Wednesday, April 15, 2009

HOE MAAK JY VREDE MET GOD

Ons hoor dat ons moet vrede maak met GOD en ons sondes bely, maar ons weet ook nie regtig hoe om dit te doen nie en ons weet ook nie regtig hoekom ons dit moet doen nie.
Daar is 'n behoefte en 'n leegheid in my hart en ek het al vir 'n lang tyd elke aand as ek Psalm 23 gelees het, ook gebid en gevra dat die Here my sondes moet vergewe, maar daar kom geen sigbare verandering in my lewe. Ander mense wat ek gehoor het wat "by die Here uitgekom het" kon ek sien dat daar verandering in hulle lewe gekom het. Hulle lewe nou anders as voorheen en dit maak my jaloers....

Omdat ons wanneer ons gebore word op 'n pad weg van God af is, moet ons 'n omdraai maak om na God toe te gaan en Hy nooi ons:
Jesaja 1:18 Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.

Hy waarsku ons:
1 Joh 1:6 As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.

Hy gee vir ons goeie raad met 'n belofte:
1 Joh 1:7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar en die bloed van Jesus Christus, Sy Seun reinig ons van alle sonde.

Hy waarsku ons weereens:
1 Joh 1:8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

Weereens is die belofte daar:
1 Joh 1:9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Dan die finale belofte:
Joh 1:12 Maar almal wat hom aangeneem het, aan hulle het HY mag gegee om kinders van GOD te word, aan hulle wat in SY naam glo.

Nou hoe doen ek alles?

Ek gaan op my knieë en bid die volgende gebed:

Jesus, ek erken dat ek 'n sondaar is en dat ek totaal verlore is sonder U. Dankie dat U namens my kom sterf het en so vir my oortredinge betaal het. Ek bely nou al my oortredinge voor U (noem hulle op in jou gebed rook, drink, steel, kwaadpraat, skinder, vloek, bedrog, owerspel, mishandeling ens. luister wat sê die Here vir jou wat jy moet bely Hierdie is maar voorbeelde en as jy nou iets mis en die Here herinner jou later aan iets dan bid jy net weer en noem dit voor die Here) en vra U om my te vergewe van al die ongeregtighede wat ek van my vroegste jare af gedoen het, en my te reinig met U bloed.
Ek draai nou my rug op die verkeerde weg wat ek bewandel het en vra U om my swak hand in U sterk hand te neem en my te lei op die smal weg.
Jesus, ek nooi U nou om in my hart te kom woon, die Meester van my ganse lewe te word.
Ek aanvaar U nou ten volle en onvoorwaardelik as my persoonlike Verlosser en Saligmaker.
Vader, dankie dat ek van hierdie oomblik af sonder enige twyfel kan weet dat ek U kind is!
Dankie in Jesus se naam, Amen

1 comment:

Nimsi se Blog said...

Dankie Oom Petrus
Nimsi