Tuesday, July 14, 2009

SPORE VAN EENVOUD

Groete en Vrede!!!

Met ‘n oorloop hart staan ek een laatoggend op die voorstoep van die huis en geniet die vogtigheid in die lug na die welkome reënbui. Vars lê die raasligte en harde eggo slae wat oor die uitgestrekte vlaktes reisies gehardloop het in ons oë en ore. Die soet hemelwater wat in ronde, vet druppels geval het, tower die plat Kalahari vlak nou om in ‘n see vol menigte waterplasse. So dink ek terug aan my jongdae en veral hoe ek met reëntyd ook maar onder dak moes bly. Ek onthou en ervaar weer die saligheid van kommervry kindwees en die lekkerte van kaalvoet in die modderplasse speel. Salig voorwaar.

Dan sien ek Ou Let met haar bekende waggel-waggel stap van veraf in die pad aankom. Sy, wat oornag van niemand in iemand verander het na haar man, Jan, se ontydige dood voorlaaste jaar. Ou Let wat die lewe op haar eie Kalahari manier aanpak - sonder haas en sonder spoed. Rustig staan ek en wag dat sy nader waggel en groet dan vriendelik. Haar oë probeer deur die brillense fokus maar ek staan kort agter sig. Opgewonde herken sy my stem en haar gesig blom vriendelik met my naderstaan aan die klein hekkie. Ons gesprek is lig, vol kwinkslae en ‘n gekoggel.

Dan vang my oog haar waggelspoor wat plek-plek wegraak tussen die plasse water. Spore wat reguit en doelgerig loop ongeag hindernisse in die pad, spore getrap met geëelte kaalvoete. Spore van eenvoud en afhanklikheid. Afhanklikheid aan Hom. En saggies skryf Hy met Sy vinger op die deur van my hart se skatkamer “Salig is die wat spore van eenvoud vir My trap, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”

‘n Week later en ek staan weer so teen die middag se koffietyd op die voorstoep van die huis en sien Ou Let se kaalvoetspore in die songebakte modder buite die klein hekkie. Spore van eenvoud, spore van kind afhanklik wees. Diep in my weet ek dat, solank ek leef, ek ook spore van eenvoud wil los oral waar ek gaan. In die verre weste knip die son sy oog en plaas daarmee ‘n aksent van Vader se warm hartklop daarop met ‘n goudgeel sonsak want ek en jy bly afhanklik aan Jesus, ongeag wat.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot 'n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ...................

Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene

DIVINE LIFE SENDING.

(Landlyn 054-551 1000)

1 comment:

mariki said...

"Hauk" OomP, en ons wat alles behalwe "eenvoudig" wil wees of eenvoudige spore wil trap. Sterk woorde hierdie sagtes.

Dankie baie.