Friday, July 3, 2009

GOIINGSAK VOL WATER

Ek het hierdie verhaaltjie nou onlangs as 'n Power Point aanbieding deur die e-pos ontvang en kan aan niemand die krediet daarvoor gee nie. Geniet dit

Hoekom die Bybel lees as ek niks verstaan of, as ek verstaan, nie onthou wat ek gelees het nie?

Storie van 'n Oupa wat iewers in die berge gebly het met sy kleinseun. Die knaap het baie hoë agting vir sy oupa, en soos dit maar gaan, het hy probeer naboots wat Oupa doen.
Oupa se gewoonte was om elke oggend, dou voor dag op te staan, die ou koolstoof aan die brand te kry, en dan vat hy sy ou gehawende Bybel en gaan sit in die lekker warm kombuis by die tafel en lees uit die Bybel. Die kleinseun het Oupa dopgehou en ook sy Bybel gaan haal, en net soos Oupa, soggens by die kombuistafel gaan sit en lees.
Maar iets het die knapie baie gepla: "Oupa, ek weet nou nie so mooi nie," sê hy een oggend, "ek probeer ook die Bybel lees soos Oupa, maar ek verstaan nie wat ek lees nie. As ek die slag verstaan, dan waai dit by my ore uit en netnou het ek alweer alles vergeet wat ek gelees het. Oupa, is dit ooit die moeite werd om nog uit die Bybel te lees? Ek meen- wat is nou die nut daarvan as ek tog alles vergeet?"

Oupa het diep gedink, en toe sien hy 'n leë steenkoolsak, al pikswart gevlek van die roet langs die stoof lê. "Boetie, gaan haal vir Oupa 'n sak vol water in die stroompie hier onder," vra hy die seun.
Gretig om Oupa te plesier, spring die knaap daar weg met sy goiingsak en laat vat af stroompoie toe. Dis harde werk om die sak vol te kry, maar hy byt vas. Met die sak oor sy skouer hardloop hy terug huistoe, na Oupa wat sukkel om nie uit te bars van die lag nie. Natuurlik was die sak dolleeg gelek teen die tyd dat hy by Oupa aankom. "Ai man," sug Oupa. "Jy sal maar weer moet gaan probeer jong," en daarmee suiker die knaap weer af stroompie met sy sak. Hierdie slag hardloop die outjie terug met sy sak water so vinnig as wat sy beentjies hom kan dra, maar steeds is dit verniet want natuurlik is die sak weer leeg by sy aankoms. "Nee Oupa," blaas hy uitasem. "Dis onmoontlik - hierdie sak lek!" en daarmee gooi hy die sak eenkant en gaan gryp 'n emmer. "Nee Boetie", keer Oupa hom. "Ek wil nie 'n emmer water hê nie ek wil 'n SAK water hê! Toe jong, jy kan dit mos doen! Jy probeer net nie hard genoeg nie." Oupa gaan staan in die kombuisdeur wn hou die seuntjie dop waar hy die onmoontlike taak probeer uitvoer. Die seun het lankal besef dat hy besig is met 'n gejaag na wind, maar hy probeer so hard om vir Oupa te plesier, dat hy maar gedweë weereens die sak in die stroompie volmaak en met sy lekkende vrag so vinnig as wat hy maar kan, die bultjie ophardloop na Oupa toe.
"Nee Oupa, dit werk nie," Huil-sê die outjie moedeloos. "Kyk hoe hard probeer ek, maar niks gebeur tog nie!"

"Dink jy regtig dat daar niks gebeur het?" vra Oupa. "Kyk dan 'n slaggie na die sak. Wat sien jy anders aan die sak as toe jy begin het?"

Met 'n vraag in sy oë bekyk hy die sak - wat kan Oupa tog bedoel? Die steenkoolsak is natuurlik sopnat van al die gewaterdraery. Skielik besef hy dat die sak ook skoon is- al die steenkoolstof is uitgewas! "Oupa, die sak is skoongewas! Maar ek verstaan nog nie Oupa?"
"Boetie," sê Oupa. "Dis wat gebeur wanneer jy die Bybel lees. Miskien verstaan jy nie alles wat jy lees nie en dalk vergeet jy amper alles wat jy so hard probeer onthou. Maar terwyl jy lees gebeur daar iets met jou - jou binnekant word verander- jy word as't ware skoongewas van binne af terwyl jy die Bybel lees"




1 comment:

mariki said...

Ai, ons sal waarlik met alles besig bly en allerhande dinge doen, en nog verskonings uitdink ook, net om nie te gaan sit en skoongewas te word nie...