Friday, June 26, 2009

VOETSPORE EN VINGERAFDRUKKE

In ons daaglikse handel en wandel, laat ons voetspore en vingerafdrukke so ver as wat ons gaan. Elke mens se voetspore en vingerafdrukke is uniek en het geen ooreenkoms met enige iemand anders nie.

As jy langs die strand stap dan lĂȘ daardie voetrspore duidelik daar in die sand totdat die eerste brander daaroor spoel, dan is daardie spore vir ewig weg. Dieselfde met ons vingerafdrukke, dit sit net daar waar ons gevat het totdat die eerste stoflap daaroor vryf, dan bly daarvan ook niks oor nie.

Soos wat ons voetspore in die strand trap, laat ons ook voetspore en vingerafdrukke in mense se lewens agter soos ons elke dag met hulle interaksie voer. Waar ons seker die diepste spore trap is in die vatbare gemoedere van kinders. Daardie voetspore en vingerafdrukke wat ons in hulle agterlaat, verdwyn nie na die eerste brander of stoflap nie. Dit is blywende indrukke of afdrukke wat sal bepaal hoe hulle eendag as grootmense sal optree... Hoe hulle eendag teenoor hulle vrouens of mans en kinders sal optree en hulle behandel.

Daar is ongelukkig so dat daar ouers is wat met verwyte in hulle hart rondloop, oor hoe hulle kinders ontwikkel en uitgedraai het. Die ouers sien in hulle kinders se optrede ‘n voorbeeld van hoe hulle self binne die huisgesin optree het en dit is nie altyd ‘n mooi prentjie. Baie ouers wens dat daardie spore deur hulle in hulle kinders se lewens getrap deur ‘n brander weggewas of deur ‘n stoflap afgevee kan word.

Daar was natuurlik ook ouers wat biddend en met versigtigheid voetspore en vingerafdrukke in hulle kinders se lewens agtergelaat het. Daardie ouers sit terug en verlustig hulle in die korrekte en verantwoordelike optrede van hulle kinders. Daardie kinders is ‘n voorbeeld in die gemeenskap en word gerespekteer vir wat hulle is.

Hoe lyk die voetspore en vingerafdrukke wat jy besig is om in jou gemeenskap te laat. Of dit nou jou kinders, familie, vriende of bure is. Trap en vat jy met verantwoordelik sodat die mense met wie jy skouerskuur, jou respekteer vir jou opinie en na jou opsien vir leiding?

Is dit wat jy nalaat navolgenswerd, sal jy eendag trots wees op daardie nalatenskap van jou?

3 comments:

Nimsi se Blog said...

Oom Petrus,
dis so waar - kinders leef wat hulle leer! En voor jy dit nie verstaan nie, sal jy seker nooit jou lewensmaat, buurman of kollegas se optredes verstaan nie ne!

Lekker naweek vir julle

Anonymous said...

Groot stuk hierdie!
Min van ons dink ooit weer aan die gewolge van wrede woorde of dade!
Veral teenoor ons kinders!

Benna

mariki said...

Goeie opskerping, dankie OomP!