Monday, April 13, 2009

IS JY 'N MISLUKKING

Die persoon op die wêreld wat nog nooit in iets misluk het nie, moet nog gebore word!

Indien ‘n persoon in een of meer dinge misluk het, maak dit dan nou noodwendig van so ‘n persoon ‘n mislukking? Nee, beslis nie. Tog is daar van ons wat keer op keer in iets misluk en begin dan negatief oor ons self dink met die gevolglike siening en gevoel ”Ek is ‘n mislukking, want ek kry niks in die lewe reg nie.”

Kyk maar na die suksesvolle mense rondom ons, as hulle wil eerlik wees dan sal hulle vir jou elkeen ‘n elle lange lys van hulle persoonlike mislukkings kan uitpak en tog het dit hulle nie gestop om suksesvol te word nie. Wat sou hulle geheim wees? Hulle het nie nadat hulle ‘n mislukking van iets gemaak het, gaan sit en toegelaat dat die mislukking hulle so oorheers dat hulle niks verder wou doen nie. Hulle het die mislukking agter hulle gesit en ‘n nuwe projek aangepak, wat of suksesvol of ‘n mislukking was. Hulle het al die tyd in hulself bly glo en nooit aan hulle self gedink as mislukkings nie.

Ons medemens plak egter baie maklik ‘n label aan ons en daarvoor moet ons versigtig wees dat ons nie ons ore uitleen en mense glo as hulle dalk sê dat ons ‘n mislukking is nie. Al wat hulle doen is hulle versteek hulle eie mislukkings deur ons mislukkings aan die groot klok op te hang.

Ons is almal dieselfde gemaak deur dieslfde Maker. God het nie mislukkings gemaak nie, hy het elkeen van ons gemaak met al die potensiaal in die wêreld. Potensiaal wat Hy wil hê ons moet ten volle ontwikkel en benut, deur Sy genade en hulp. Dit is so, ons kan nie almal die President van die land of die bestuurder van een of ande multi miljard maatskappy wees nie, maar ons kan elkeen in eie reg ‘n reuse sukses wees. Ons moet net versigtig wees dat ons nie toelaat dat andere of dalk nog onsself, vir ons ‘n plafon gee wat baie laer is as wat ons kan bereik nie. Ons moet met ‘n oopkop die ruimtes wat deur God se genade daargestel is raaksien en daarin woel en werskaf, dan is daar geen rede hoekom ons nie sukses kan behaal nie. Gebruik die verstand wat God jou gegee het, moenie dit laat verroes nie.

Maak nie saak hoeveel foute ek gemaak het nie, ek moet sorg dat dit nie my menswaardigheid aantas nie. Kweek ‘n positiewe gesindheid teenoor jouself aan, maak nie saak wat in die verlede gebeur het nie. Lig daardie kop en kyk op, moenie ineengedoke met ‘n hangkop rondloop nie, jy is nie ‘n mislukking nie, jy sal ook nooit ‘n mislukking wees nie. God het jou gemaak en Hy het jou goed gemaak. Hy het jou nie ‘n mislukking gemaak nie.

Jy is ‘n wenner……! Plaas jou vertroue op die Here en Hy sal jou help.

No comments: