Friday, May 14, 2010

VOELS VAN VERGIFNES

Kort voordat die oggendster sy se oog hierdie Goeie Vrydag geknip het, het ons geveerde vriende nes elke dag hul teenwoordigheid in die Apiesdoring aangekondig met ‘n gesels en ‘n geraas. Altyd ongeduldig, altyd haastig, altyd besig. Harder en harder tjirp hulle sodat van die laatslapers ook uiteindelik by hulle kom aansluit. En so tussen die getjirp, gesels en geraas, word daar heen en weer, op en af, oor en weer gespring want stilsit en lui wees is nie eie aan hulle se aard nie. Terwyl die son sy sê kop so luilekker optel, bekyk en beloer ek hierdie geveerde ongeduld vanaf die agterstoep.



Met ‘n blikbeker oorlopens toe vol met voëltjie saad, stap ek nader aan hul ongeduldigheid. Hul menigte spoortjies van gister, eergister en selfs die hele verlede week se geëet lê steeds onversteurd op die sanderige stukkie grond onder die Apiesdoring. Hierdie is hul voerplek, hul oorvloedsplek waar hulle elke oggend tot barstens toe vol kan eet. My naderstaan met die kossigheid jaag ‘n klompie op wat reg onder die Apiesdoring te vergeefs in afwagting in gister se oorblyfsels rondgekrap het. Vireers loop sit hul leë krop tussen die ander.



Ek was skaars ‘n paar treë weg van die Apiesdoring af toe ‘n digte wolk van versamelvoëls sonder vrees neerdaal op die lekker bederf wat ek uitgegooi het. Elkeen opgevang in sy eie dolle gejaag om soveel moontlik te verslind en sodoende die innerlike hongerte van die eie ek te probeer bevredig. Skielik land ‘n paar tortelduiwe vanuit die niet langs die bederfplek onder die boom. Verskrik spring ‘n paar opsy terwyl sommige ander hierdie ongenooide indringers hoogs verwaand en selfs geïrriteerd aankyk. ‘n Oomblik later is alles vergete en gaan hulle vraatsig voort om die bederf te verslind. Elkeen se aandag bly onverstoord gefokus om sy eie krop vol te stop en heel vergete is die wêreld se bestaan.



Die Mooiste Mooi bring ‘n vroegoggend drink dingetjie en haar se onverwagse teenwoordigheid bring skrik onder die geveerde vriende. Blitssnel dawerend vlieg almal haastig die Apiesdoring in. Hier vanuit die veiligheid van ‘n lowergroen blarekleed, bekyk hulle die erf wantrouig. Die mees ongeduldiges, met uitgestrekte vlerkies en koppies wat draai, gee hul misnoeë duidelik te kenne. Skaars het sy haar se sit langs my gekry en die geveerdes sak weer soos uitgehongerde vrate op die bederfkos neer.



Kort voor lank loop hul gemoedere oor. Eers stry twee, daarna drie en toe sewe en kort voor lank kon niemand onder die Apiesdoring meer iets te ete kry nie. Die stof dwarrel en draai behoorlik soos hulle mekaar takel want niemand gun iemand iets nie en dit terwyl daar meer as genoeg is om van te eet. ‘n Groot bosduif wat nadervlieg se harde vlerk geklap jaag hulle weer die Apiesdoring in. Net soos vroeër, bekyk hulle die wêreld wantrouig en sak weer soos een man neer. Lank vergete is netnou se oorlog en baklei en die oorvloedige gevreet begin weer van voor af aan.



‘n Uur of wat later en die Mooiste Mooi is êrens besig in die huis. In verwondering sit ek alleen op die agterstoep en kyk na die ons geveerde vriende se verlate voer-en bederfplek. Menigte spoortjies agtergelaat op die sanderige oorvloedsplek vertel hul eie vergifnisverhaal en toe ...................



Sommer so, sonder om te vra,


Help klein versamelvoëls ‘n spieëlbeeld uitdra.



Saggies plaas Hy woorde diep in die hart,


Opgedra aan ons slagoffers van spyt en smart.



Help tog Here, help ons begin,
Bring U waarheid, U liefde, ons moet besin.



Die eie ek het deurmekaar geraak,
Hierdie skewigheid smeek vir ‘n reguit maak.



Oordonderend is die duin van pyn,


Verlos ons van hoogmoed, hebsug en skyn.



Help tog Here, help ons vergewe,


Want vergifnis is die basis van oorvloedslewe.





Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ......................



Êrens tussen duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

No comments: