Tuesday, April 28, 2009

TWEE STEMME

Het jy ookal een van daardie dae gehad. Jy weet mos! Jy staan die oggend op met so 'n effense mof gevoel tussen die oë. Dit is seker maar die begin van 'n sinus aanval troos jy jouself. Jy voel 'n bietjie nukkerig. Daardie voorkop is so op 'n plooi getrek en die oggend koffie is ook nie so lekker nie, so 'n hond in die mond smaak...! Ag ek sal wel beter voel as ek eers deur die bad of die stort gespring het........ Die water druk het geval en daar kom net so 'n ou dun straaltjie water uit die kraan, dit help nou ook nie juis veel om my nukkerigheid te laat oorgaan nie.

Die dag sleur verder so stadig aan, maar die nukkerigheid wil jou nou ook nie heeltemal los nie. Gelukkig is dit 'n redelikke stil dag by die werk, op stadiums wil die baklei waarmee jy opgestaan het met alle geweld uitkom, maar jy byt dit terug, gryns net daardie aangeplakte glimlag na jou kollega toe. Jy probeer jou so ver as moontlik afsonder van die res van die werkers sodat die versoeking jou nie moet ry nie. Kort-kort kyk jy op die horlosie en wens die dag om.

Gou na werk net by 'n besigheidsplek aangaan om iets op te tel wat jy bestel het. Dit is net daar waar die paw-paw die waaier tref. Die dametjie agter die toonbank het net soos jy die oggend met 'n mof gevoel opgestaan, en sy probeer ook al die hele dag al om nie bakleierig te wees nie. Skielik kom julle bymekaar uit met katastrofale gevolge.......! Sy wil jou vertel dat daar drie items vir jou bestel is terwyl jy voor jou siel weet dat jy net twee items bestel het. Die artikel wat jy bestel het is nou veel duurder as die prys was aanvanklik genoem is. Op die ou einde is julle aanmekaar en vlieg woorde en beskuldigings oor en weer. Van jou kant af voel jy dat jy nie weer die onderneming sal ondersteun nie, en jy sê dit vir haar...!. Aan die anderkant voel sy dat dit beter is as jy nie weer van die onderneming gebruik moet maak nie, en sy sê dit vir jou.....!

Na dese lê daardie frons soos ploegvore oor jou voorkop en jy is so ontsteld dat jy in jou spoeg kan stik. By die huisgekom is jy en jou lewensmaat uit die staanspoor haaks, jy so opgeblase soos 'n brulpadda en jou maat is besig om te karring aan jou. Wat is verkeerd? Sulke vrae in jou toestand, sleep jou humeur net nog verder deur die modder en kort voor lank gebeur dit waarteen jy al die hele dag veg. Jy ontplof!! Jy sê dinge wat jy nie bedoel nie, jy begin skreeuerig raak asof jy maat doof is, maar dit is nie waaroor dit gaan nie dit is daardie opgekropte frustrasie wat jy al die hele dag in jou ronddra wat jou laat voortstoom sonder brieke. Totdat jy uitgewoed is en dan gaan sit jy daar eenkant met jou dikbek. Nee, dit is ook nie oordat jy dikbek is nie, dit is omdat jy skaam is vir jou uitbarsting...! Jy voel diep binne jou dat jy met hierdie uitbarsting jouself verneder het, jy is skaam, jy weet nie eintlik hoe om dit wat jy gedoen het reg te maak nie.

Jy kyk na jou maat en sien daardie verleë uitdrukking op die gesig. Jou maat voel afgejak, verstoot, die vrae was uit belangstelling gevra, jou maat het nie die uitbarsting uitgelok nie. Dit was jou reaksie want jy wou eintlik alleen gelaat gewees het, jy wou daar eenkant gesit en sulk het. Nou sit jy daar eenkant, net jammer dat jy eers met jou maat moes veg. In jou gedagtes is jy besig om die hele geveg van a tot z oor te veg. Jy voel al skamer...., en jy weet as jy 'n greintjie menslikheid in jou het moet jy jou maat om verskoning gaan vra, want die hele geveg tussen julle twee was ongevraagd. Jy moet gaan regmaak waar jy verbrou het.

Jy kan ook voel daar is iets anders ook fout met jou. Daardie rustigheid en vrede waaraan jy so gewoond is, is ook nie daar nie en daar is 'n stemmetjie wat vir jou sê dat jy die Gees van God wat in jou woon, bedroef het met jou optrede en jy moet Hom om vergifnis vra, want wat jy gedoen het was sonde.
Dan is daar nog 'n stemmetjie wat in jou oor fluister, "ag man dit was nou ook nie so erg nie, hoekom moet jy nou eintlik om verskoning vra? Hoekom moet jy nou eintlik om vergifnis vra, gaan net aan met jou lewe. Jou maat sal in 'n dag of twee oor dit wees en vir die res.........!"

Na watter een van die stemme luister jy? Is jy bereid om die vrede van die Here permanent uit jou lewe te ban? As jy eers eenkeer hardekwas was en nie regmaak wanneer die stem van die Heilige Gees jou herinner dat jy verkeerd opgetree het en dat jy vergifnis moet vra nie, is dit 'n volgende keer makliker om daardie Stemmetjie weer te ignoreer. So verloor jy daardie pand!

Maak reg met jou maat en maak reg met die Here en die vrede wat alle verstand te bowe gaan sal jou deel wees! Onthou ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die magte en die owehede en die bose geeste in die lug.
Liewe Heer help my om stadig te reageer met my tong. Ek kan daarmee soveel skade aan my maat en medemens en ook aan myself aanrig. Bewaar my asseblief daarvan dat dae soos hierdie nie die alledaagse word nie, maar as dit gebeur Here, ek in diepe berou na U sal gaan om weer herstel te word, Amen

6 comments:

Anonymous said...

EINA...
klink so asof jy my ken!
Benna Britz

Nimsi se Blog said...

Hallo Ouboet
Was bang jy sit dalk my foto hierby...
Kleinboet

Oom Petrus said...

Benna,
Ek dink dat ons almal maar worstel met hierdie een. Dankie vir jou besoek.

Kleinboet,
Dankie vir jou besoekie hier. Nee die kans dat ek my eie foto hier moet sit is baie beter!

Ons moet net na die Regte stem luister en ons saak reghou.

Anonymous said...

Dag Oom Petrus
oom as dt rgtig oom se klynbut hierbo is is oom n gr8 oubut.
ek bieki plat mt griep ma al baja btr my ma prtykeer so as sy van werk ko dan staan ons ma alml 1kant.
was oom bt mmc?
Sam

Oom Petrus said...

Hallo Sam,
Ja dit is regtig my Kleinboet.
Jammer om te hoor jy is bietjie olik maar bly dit gaan al beter. Ja werk kan ma's en pa's bietjie stres. Ons moet vir hulle bid.
Nee ek kon ongelukkig nie MMC toe gaan nie, ek moes werk.
Groete

Nimsi se Blog said...

Sam, jy het die regte ding hier beet... staan maar liewer eenkant my kind... veral as ma's so van die werk af kom!

Ook maar bly jy het nie MY foto hierby gesit nie Oom Petrus!

Nimsi

Gaan loer bietjie by moonvixensblog.blogspot.com ek en kleinboet stry so effe oor die Yorkie daar ek reken dit is n nie opregte hondjie, kleinboet reken dit lyk net soos Hugo....