Thursday, January 7, 2010

Waai Geeswind waai

Daardie Sondag was een van die ongekende, ongemaklike, droë, warm dae. Selfs van die geharde Kalahari bewoners het gesê dis verby erg-warm. So warm dat lank nadat die hittige hemellig syse lê loop kry het, sweterige leidrade steeds op jouse vel plak. Daar was nie eers sprake van ‘n windjie nie. Geen, niks, selfs nie eers ‘n gedagte aan ‘n briesie nie. Ek is opgewonde, rusteloos en kyk kort-kort na ons gereelde rooidak bymekaarkomplek. Prewel smekend vorm woorde op myse lippe. “Waai Geeswind waai. Waai oor die droë kolle van mensegoed harte.”

Die amper 20 stoele in die skoon geveede klaskamer is netjies en sindelik in ‘n halwe ronding gepak. Iedereen se kykoog behoort ‘n oop uitsig op die groot TV te hê wat half verlate saam met ‘n alleenstaan bedliggie op die kaal staaltafel staan. ‘n Dik swart verlengkoord slang kronkelend by die deur uit om êrens buite op die stoep deel van die klein kragopwekker te word wat kermend soos ‘n swerm geïrriteerde perdebye raas. Sterk skemer en die meeste van die fliekgangers het hulle op die plastiekstoele tuisgemaak. Vol afwagting en in doodse stilte staar hul na die TV, gretiglik soekend na tekens van lewe op die dooie skerm. Diegene wat laat kom sal maar êrens op die harde vloer moet nesskrop.

Saggies begin musiek in die agtergrond speel en die aanbieder stel Ou Grote bekend. Rustig en sonder fanfare begin Ou Grote sy lewenspad beduie. Vasgenael sit die groepie en luister na ‘n vertelling van ‘n diksand lewenspad met onnodig baie majestueuse dwarsduine, ondeurdringbare stofstorms en massiewe skerp rotse. ‘n Tragiese lewensverhaal vol herkenning en ervaring want die gesinsgeweld, armoede en hongersnood waarvan vertel word, is so eie aan hulle Kalahari manier van bestaan. Iemand skud sy kop, vee doelloos met sy hande oor sy hare sodat hy nonchalant en doodluiters ‘n verdwaalde souttraan uit syse oog kan vee. Half weggesteek in die vroegaanddonker snik iemand saggies en dan word daar ongeërg diep gesnuif. Nes ‘n ou staatmakertrekos beur en sweet Ou Grote se vertel verder rondom verwerping en verwaarlosing, verby woede en aanranding, asook deur sy persoonlike depressiesloot. Dit, terwyl die wêreld die Ou Grote se daaglikse doen en late beskou net soos ‘n skaapboer na ‘n kampioen Dorperram sou kyk.

“Waai Geeswind, waai,” smeek ek saggies, “mag Ou Grote se hartseerverhaal vandag êrens stilstaan in ‘n weggooimens se vernielde hart.” Die Mooiste Mooi wat langs my sit, vat myse hand en gee dit ‘n sagte drukkie. Ook sy gesels met Vader oor hierdie littekensaak.

Ou Grote se lewensvertelling is verby en steeds sit hulle grafstil en kyk na die TV-skerm waar die sneeuswart beeld stuiptrekkings kry. Stadig staan ek op en druk die alleenstaan bedliggie aan wat agter die TV wegkruip. Dowwerig verlig die geelwit gloeilampie die klaskamer en beklemtoon die ongeloof wat so groot soos Witkop se duin op hulle se voorkoppe geskryf staan. “Die goeters gebeur mos nie met die Boere se mense nie Pastoor,” het een so koponderstebo opgemerk terwyl ek die fliekgangers woordeloos beskou. My oog vang die Mooiste Mooi met haarse groen oë gesluit en ek weet sy vra nog steeds vir lewe en ‘n stukkie openbaring.

“As jy iets wil hê wat jy nog nooit gehad het nie, moet jy iets doen wat jy nog nooit gedoen het nie,” borrel dit onverwags oor myse lippe. Skielik besef ek dat Ou Grote se hartroerende smeking vir ware vergifnis weereens baie vlak in elkeen se binneste-binne en vermoëns lê. “Waai Geeswind waai,” smeek ek weer en Sy sagte koelte teenwoordigheid omring ons soos ‘n balhorige Kalahari draaiwind.

Terwyl die sweet op die meeste van ons se gesigte blink, vryf ‘n paar onophoudelik met hulle se hande oor hulle se bo-arms bloot asof daar ‘n yswindjie oor hulle blaas. Haarse harde oë blink van littekentrane terwyl sy ook met haarse hande styf om haarse bo-arms gevou sit. Stadig maar seker begin trane uit haar oë vloei en vermeng met die sweetdruppels op haarse gesig. Onbeskaamd huil sy uit haar hart en so ontkiem ‘n goddelike sagtheid in haar binneste-binne. “Waai Geeswind waai,” weergalm dit binne-in my.

‘n Rukkie later is die kragopwekker se geïrriteerde geraas stil en die meeste fliekgangers is elkeen na syse plekkie toe. Skielik staan sy met haar nat gevlekte wange langs die Genadewa waarin ek sit en sy kyk my met ‘n diepe sagtheid vol in die oog. “Ek is vry Pastoor, regtig vry want ek het vanaand iets gedoen wat ek nog nooit gedoen het nie. Ek het vergewe, ek het hulle almal vergewe.”

So met die oopmaak van haarse kosbare hartsverklaring, steek ‘n koelte windjie vanuit die suide op en omvou haar saggies, so al asof Vader Homself haar ‘n drukkie kom gee. Waai Geeswind waai, kom waai ook deur my.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou .........................

Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

(Landlyn 054-551 1000)

No comments: