Sunday, January 8, 2012

Vriendskapsvlam van hoop

Groete en Vrede!!!


Die geur van die laatmiddag se sterk moerkoffie vul ons vriende se oorloop kombuis en verwelkom ons sintuie in ‘n wêreld van oorvloedige smaak en bederf. Ons was al van tevore ‘n paar keer hier en het elke keer lekker oorgestaan. Dis juis in hierdie einste voorslagplaas se kombuis waar ek en die Mooiste Mooi voor verlede maand ons rondom vol geëet het en dit, nog voor die soetigheid voorgesit is.

Kort na die groet en ons uitvra na ons vriende en hulle hartsmense se wel en weë, kan my Mooiste Mooi die opgewondenheid in haar se binneste-binne nie meer inhou nie. Met haar se groen oë wat skitter vertel sy breedvoerig en sonder stop, soos ‘n onkeerbare standstorm uit die woeste weste, van die groot lekkerte om kool, spinasie, wortels, tamaties, aartappels, uie, patats, beet, blomkool, appels, piesangs, perskes en ‘n verskeidenheid ander vrugte en groente aan die vergete mense van die Agter-Kalahari te kon uitdeel. Nes ‘n goeie Graad 1 onderwyseres word alles deeglik gedoen en geen detail is oorgeslaan nie.

Eers vertel sy van die kosbare voorwêreld mensegoed wie se gewersharte daardie dag so wyd oop gelê het soos die Rooisee met die volk se deur-loop. Daarna beskryf sy in die fynste besonderhede hoe elke kartondoos aan die binnekant eers met polistireen uitgelê en daarna met vars produkte gevul is. Want hierdie vars groente en vrugte moet na meer as 870 km se vervoer in die warmste somer nog kraakvars in die Agter-Kalahari afgelaai word. Ai, die meet, die sny en die insit, so saam met die gesels en gekoggel, het almal se harte sommer so ‘n bietjie vroliker saam met die werksaamhede laat klop. Opgewonde, tussendeur die werksaamhede, wonder ek wat die Kalaharimense se reaksie sal wees op hierdie ongekende genadegeskenk uit Vader se hand.

Die Mooiste Mooi se tee word koud maar dit bring haar geensins van stryk nie. Onverpoosd borduur sy voort terwyl haar se hande al vinniger en yweriger saampraat. Dit waai en swaai saam met elke woord en beklemtoon die opgewondenheid in haar se binneste-binne. Ai, waarvan die hart van vol is, stroom mos by die mond uit, word daar altyd gesê.

Dan vertel sy dat die boodskap van vars groente en vrugte soos ‘n weghol veldbrand deur die gemeenskap gespoed het. Netnou kan daar by die vernietwinkel na hartelus met ‘n briefie vol dankiewoorde gekoop word. ‘n Groepie wat van vroeg af buite die hek gewag het, kom koeskop nader om op my versoek te help uitpak. Grootoog staan hulle en kyk na die vrag groente en ander snuisterye op die agterstoep wat donkertyd die vorige aand afgelaai is. Nou moet dit net in pakkies gemaak word en dan ... dan begin die hartsvreugde se gejubel.

Die hoogtepunt oomblik breek aan. Die vernietwinkel is oop. Met pynlike presiesheid beskryf die Mooiste Mooi die verwondering op die mense se gesigte want so ‘n groot verskeidenheid van kossigheid ken hulle nie. Daarna deurdring blydskap en dankbaarheid hulle menswees en dit spoel oor hulle se lippe. Ai, die lekkerte van ‘n opregte glimlag (veral uit ‘n tandlose mond) kan mos nie geweeg of gemeet word nie. Daar word dankie gesê en gekuier en gekoggel en geskerts met mekaar. Voorwaar ‘n oorverdowende kakofonie van klank.

Die stilte in rondom die kombuistafel in die oorloop kombuis is hoorbaar toe die Mooiste Mooi weer asemskep.  Sy wou nog vertel en beduie van ‘n vergete Kalahari mens se opregte woorde “Die Djere se voorsieningheid het my se lewe nou gemaak,” toe ons plaasvrou vriendin haar skielik onderbreek. “En julle het vir my niks gebring nie! Waar is myne? Het jy al daardie goete vir die hotnotte gegee en niks vir my nie? Nee wat, julle maak nie mooi nie, dis mense soos julle wat maak dat hulle so suip. Julle dra mos kos en klere aan en nou hoef hulle nie meer daaroor te worry nie. Julle maak dat hulle so suip want julle sit geld in hulle se hande.”

Skok slaan spierwit op my en die Mooiste Mooi se gesigte uit. Stomstil en oopmond sit ons daar terwyl onse oë met verbasing na mekaar staar. Hierdie uitbarsting van ons vriendin het niemand verwag nie. Stadig maar seker kom ek tot verhaal en wou iets sê maar Hy het my ferm tot stilte gemaan. In stilwees en hoop word Hy meer en ek minder.
 
‘n Dag of wat later sit ek en die Mooiste Mooi êrens op ‘n groot rooi sandduin en beleef die stille skoonheid van ‘n diep rooi en helder oranje sonsondergang. Die wolke lyk soos vlamme wat in die hemelruim en op die verste sien brand. Nog ‘n dag is verby en ek wou net darem eenkeer oor daardie dag se kwetsende ervaring protesteer toe Sy Geeswind saggies fluister, “Ware vriendskap is om saam met iemand te hoop in die soeke na ‘n egte waardering terwyl daar saam gesmag word na opregte liefde. Al beteken dit soms dat jy deur ander se wrede woorde in die sand vertrap word.”

En nou ... brand êrens in my se binnekant brand weer ‘n vriendskapsvlam van hoop ... want om goed te doen bly steeds beter as om reg te wees.

Wel, vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ..................

Êrens tussen duine woon mense wat vir jou omgee omrede jy kosbaar en spesiaal is.
 

Die Kalahari Cronjé’s
(Landlyn 054-551 1000
)


Naskrif

Mag 2011 se Kerstyd en 2012 se koms ‘n besondere tydperk van liefde en danksegging in jou lewe wees.  En wanneer die kersboom met al die liggies weggepak word tot volgende jaar, weet dat Jesus nie saam gebêre wil word nie want waar Sy se liefde is, is daar altyd kosbare wonderwerke.

No comments: