Wednesday, June 3, 2009

BOU 'N GESIN WAT GOD DIEN

In Handelinge 16:31-34 lees ons van 'n gesin wat tot bekering gekom het. Dit is 'n wonderlike gebeurtenis.... maar hoe hou ons geestelike passie in ons gesin?

Maak geestelike sake belangrik.
Ons moet ten minste probeer om 'n huishouding van geloof te hê. Hand10:2 "Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God." Daar moet immers, 'n begeerte wees om jou huis na God te rig en 'n leerbare gees wees om ook nader aan God te kan groei. Ons moet ons huise oopstel vir die werking van God as ons dit wil beleef! Dit beteken ook dat ek christen-vriende moet hê! Ook dat ek my huis oopstel vir dinge soos selgroepe en geestelike byeenkomste. Daar behoort 'n geestelike besorgdheid oor elke lid van die huishouding te wees. Die huishouding se geloofslewe moet aktief en effektief wees, anders is dit ook maar net soos 'n blom wat verwelk het.

Gebruik die bronne van die gemeente.
Jy moet deur jou voorbeeld aan jou gesin kan wys dat jy dit geniet om kerk toe te gaan en die inspraak van die kerk op jou lewe hoog aanskryf. Daar moet ook op 'n positiewe wyse oor die aktiwiteite van die kerk gepraat word en die opgewondenheid van jou kerk-belewenis moet gesien kan word! Hoe jy oor die leierskap van die kerk voel (en praat), gaan ook 'n effek op jou huissgenote se belewenis van die kerk hê. Jy sal ook by baie meer aktiwiteite as net die kerkdienste moet betrokke raak, om die egtheid van jou belewenis te staaf. "It's better caught than taught"

Bybellees en gebed is noodsaaklik.
Jou gesins-genote kyk op na jou en wil deur jou voorbeeld sien dat die Woord van God en kommunikasie met God - belangrik is. Indien jy dit beleef kan jy dit aanbeveel, of hoe? Paulus daag ons uit in 2Tim 3:14-15 om van kleins af te leer. "Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.

Deel in huisverband met mekaar julle geestelike ervarings en daag mekaar uit om getrou te wees in julle geestelike wandel. Onthou: gesonde huisgesinne maak gesonde gemeentes! Positiewe gesinne bring 'n positiewe gees in die gemeente

Met dank aan: Manie Delport

No comments: