Thursday, April 16, 2009

DIE PAD VOORENTOE

Daar het dit toe gister gebeur. Iets wat jy al baie lank uitstel. Jy het jou sondes met erns bely en die Here gevra om jou te vergewe en jy het 'n kind van die Here geword.
Hoe nou van hier af?

Kry vir jou 'n boek waarin jy kan skryf. Skryf daagliks neer wat met jou gebeur op geestelike gebied. Hou 'n joernaal of dagboek en skryf alles daarin neer. hoe en wat jy ervaar.
Jou eerste inskrywing behoort iets soos die volgende te wees: 15 April 2009 "Ek het vandag al my sondes bely en 'n kind van die Here geword"

As jy 'n Bybel het, stel ek voor dat jy daagliks tyd inruim en 'n stukkie lees. Begin by Johannes en lees met aandag, probeer verstaan wat jy lees. Voordat jy begin lees, bid eers en vra die Here om vir jou oop te maak wat jy lees sodat jy dit kan verstaan. Skryf in jou Joernaal wat jy verstaan, en as die Here vir jou 'n belofte gee, skryf dit neer. As jy vir die Here iets vra, skryf dit neer, sodat wanneer Hy jou gebed verhoor, jy kan terugkyk en sien wanneer het jy gevra.

As jy aan 'n kerk behoort, sorg dat jy van nou af gereeld dienste, bidure en ander onderlinge byeenkomste bywoon, sodat jy kan groei in kennis en in jou verhouding met die Here. As jy nie aan 'n kerk behoort nie, stel ek voor dat jy 'n kerk naby jou soek om by in te skakel. Moet nie uitstel nie, begin dadelik. Dit gaan dalk 'n tydjie neem om by die regte groep mense in te skakel, maar moet nie ophou soek nie. Jy sal weet wanneer dit die regte groep is. Jy het al soveel tyd verlore laat gaan dat jy nie kan bekostig om verder tyd te mors nie.
Jislaaik, sal jy dalk sê, wat se goed moet ek nou als doen, waar gaan ek die tyd kry? Wees rustig oor hierdie saak en ruim 'n tydjie in. Beste is om vroeg oggend te begin by die woord van die Here en gebed. Voordat jy nog met jou daaglikse take begin. Jy sal voel hoe verkwik en gemotiveerd jy is wanneer jy die dag so begin. Gedurende die dag, miskien in jou etenstyd, kan jy 'n tydjie afknyp om jou Joernaal inskrywings te doen.
Nog iets wat jy moet doen is om vir ander te vertel dat jy nou 'n kind van God geword het, en dat daar sekere dinge in jou lewe is wat gaan verander. Die kans dat jy bespot gaan word of onder die skindertonge gaan deurloop is baie goed. Wat ook waar gaan wees is dat jy dopgehou gaan word om te sien hoe lank hierdie "nuwe" jy gaan hou. Onthou een ding. Jesus het dit nie maklik gehad toe hy die prys namens jou betaal het nie. Dit was moeilik vir Hom, Hy was bespot, so sal dit dalk met jou ook gaan. Ek is seker daar waar jy werk of skoolgaan is daar mense wat reeds ook hierdie stap geneem het. Maak maats met hulle sodat julle mekaar kan ondersteun en mekaar se laste kan help dra. Jy het nou jou ou lewe lewe vaarwel toegeroep, dit is maar moeilik om te breek met ou gewoontes, en dit neem tyd. Bid gedurig dat die Here jou sal help om staande te bly, Hy is getrou en regverdig en Hy sal jou help.
Toe ek die stap geneem het baie jare gelede, was een van my grootste probleme, dat ek gevloek het soos 'n matroos en dat ek nie 'n sinnetjie kon praat sonder om die naam van die Here in een of ander vorm eidelik te gebruik nie. Toe ek die besluit neem het ek geweet dat ek nog baie gaan sukkel daarmee, maar die Here het my gehelp. Ek moes baie bid daaroor en om vergifnis vra male sonder tal. As ek 'n verkeerde woord gebruik het, het ek nie gewag tot vanaand of more nie, nee ek het my dadelik vir 'n oomblik afgesonder en die Here gevra om my te vergewe, sodoende het ek nie opgehoopte sondes gehad wat ek moes bely nie. Nee inteendeel dit is maklik wanneer die Heilige Gees jou herinner dat jy iets gesê of gedoen het wat verkeerd is om dit dadelik te bely en reg te maak. Dit is soos om hande te was, jy kan dit los en vanaand sukkel jy jou morsdood om hulle skoon te kry of jy kan wanneer hulle effens vuil word, gaan was. Dan voel jy sommer dadelik skoon en dan is jy swommer baie versigtiger om hulle nie weer te laat vuil word nie.

Ja alles gebeur nie sommer op een slag nie. Daar lê 'n lang pad vir jou voor. Hou jou oë op Jesus, moenie na omstandighede om jou kyk nie. Glo soos 'n kindjie. Moenie alles probeer analiseer nie.

Welkom in die familie van Jesus, ek bid vir jou.

1 comment:

Nimsi se Blog said...

Oom Petrus
sit ons asseblief bo aan julle gebedslys.
Nimsi