Wednesday, May 12, 2010

DANKBAARHEIDSMELODIE

Weggesteek agter ‘n klompie helderrooi sandduine lê die klein plekkie en broei in die laatsomer se agtermiddag sonnetjie. Los wolke wat laag oor die westelike verste sien lê, hang rustig en wag om hulle unieke bydrae in die skepping van nog ‘n asemrowende hemelruim skildery te maak. Vanuit ‘n oorvol gelaaide Genadewa wat so halflyf in die bietjie koelte van ‘n peperboom geparkeer staan, bekyk ek en die Mooiste Mooi ‘n vaalbont werfhoender wat al te pronkerig met haar geelwit donsagtige kroos so skrop-skrop Sy voorsienigheid opsoek.

Met haar tingerige skouertjies vooroor getrek en maer armpies wat woes heen-en-weer swaai, kom sy met kort treetjies doelgerig al nader en nader aan ons. Verward spat die werfhoender en kuikens onder haar se voete uit en soek elders skuiling. Onverwags steek sy vas, gooi haar se twee handjies waarvan die vingertjies jare gelede al van oumenssiekte inmekaar getrek het in die lug, trek haar se geplooide gesig op ‘n kreukel en beloer ons met haar se vaal katarakoë. ‘n Vaalpienk tandlose glimlag verhelder die dorre gesiggie en dan waai sy ons nader. Eers word ek met die groetslag geïgnoreer terwyl die klein, maer ou vroutjie haarself liefderik onder die Mooiste Mooi se blad inwurm al asof sy haar nooit weer wil los nie. “My se gebed is gehoor, die Djere het my se gebed gehoor en Hy het voorsien want onse Pastoorgoed het tog weer hier by ons kom oorstaan,” kook dit oor vanuit haar se binneste-binne. Styf met haar een armpie om die Mooiste Mooi gevou, stap die twee baie stadig na haar se opslaanhuisie terwyl sy belangstellend uitvra oor onse welstand.

‘n Rukkie later het die woord dat ons daar is gou-gou deur die hele gemeenskappie versprei. Daarmee saam word vertel dat vanmiddag ‘n uitdeeldag, ‘n weggeedag, ‘n bederfdag is want ‘n vernietwinkel het hier kom oorstaan. ‘n Vernietwinkel vol klere, blikkieskos, meel en ander eetgoed selfs ook sporttoerusting, skryfbehoeftes en speelgoed. ‘n Vernietwinkel waar betaling gedoen word met ‘n opregte dankiebrief vanuit die skatkamer van jou se hart. ‘n Vernietwinkel oorlopens toe vol van genade vir diegene wat daarvan wil hê.

Een vir een staan hulle nader; nader aan die Genadewa en nader aan Vader se genade voorsienigheid. Gretig sit die meeste handjie by om die Genadewa se vrag af te laai en gou-gou is alles op die grond uitgepak. Dan begin die uitsoek in alle erns om kort daarna items trots eenkant weg te bêre. Al harder en harder word daar gelag, gehuil en gekuier. Kledingstukke word een vir een gemeet, gepas, uitgeruil en selfs vir mekaar gemodelleer. Die jong klomp daarenteen het net oë vir die sokkerballe en kort voor lank is daar ‘n spontane wedstryd aan die gang. Selfs van die ouer manne speel so-hande-op-die-knieë saam.

Stil-stil staan ek en die Mooiste Mooi eenkant toe om dié vergete en eensame groepie Kalahari bewoners se ekstatiese vrolikheid en dankbaarheid te geniet. ‘n Groepie mense wie se eens dowwe oë nou sterhelder blink en nuwe plooie vou van al hulle gelag, gekoggel en geskerts. ‘n Groepie mense wat selfs met krummels tevrede is. Met my se arm om die Mooiste Mooi se skouers luister en kyk ons na hierdie groepie mense se dankbaarheidsgesang met melodie. Rustig waggel die oumatjie nader en kom druk haar se maer lyfie so styf tussen ons in. “Pastoorgoed,” sê sy nadat sy haar se maer armpies styf om ons geslaan het, “die Djere is vir ons al te goed. Kyk net al die mooi goedjies wat vandag hier uitgedele is”.

Terwyl ons die laaste klompie minute van ‘n betowerende oranje en rooi sonsondergang met sagte pienk wolke geniet, eggo Sy vroegoggend wakkerwordwoorde onophoudelik in my se ore “My hartsmusiek kan gereeld tussen die sandduine van die lewe gehoor word, want ‘n dankbaarheidsmelodie word slegs gekomponeer uit jou se daaglikse doendinge.”

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou .........................

Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

(Landlyn 054-551 1000)

No comments: