Monday, February 8, 2010

DIE BOEMELAAR VAN DIE OOP SEE

Die Pelicano is die mees verstote skip ter wêreld en sedert 1986 is sy die Boemelaar van die oop see. Niemand wil haar hê nie! Sri Lanka wil nie, Bermuda wil nie, die Dominikaanse Republiek, het haar weggewys en so ook Nederland, die Antille en Honduras.

Die probleem is nie die skip nie - alhoewel sy geroes en met mossels bedek is, is sy seewaardig. Dis nie die eienaarskap nie - die lisensie is betaal en op datum. Dis ook nie die bemanning nie - alhoewel hulle verwerp voel, is hulle bekwaam.

Wat is dan die probleem?

Die Pelicano is vol gemors! Vyftien ton stinkende vullis. Lemoenskille, bierblikke, vrot kos, koerante. Die vullis van Philadelphia se lang somer van '86 toe die munisipalewerkers gestaak het. Die eienaars van die Pelicano het gedink hulle kan maklik geldmaak om die vullis te vervoer. Hulle het dit verbrand en die as in die romp gelaai. Niemand wou dit egter toelaat nie. Aanvanklik was die vullis te veel en later was dit nog boonop toksies ook.

Die lot van die Pelicano is bewys - skepe vol vullis het min vriende. Dis ook 'n gelykenis - harte vol vullis vaar nie juis beter nie.

Die lewe het 'n manier om sy vullis op ons af te laai - vragte woede, verwyte, liefdeloosheid, bitterheid, angs, bedrog, ongeduld......en alles hoop op in jou hart. Dit beinvloed ons, dit besoedel ons verhoudings, ons gesindheid, ons toegewydheid. Dis soos Kain wat woede in sy hart gehad het voordat hy bloed aan sy hande gehad het.

Kyk hierna:

Vandag se gedagtes is more se dade. Vandag se jaloesie is more se woede. Vandag se gierigheid is more se verduistering. Vandag se skuldgevoelens is more se vrees.....

Sommige mense dink ons is slagoffers van hierdie vullis, dat ons nie 'n keuse het nie. Kyk wat sê Paulus in 2 Kor 10:5 "Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak" Ons is soldate om ons gedagtes te beskerm, nie die slagoffers daarvan nie. Ons is op wag om, sodra die "Pelicanos" van die lewe wil anker gooi, hulle te verbied:

Hierdie hart behoort aan God - selfsug kry jou ry, woede gaan soek 'n ander broeiplek! Jy is die hawemeester van jou eie skip (hart) - bewaak dit bo alle dinge!

Verwerk uit "Deel God se Liefde" van Max Lucadu

No comments: