Wednesday, July 8, 2009

WAT DRYF OF MOTIVEER JOU

Wat laat jou elke oggend opstaan? Wat dryf jou om elke dag deur te gaan? Wat motiveer jou om alledaagse dinge te doen en daagliks jou ure tot barstens toe te vul? Dit kan tog nie geld wees nie want by die 7de van die maand is die geld op, wat dryf jou dan vir die res van die maand?
As mens kyk na die armstes van die armes wat geen kans het om geld te verdien nie wat met ingesonkte oe en ribbes wat baie ver uitstaan daagliks 'n sleurbestaan voer, wat motiveer hulle? Is dit hoop? Hoop dat daar vandag iets sal wees om te eet? Wat motiveer daardie persoon wat op die straathoek staan en bedel, wat sy plakkaat omhoog hou om te wys hy het nie 'n werk nie en geen inkomste nie. Is dit hoop dat iemand vandag vir hom iets sal gee sodat hy kan eet en sy gesin kan voed, al is dit net vir een maaltyd? Wat van daardie straatkind wat langs jou motor kom staan? Jy kan sien daar het baie lanklaas water by hom verbygekom, daardie gesiggie en handjies is asvaal. Wat laat hom elke dag opstaan waar hy tussen plastiek en karton op die harde grond die nag gelê en koud kry het? Is dit hoop wat hy in hom koester dat iemand hom dalk vandag 'n kombers sal gee sodat hy nie vannag koudkry nie.

Is dit verkeerd om te wonder, wat het God gemotiveer om sy Seun Jesus Christus na die aarde te stuur om te sterwe vir ons sondes? Is dit dalk die hoop dat die mensdom in totaliteit sal afsien van die sonde en hom onvoorwaardelik bekeer tot God? As ons om ons kyk is dit helaas nie moontlik dat die mensdom as 'n geheel 'n 180 grade omdraai sal maak om versoen te raak met die Vader nie. Ek is seker God is dankbaar vir elkeen wat bereid is om daardie verandering in sy lewe te maak. Om homself te verloën die prys te betaal en Jesus aan te neem as Verlosser en Saligmaker.

Wat motiveer elke ware kind van God om daagliks die Bybel te lees en stiltetyd te hou, om Woensdagaande die weeklikse biduur of selgroep byeenkomste by te woon, Sondae die oggend en aanddienste by te woon, asook nog ander gemeentlike aktiwiteite wat op 'n weeklikse basis aangebied word te ondersteun? Wat motiveer ons om reg te lewe en nie te wil sonde doen nie?
Is dit dalk die hoop om Jesus eendag op die wolke te sien kom om Sy kinders te kom haal? Om die goue straat in die Nuwe Jerusalem te bewandel? Om eendag van aangesig tot aangesig te ken? Om die krone vir jou arbeid in diens van die Meester te ontvang?

Wat motiveer jou as individu regtig om die Here aan te hou dien?

2 comments:

Nimsi se Blog said...

Oom Petrus

mariki said...

Hoop, geloof en liefde, OomP -- maar die grootste hiervan is die liefde van ons HereGod wat Hy so mildelik deur ons Motiveerder (die Helige Gees), in my lewe laat werk.

As dit darem nie daarvoor was nie....