Sunday, January 15, 2012

‘n Spinnekoplike ervaring

Groete en Vrede.


Daar word gesê dat daar geen amp meer gesogt is as dié van man in die huwelik nie. Dis geensins sonder rede nie want dit bly ‘n voorreg asook ‘n goddelike opdrag om sekere verantwoordelikhede in en om die huis na te kom. Dis nou daardie tipe dinge wat geen dominee, pastoor of leierouderling tydens huweliksbegeleiding vir jou vertel nie. Dink net, jy as man kry soveel geleenthede om unieke en spesiale dinge vir haar te doen net omrede jy die hoof van die huis is. Dinge wat help dat sy meer na jou hunker om jou lief te hê. En tog, daar is manne wat hierdie verantwoordelikhede gruwelooslik agterweë laat en selfs ander betaal om dit namens hulle te doen.

Ek is ook een van daardie bevoorregte manne wat geseënd is met ‘n voortreflike en kosbare vrou. My Mooiste Mooi, ‘n liefdevolle lewensmaat en sielsgenoot wat langs my staan so deur die vet en maer van die lewe. Hoewel ons huwelik ‘n onbeskryflike ervaring is, wil ek nie daaroor uitwei nie. Hierdie storie gaan oor ‘n ervaring een laterige, warm somersaand. En wat 'n ervaring was dit nie!

Na die dag se harde werksaamhede het ek nogal uitgesien na ‘n goeie nagrus. Die Mooiste Mooi het al vroeg die aand die saligheid van droomland gaan opsoek en ek het ‘n rukkie later haar spore gevolg.  Met my arms liefderik om haar gevou het ek net so weggeraak toe sy my met die elmboog in die ribbes pomp en half bangerig vra of ek ook die gekrap langs die bedkassie hoor. Slaperig trek ek haar nader maar sy beur weg en staan dan op en los my alleen op ons dubbelbed. Sy gaan staan so amper in die middel van die kamer nadat sy die kamerlig aangesit het. Ondersoekend kyk sy rond en haar se lyftaal verander oombliklik toe sy hom sien. ‘n Spinnekop – een van daai groottes wat amper soos ‘n skerpioen lyk en hy hardloop vinnig reg op haar af.

Ek het by ingeligtes gehoor, en selfs in rolprente gesien, dat die Comanche-Indiane se oorlogskreet bloedstollend en vreesaanjaend is.  Maar dis 'n vulletjie teen dit wat op daardie oomblik uit die Mooiste Mooi se keel kom. Die arme spinnekop – en enige ander stukkie lewe in ons slaapkamer – moes sekerlik gedink het dat ‘n ultrasoniese klankwapen uit 'n ander wêreld getoets word. Die klank wat uit haar se mond kom dring spreekwoordelik in tussen alle murg en been en die spinnekop het dit voorwaar ook so ervaar. Vir ‘n minuut of wat is hy so onbeweeglik soos Lot se vrou daar in die Jordaanstreek, maar spring dan verward om en storm na die bekende donker skuilte onder ons dubbelbed.

Die Mooiste Mooi met haar sagte satynnagrokkie aan makeer die pas op haar se tone met haar se kaal knieë hoog opgetel terwyl die hande wyd uitgestrek is na voor. Haar se mond is koeëlrond getrek om te verseker dat haar gil wyd en deeglik deur ons ongenooide slaapkamergas en ook enige ander lewe in ‘n kilometer radius gehoor kan word. Dan, met net een tree en ‘n sierlike grasieuse boog spring sy tot bo-op die bed sonder om my raak te trap. Steeds weergalm haar noodroep wyd oor die sandduine van die Kalahari.

Ongelukkig vir die spinnekop kom die geraas nou van bo en dan ruk die bed ook nog boonop soos die Mooiste Mooi nog steeds die pas daarop makeer. Hy kies koers deur se kant toe want sy paniekknoppie is raak gedruk. Skielik verander sy hardloopstyl dramaties na iets soos ‘n kruising tussen ywerige polisiehond en ‘n stywebeen vetstert hamel. Met sy twee voorpote roei hy in die lug terwyl sy agterste pote met elke tree kort neffens die voorste pote neergesit word. Dit, terwyl sy lyf heen en weer waggel om ekstra spoed op te tel. By die deur gooi hy so ‘n Kaapse draai en hardloop weer die kamer in. Êrens tussen die spieëlkas en die klerekas slaan die spinnekop oor na ‘n normale hardloopstyl wat grens aan dié van ‘n windhond in volle vaart want sy agterpote kom elke keer hier langs sy ore verby soos hy hom inspan om spoed op te tel. Hier wil hy wegkom en gou.

Bangerig en bewerig staan ek van die bed af op en bewapen myself met ‘n flits en my nommer 11 plakkie. As ek nie vanaand hierdie harige gedierte die hiernamaals inhelp nie, gaan my manlikheid erg beskadig wees en sal die Mooiste Mooi my ook nie gou vergewe nie. Daarmee saam is die onthou van netnou se salige vrede van die pad droomland toe nog vars in my geheue. Versigtig lig ek onder die kas in maar die spinnekop is weg – heel weg. Na baie oorreding, paai en smeek om my Mooiste Mooi te kalmeer was alles weer normaal, alhoewel haar se oog die hele tyd die ongenooide gas gesoek het.

Die lig was net af en ek het haar beskermend nader getrek om vas te hou. Die lekkerte het net kom nesskop toe sy met mening die bedliggie aansit en regop spring op die bed. Weer word die pas makeer met haar se kaal knieë hoog opgetel terwyl sy vir haarself tyd hou met die kort afgemete gilletjies. Onverskrokke het die harige gedierte teen die bed soos ‘n bekwame rotsklimmer begin opklim. Die Mooiste Mooi se bewegings skrik hom af en hy kies weer die hasepad en gaan kruip weg in die hoek van die kamer.

“Maak hom dood” is al verstaanbare woorde wat uit die Mooiste Mooi se ronde mond kom. Die res was ‘n onverstaanbare aanhoudende gegil op ‘n toonhoogte wat varieër tussen hoog en baie hoog. Ek het nie besef sy het soveel asem in haar se longe om so lank aanmekaar te gil nie. Lomp en half deur die slaap val ek uit die bed terwyl manlike instinkte oorneem. Nes ‘n oerman van ouds soek ek rond vir ‘n knuppel of ander slaanding om hierdie nagverstoorder die lewe uit te help.

‘n Rukkie later en alles is verby. Die spinnekop is eers vermorsel met my swart nommer 11 plakkie en daarna verdrink in die spoeltoilet om seker te maak hy is weg. Vir ‘n derde keer word die lig afgesit en vir ‘n derde keer skuif en skuif ons rond om ons lê te kry. En net voor die lekkerte kom inlê begin ons gelyk soos twee skoolkinders giggel oor die nagtelike spinnekoplike ervaring.

En ek weet … Vader giggel saam want dis ‘n saam gegiggel soos dié wat ‘n huwelik kosbaar maak.

Wel, vanuit die Agter-Kalahati tot 'n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ................

Êrens tussen duine woon mense wat vir jou omgee omrede jy kosbaar en spesiaal is.
 

Die Kalahari Cronjé’s
(Landlyn 054-551 1000
)

No comments: