Thursday, April 2, 2009

KWALITEIT LEWE

Baie mense het die drang na geld en goed wat hulle lewens oorheers, daarom bestee hulle al hul tyd daaraan om bymekaar te maak. Hulle is gedurig besig om met ander mense te kompeteer om te kyk of hulle nie meer, vinniger kan bymekaar maak nie. Jy ken daardie spreekwoord van "keep up with the Jones's". Ongelukkig gaan dit nie oor "keep up" nie maar ek wil beter doen as my buurman, my broer, my swaer, my kollega ens.

Hierdie gejaag na besittings is op die einde van die dag nie bevorderlik vir goeie gesondheid nie en kort voor lank is maagsere, senuwee ineenstortings, depressie en selfs aggressie aan die orde van die dag.

In hierdie proses is dit onafwendbaar dat die opgaarder al hoe verder en verder van God verwyder sal raak. In die meeste gevalle dink mense wat baie geld en besittings het dat hulle God nie nodig het nie, dat hulle sonder God kan klaarkom. Die Bybel sê dat dit makliker vir 'n kameel is om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n rykman om in die hemel te kom. Onthou ook wat Jesus vir die ryk jongman gesê het toe die Hom gevra het wat hy moet doen. Jesus het vir hom gesê dat hy al sy besittings moet gaan verkoop en onder die armes uitdeel en dan terugkom en Jesus volg. Het die jongman dit gedoen? Nee. Hy was te verknog aan sy rykdomme en besittings.

Bring al die rykdomme en besittings geluk? Stellig nie. Geluk word net ons deel wanneer ons in 'n lewende en betekenisvolle vehouding met Christus staan. Dan is ons ongebonde aan aardse goedere wat vir ons 'n probleem kan wees. Op 'n ander plek in die Bybel staan daar dat ons eers die koningkryk van God moet soek, en natuurlik vind, dan sal al hierdie ander dinge bygevoeg word.

Daar is nie 'n plaasvervanger vir Jesus nie. Daardie onvervuldheid wat jou laat rondskarrel en bymekaar maak sal jou nie rus en vrede gee nie. Slegs Jesus kan jou daardie vrede gee wat alle verstand te bowe gaan.

Slegs God se liefde kan jou 'n kwaliteit lewe gee deur Sy seun Jesus Christus en dit is vir ons nog verniet ook omdat Christus reeds daardie prys betaal het. Vir Hom was dit 'n ontsettende duur prys, maar vir ons is dit verniet.

Dankie Jesus dat ons in U rus, vrede en 'n kwaliteit lewe kan hê

No comments: