Wednesday, April 1, 2009

LUISTER

Ons is so gewoond daaraan om te reageer op mense se woorde, Ons verstaan wanneer mense met ons praat, afhangend of ons die taal magtig is waarin hulle ons aanspreek.

Dink net vir ‘n oomblik daaraan. Jy is stok siel alleen in die middle van die woestyn, dit is nag en jy slaap rustig. Skielik skrik jy wakker met die geklank van jou naam in jou ore. Wat gaan jy doen, omdraai en verder slaap en vir jouself sê dat dit maar net ‘n droom was wat jou wakker gemaak het? Sal jy so ‘n situasie ‘n tweede gedagte gee en die moontlikheid oorweeg dat dit God is wat jou geroep het?

Die meeste van ons sal dit nooit eers oorweeg dat dit dalk God kon wees nie. Moenie sleg voel nie. In 1 Sam 3:4 het God na die slapende Samuel geroep wat in die stilte van die temple gelê en slaap het. Samuel het dadelik opgestaan en na Eli toe gegaan want hy het gedink dat Eli hom geroep het. Eli het vir Samuel teruggestuur om verder te gaan slaap omdat dit nie hy was wat hom geroep het nie.

Vir ‘n tweede keer het God na Samuel geroep en weer het Samuel na Eli toe gegaan en Eli het hom maar weer terug gestuur om te gaan slaap omdat hy nie vir Samuel geroep het nie.

Nou hoekom het Samuel dan nie God se stem herken nie? 1 Sam 3:7 Maar Samuel het die Here nog nie geken nie; ook was die woord van die Here nog nie aan hom geopenbaar nie.

Eers die derde keer wat God na Samuel geroep het en hy weer na Eli toe is, het Eli gekliek dat dit God is wat na Samuel geroep het. Eli het toe vir Samuel gesê hy moet maar weer gaan lê en as hy weer hoor hy word geroep moet hy antwoord: Spreek Here, want u kneg hoor.

Die vierde keer wat God na Samuel geroep het, het Samuel eers geluister en besef dat dit God is wat met hom praat.

In die dag waarin ons lewe, praat God nie meer so direk in ‘n hoorbare stem met ons nie, maar daar is ander maniere wat Hy ons roep en met ons wil praat.

Hoe sensitief is jy vir God se stem? Weet jy direk wanneer God jou roep of met jou wil praat? Kan jy God se stem hoor? Is jy naby genoeg aan Hom om te hoor wat Hy vir jou wil sê?

Samuel het die eerste drie keer nie God se stem herken nie, omdat hy God nie geken het nie.(1 Sam 3:7)

Ken jy die Here?

No comments: