Thursday, July 2, 2009

SLAAF OF VRYMAN

Miljoene mense bewandel hierdie aarde in 'n staat van absolute gevangeneskap. Hulle is vasgevang in allerhande welluste wat hulle lewens regeer. Allerhande ding word aan hulle voorgehou as die utopia net om dan in hulle aanvaarding daarvan al hoe dieper in die gemors ingetrek te word. So word die mens deur die satan verslaaf om sy wil te doen en sy wense uit te voer. 'n Slaaf word vasgevang in dit wat hy doen, hy kan nie sy kop optel nie en moet net altyd met sy neus in die gemors rondloop.

Dit is eintlik tragies om dit te sien. Dit lyk asof die mense dit geniet om, so kop onderstebo met die neus in die drek, hulle lewens te slyt. Dit lyk asof hulle dit geniet om daardie dampe in te adem en maar net aan te gaan. Hulle lewe in die waan dat hulle oppad is na 'n beter toekoms, dat alles een of ander tyd een honderd persent sal regkom. Intussen sak hulle stadig dieper in daardie gemors in. Dit is net jammer dat die wat al hulle wil verloor het om uit die gemors te kom, andere wat miskien nog 'n kans het, saam met hulle af te trek.

As die slawe op die aarde net geleentheid maak om hulle koppe op te tel en 'n slag weg te kyk vanaf dit waarmee hulle besig is, sal hulle sien dat daar werklik 'n ander beter lewe is. Nie iets wat miskien eendag sal kom nie maar 'n beter lewe wat nou alreeds beskikbaar is. Hulle moet net lankgenoeg opkyk sodat die skille van hulle oë kan afval, dan sal die Lig wat die Here Jesus in die wêreld ingebring het vir hulle deurbreek.

Dan sal hulle agterkom dat God nie slawe maak van mense nie, maar Hy maak hulle vry van sonde en hy gee hulle die reg om Sy kinders genoem te word. Hy gee aan hulle 'n nuwe hoop op die ewige lewe en die wederkoms van Sy Seun Jesus Christus.

Is jy 'n Slaaf of 'n Vryman...?

1 comment:

mariki said...

'n Vraag van ewige belang, hierdie!