Sunday, May 9, 2010

STILWEES GEFLUISTER

Ek en die Mooiste Mooi kry onse sit op die rand van die volkshuisie se sementstoepie terwyl die warm rooi Kalaharisand ons voete sommer so dwarsdeur ons skoensole brand. Sedert die ontmoetingswoorde met die stilhou, het ‘n aanvoelbare stilte ons soos die opskopstof van die Genadewa omsingel. So met die saamstap na sy woonplekkie toe besef ek skielik dat Willem, as ‘n belese Kalaharimens, ons voorwaar sou dop gehou het met ons rondloop so ‘n bietjie vroeër daar onder by die verlate en vernielde plaasopstal.

So in sy gemaklike stap deur die los rooi sand, beloer Willem ons wantrouig bo-oor sy se swart dikraambril. Sy amperse swart of selfs donkerbruin oë is agter vuil gevatte brilglase smekend en naarstigtelik opsoek na leidrade wat as herkenning kan dien. Hy moet weet wie ons is want hier het hoeka se tyd laas iemand kom oorstaan op hierdie vergete plaas en dit nogal ongenooid. Ek is onnodig moedswillig en hardkoppig met die ignorering van die stille pleitkrete in sy se oë en gevolglik kook ‘n diep sug onbeskaamd oor uit Willem se amper tandlose mond.

Hy kry sy se sit op die stoepie net toe die oggendtee sonnetjie sy se kop skielik agter die enigste wit pluiswolkie in die lug uitsteek en alles kasty waarop hy genadeloos sy strale kan skyn. Sag en versigtig begin ek hom uitvra oor sy toentertydse lewenspad. Eers stotter en dan proes sy se vertel soos ‘n yskoue Listerenjin maar die voorreg om met iemand te gesels maak dat hy lateraan genotvol begin beduie van die klomp paaie waarop sy se spoor al getrap is. Mooi paaie, oorloop paaie, knuppeldik paaie. Paaie besaai met innerlike geluk, goddelike vrede en hemelse vreugde wat begin het die dag toe hy God se Kêrelkind ontmoet het. Paaie geteer met ‘n vroeëre tyd se luister as die Veilige Gees se sagte stem fluister.

Wees stil en weet dat jy in stilte ook ander help om dit wat verkeerd loop te vergeet,” fluister die Veilige Gees saggies in my se hart toe Willem se oë so skielik soos ‘n geelslang se pik verander. Die vreugde en genot in sy se oë maak plek vir verslaentheid, terneergedruktheid, depressie, hartseer en selfs boedel oorgee. My oog vang selfs die Mooiste Mooi en sien hoe twee identiese traanvormige sweetdruppeltjies in die hitte van ‘n windlose somersdag oor haar se wange reisies jaag. Standbeeldstil sit sy en wag en dan weet ek dat Vader vandag iets spesiaals gaan doen want ek glo in Hom selfs as Hy wil hê ons moet stil wees.

Geduldig sit ons en wag vir Willem om sy se lewensverhaal verder te vertel. Rustig haal hy diep asem, sug diep en vee blink sweetdruppels tussen die krake van sy se songeskroeide vel met ‘n ou vuil geskifde sakdoek af. Beskrywend en kleurvol vertel Willem van die huidige versengende droogte in sy se hart omrede “Ek mos afgedraai het op my se eie pad toe die Djere nie wou saam nie. So gaan ek by myselwers maar vingertjie alleen aan”. Dan beduie Willem hoe swaarkry, hongerpyne, lyflyding en ‘n byna doodgaan-sukkel diep breë erosieslote oor sy se lewenspad gespoel het. “Nee wat,” het hy gesê, “Ek kan voel my se oopgraftyd is aan die kom.”

Skielik bly hy stil so in die middel van ‘n sin en bekyk my en die Mooiste Mooi elkeen weer aandagtig. “Die Djere het julle gestuur om by my te kom oorstaan,” kom dit versigtig oor sy se lippe. “Hy het my wraggies waar nie vergeet nie het my se voete sinkplate sonder Hom geloop.” Die knik van my se kop bevestig die woordlose vraag uit sy se binneste-binne en dan ervaar en sien ek hoe Vader in ‘n goddelike stilte ‘n nuwe begin en ‘n nuwe lewe aan hierdie eensame en alleenmens gee. Skoonmaak traantjies vol vergifnis, vergewe en vergeet wel in sy se amperse donkerbruin swart oë op en was hom in stilte van binne skoon.

‘n Rukkie later en ons staan weer by die Genadewa om te groet. Ek skud sy sonverskroeide geëelte hand terwyl vroeër se goddelike aanvoelbare stilte steeds soos ‘n kniekombers om ons hang. Klein stofwolkies omarm Willem met die wegry terwyl sy gesig spog met ‘n nuut geskilderde glimlag gewortel in sy se nuwe binneste-binne. Net voor die draai met die dik sand aan sy buitekant, kyk ek vir oulaas in die agtertoekyk spieëltjie van die Genadewa en sien Willem seëvierend met arms omhoog en hande wat wuif by die werfhek staan. En terwyl hy verswelg word in sy nuutgevonde vrede en vreugde, bekragtig Vader weereens vlinderslag Sy se oorwinningswaarheid.

Onse oorvloedslewe is verseker deur stilwees en te luister na die Veilige Gees se sagte gefluister.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ………………………

Êrens tussen sandduine woon mense wat vir jou omgee omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

No comments: