Thursday, October 1, 2009

AAN WATTER STAL BEHOORT JY?

In Joh. 10:16 sê Jesus: Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.

Sommige mense dink as hulle in die Bybel lees en die verhale daarin, dat dit slegs van toepassing is op die Jode, omdat alles in Israel afspeel. Daarom dink hulle ook dat Jesus se geboorte, lewe, kruisdood en opstanding slegs van toepassing is op die Jodedom en dat ons wat nie-Jode is, geen deel daaraan het of kan hê nie. Dan voel hulle dat Jesus vir die Jode se sondes gesterf het en nie vir ons nie, en daarom kan 'n nie-Jood, nie sondevergifnis kry nie.

Hoe tragies is dit egter dat, die Jode glo nie dat Jesus alreeds in die vlees gekom het nie, hulle koester nog die verwagting dat Hy sal kom. Hulle probeer nog al die wette onderhou en vertrou dat dit hulle sal regverdig. Hulle het nognie die heerlike genade van God verstaan en ondervind nie. Hulle besef nie dat wette en werke nie aan hulle saligheid sal gee nie. Daar is net een weg na die ewige lewe in Christus en dit is die weg deur Christus Jesus. Joh.10:(7) Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape. (9) Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.

Jesus het na die aarde toe gekom vir alle mense. Jou nasionaliteit, jou taal, jou land van herkoms, jou agtergrond, jou finansiële status en vermoëns, die werk wat jy doen, of jy in die tronk is of was, of jy 'n man of 'n vrou is, of jy op 'n hoë berg is of onder in 'n vallei, niks kan jou skei van die liefde van God nie. Niks kan jou daarvan weerhou om Jesus as jou Verlosser en Saligmaker aan te neem nie. Joh.10:16 waarmee ek hierdie inskrywing begin het is baie duidelik "Ek het nog ander skape (volke) wat nie aan hierdie stal (Jode) behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde,(Jode en ander volke) een herder."

My vriend/vriendin, al wat jy moet doen is net die eerste tree gee om die heerlikheid van God se verlossingsplan te ondervind. Die keuse is in jou hande en niemand anders kan daardie keuse vir jou maak nie. NET JY!!

No comments: