die Vader is?

Is jou verhouding met God dalk soos twee mense wat besluit het om te trou., Om ewige trou aan mekaar te belowe. Tot die dood ons skei.

Ja, daar kom party dae, veral aan die begin van die huwelik, dat die verhouding maar stormagtig is. Jy wil jou eie stempel daarop afdruk dit gaan ‘n bietjie aan totdat daar kompromie bereik word. Gewoonlik is die persoon wat die sterkste is, die een wat dikteer. Jy word kwaad vir jou maat, maar jy weet jy het ‘n verantwoordelikheid teenoor hom/haar want julle is getroud....! Jy weet dit sal nie help om vir ‘n onbepaalde tyd vir jou maat kwaad te bly nie.

Jy sal maar net moet by jou maat uitkom, die saak uitpraat en die belangrikste, jou maat om verskoning vra. Jy kan jou nie afskei van jou maat nie, julle het ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar. Julle kyk nie wat elkeen uit die verhouding kan kry nie, - wat is vir jou voordelig nie. Julle is besig om ‘n baie lang termyn verhouding met mekaar op te bou, dit is wat albei van julle wil hê. Julle beplan saam aan dinge, jy spring nie maar sommer net weg en doen dinge sonder om jou maat te ken in jou beplanning nie. Jy doen dinge ook nie sommer op die ingewing van die oomblik nie, jy praat en bespreek dit mos met jou maat en wanneer hy/sy toestemming gee, eers dan gaan jy voort met jou planne. In ‘n huwelik is jou maat die belangrikste, en jy sal alles vir hom/haar doen. Julle beplan saam, geniet mekaar, dit behoort ‘n fees te wees om tyd met mekaar te spandeer.

Jy draai tog seker nie jou rug op jou maat en ignorer hom/haar vir dae of weke of dalk selfs maande nie. Dan het jou huwelik misluk en kan julle maar net sowel elkeen sy eie pad gaan.

As jy lief is vir jou maat en regtig erns daarmee maak, dan wil jy altyd naby hom/haar wees. Jy wil kommunikeer, jy wil vertel, jy wil raad vra, jy wil moontlikhede bespreek, jy wil beplan, nie in isolasie nie, maar met jou maat. As jy iets doen moet jy weet dat dit met jou maat se seënwense is. Julle moet saamstem daaroor dit is ‘n lewe van gee en neem nie net neem nie, want dit gaan nie net oor jou nie, maar dit gaan eintlik oor jou maat.

As jou verhouding met God ernstig is. As jy hom wil ken in alles, dan is jy op die regte pad. Die Woord sê: Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelyk maak..!

Jy moet nie net ‘n verhouding met God aanknoop tot jou eie voordeel nie. As jy met Hom in verhouding gaan, moet jy jou kant bring, ten volle bring. Daardie huweliksband met God moet daagliks stywer word. Jy moet al hoe meer tyd met Hom wil spandeer, Hom al hoe meer vertrou, Sy stem al hoe duideliker hoor, sodat jy kan weet wat Hy van jou in die verhouding verwag.Jy moet jou belofte van trou wat jy teenoor Hom afgelê het ten volle nakom.

As jy eers eenkeer die ware liefdevolle verhouding met God beleef het, sal jy nooit as te nimmer jou rug op Hom kan draai nie. Jy sal vind dat jy nie genoeg van Hom in jou lewe kan kry nie. Jy sal al hoe meer tyd met Hom wil spandeer en Hom alles wil vertel omdat jy hom volkome vertrou.

Prys die Here, dit is lekker om God te dien. As ek met verwondering na U handewerk staar dan weet ek dat ons ‘n GROOT GOD dien. Dat alles nie maar net deur ewolusie tot stand gekom het nie, maar dat die kleinste klein blommetjie en die hoogste bergspits deur U gemaak is. Ek eer U daarvoor en wil met U in ‘n liefdesvehouding staan vir die res van my aardse lewe. Ek eer U en het U lief.

No comments: