Wednesday, January 25, 2012

Sout op jou se lippe

Groete en Vrede!!!


Genadeloos en ongenaakbaar brand die son kort nadat hy sy se rooi oog oor die agterste duin gestoot het.  Die somer is hier en die warmste hemellig kondig dit luidkeels en oordadig aan sodat selfs die wind gaan wegkruip het.  Heel vergete is die snoesigheid van ‘n trui-dra winter en die hande vryf van ‘n hoendervel verfrissende lente oggend.  Ver verby die uniekheid van ons eenvoudige buitestort met grasbedekte kante en geroeste brandblik vir die huisrommel, dans lugspieëls op die kim sodat almal behoorlik kennis kan neem van die hitte.

Eers gooi ek die rommelsak in die brandblik, steek dit aan die brand en soek dan die koeligheid van die  kantoor op. Die Mooiste Mooi  maak reg vir nog ‘n dag saam met ‘n paar van Noenieput se vrouens. Ek kon die verwagting en opgewondenheid van opstaantyd af aan in haar se hartsvensters sien want vandag kan sy weer tyd saam met die vrouens spandeer. ‘n Dag waar gekuier, gekoggel, gelag, gesing, gehuil, gebid en ook bemoedig word. Al hierdie dinge terwyl hulle se hande kunstig die mooiste geskenke uit nuttelose weggooi dinge vorm.

Een vir een kom die vrouens nader en groet vriendelik so kuier-kuier deur die kantoorvenster en loop dan verder aan.  Hulle stemme verdoof en dan raak dit stil op die werf, baie stil en ek weet dat die Mooiste Mooi nou hulle volle aandag het.  Daar word nou so al met die gekuier saam gewerk.

Kort na ‘n ontploffing in die brandblik gil een van die vrouens so hard as wat sy kan, “Dit brand, kom gou, die stort brand!”  ‘n Verdwaalde kooltjie het met die ontploffing tussen die gras van die stort beland.  Die Mooiste Mooi hardloop verward die kantoor binne en roep histeries om hulp.  Ek los alles en saam-saam storm ons om die hoek van die huis en steek dan vinnig vas.  Geelrooi honger vlamme wurm hulle tussen die droë gras in en poog so om hulle verterende gulsigheid te stil.  Hoër en hoër trek die witgrys rook die lug in en kondig hierdie vretende vuur se vernietigende teenwoordigheid aan.

“Doen iets, doen tog net iets” skree die Mooiste Mooi steeds histeries, maar onse hande hang slap, want die vuur is doodeenvoudig net te warm en net te erg.  Selfs van die wasgoed op die waslyn raak so warm dat dit spontaan begin brand.  ‘n Magteloosheid omvou ons en met oë wyd gesper staar ons verdwaas om ons heen.  Die konsternasie om die buitestort het die hele dorp in rep en roer en almal staan nuuskierig nader. Die meeste hang soos wasgoed oor die erfdraad terwyl die braafstes onder hulle dit nader waag.  Almal wonder so by hulself of die brand ook verder sal versprei.

‘n Paar minute later en alles is verby.  Al wat nou oor is, is ‘n hoop smeulende gras ‘n paar erg verbrande teerpale en natuurlik soveel kosbare sentimentele herinneringe.  Ek kan die trane oor my se wange voel loop.  Ons buitestort en ‘n klompie klere is verniel, verbrand en vernietig.  Ek voel so swak, so klein teen die mag van ‘n vernietigende brand.  Veral as die verwoestende brande van die lewe soms onbeheersd in elkeen van onsse binnekante woed.

Skielik proe ek die sout op my se lippe wat my opnuut laat besef:
 
My se binneste-binne is soms houtskool verbrand
Verwoes, verniel, geen kans aan hierdie kant

Ek is seer Here, my binnekant stukkend!
Wrede brande woed in my, wurgend snikkend

In sak en as moet ek voor Hom staan
Sy liefde het vir my hoop gebaan

Here, wat gemaak met die skade in my se hart
My kind spoel jou hart uit met trane vol smart

Ek kan steeds die trane oor my se wange voel
In lewensbrande bly ek gespaar vir ‘n doel

My geliefde kind, laat jou trane vrylik loop
Dis My manier om seer van jou te stroop

Ek weet van almal selfs die kleinste traan
Almal opgevang in ‘n kruik wat langs My staan

Iedere een gestort want dit is goed
Trane is die sagte reën vir jou gemoed.


Proe jy ook soms die sout op jou se lippe?

Wel, vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ..................


Êrens tussen duine woon mense wat vir jou omgee omrede jy kosbaar en spesiaal is.
 

Die Kalahari Cronjé’s
(Landlyn 054-551 1000
)

No comments: