Sunday, April 10, 2011

WOESTYNWYSHEDE

Kort voor skemertyd hier in die vergeetkant van die land raak dit stil, baie stil. Stil om jou en stil in jou. So stil dat jy soms soekraak op die gisterpaaie van jou eie verlede. Dit is in stilwees dat Vader se Geeswind saggies deur jou waai op soek na ‘n staning in jou se binneste-binne. En wanneer Hy jou menswees in stilte met Sy se liefde omvou, skryf Hy wyse woorde van insig en verstaan op die tafels van jou se binneste-binne.

Wyse woestynwoorde soos ...

Nes die sagte suidewind 'n koelige lafenis oor 'n dorre en uitgestrekte woestyn instoot, bedien My se Geeswind hemelse verligting vir die gekneusde en verskroeide dele van jou binneste-binne as jy bereid is om die vensters daarvan vir My oop te maak.

Met jou se gesukkel om bo-op ‘n verkyk sandduin te kom, vergeet jy soms om brose klein grashalmpies raak te sien en so trap jy maklik ander se lewens raak. Wees tog maar versigtig en oplettend as jy weer ‘n duin uitklim.

Vanaf ‘n hoogste sandduin lyk jou toekoms soos ‘n splinternuwe skilderdoek op ‘n esel wat wag dat jy in gehoorsaamheid aan My die eerste kwashale daaroor moet verf.

‘n Erge stofstorm wat verwoed en intimiderend woed, het nes jy ook 'n kosbare skoonheid wat nie altyd deur ander mensegoed raakgesien en waardeer word nie.

Doen wat jy kan met wat jy het. Moenie toelaat dat daardie moedbreekgoeters waarmee jy so sukkel, 'n dwarsduin word wat jou verhinder om dinge te doen nie.

Die rooi oog van die warmste hemellig loer versigtig oor die nat Kalahari-vlak om met asem-ophou deel te wees van die dankbaarheid van onse wêreld. So brand hy dankbaarheid in die onthou-gedeelte van onse harte in.

Êrens in die donkerte van ‘n eensame Kalaharinag, leun ‘n witgeel regopstaan sekelmaan dapper vooroor asof hy wil beklemtoon dat jy nie moet afdraai op die duinepad van die lewe nie. Hou eerder aan met die geloofsweg saam met Hom.

‘n Stil volmaanaand is net nog ‘n doek deur Hom verskaf waarop jy met jou verbeelding kan skilder en skets tot jy besef dat drome en ideale die skilderye is wat jou binneste-binne oor jouself skryf.

Die koeligheid van die vroeë oggendlug hier aan die woestynkant van die land laat jou siel uit sy skuilplek kom, nes die Kêrelkind van God se Liefde.

Die gesukkel en gesweet om 'n hoë en eenkant sandduin uit te klim, bly 'n aanvaarbare prys om te betaal vir die voorreg om ver vorentoe te kan kyk en Hom in die dag van môre te sien.

'n Binneste-binne wat deurweek is met vrede, vrolikheid en vreugde is die resultaat van Vader se Geeswind wat jou se arms hoog en regop waai.

Wanneer jy moeg geklim is aan die dwarsduine van die lewe, sien jou binneste oog amper niks en dan is daar min wat jou se hart laat pronk soos ‘n springbok.

Terwyl Sy se Geeswind jou in stilte saggies toevou weet ek dat Sy se genadekombers styf om jou gedraai sal wees terwyl die skaduwee van die Kêrelkind van God die loop van jou se voete koel sal hou. In stilte vind ons dit waarna ons soek en kry ons waarvoor ons vra.
Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ......................
Êrens tussen duine woon mense wat jou waardeer omrede julle kosbaar en spesiaal is.
Die Kalahari Cronjé's
(Landlyn 054 - 551 1000)

No comments: