Monday, September 14, 2009

ADAM & EVA

Dink net daaraan hoe lekker kon Adam en Eva in die tuin van Eden gebly het. Hulle kon laat slaap in die oggend, sonder dat ‘n wekker hulle wakkermaak. Daar was geen telefone of selfone wat hulle heeldag gepla het nie. Hulle kon rustg wees en kwaliteit tyd met mekaar deurbring. So ‘n lekker laat ontbyt van vrugte en watter ander kosse hulle ookal geeët het net om die dag reg te begin. Eva het nie nodig gehad om vuur te maak en pap te kook nie, hulle het net tussen die pragtige boorde ingeloop en gepluk waarvoor hulle lus gehad het.Hulle het geen klere gedra nie, so Eva het ook nie nodig gehad om knope aan te werk en nate in te sit of klere te maak nie. Adam het nie ‘n werk gehad waarheen hy elke dag moes gaan nie, hy het nie nodig gehad om tweemaal op ‘n dag die verkeer te trotseer nie.
Hulle was darem nie heeltemal ledig nie, nee hulle het ‘n baie groot opdrag gehad om uit te voer. Hulle moes al die diere van die aarde name gegee het

Dink net aan die ander wonderlike voorreg wat hulle gehad het. Saans het God op die aandwindjie gekom en saam met hulle deur die tuin gewandel. Dink net hoe lekker dit moes wees om met die lewend God te gesels en aan Hom al die vrae te vra wat hulle gehad het. Dalk het hulle geen vrae gehad nie omdat hulle baie gelukkig moes gewees het om in die wonderlike plek te woon.
Sekerlik het God hulle onderrig terwyl hulle so deur die tuin gewandel het. Van al die bome in die tuin mag julle eet, maar van die boom wat in die middle van die tuin staan daarvan mag julle nie eet nie. Dit is die boom van goed en kwaad van hom mag julle nie eet nie, want as julle dit doen sal julle sekerlik sterwe.

Elke dag as Adam en Eva so deur die tuin wandel om kos in te samel, het hulle seker maar onwillekeurig so deur die middel van die tuin gestap en die pragtige verbode vrugte bewonder. Seker ook maar baie gewonder hoekom God nie wou hê dat hulle van die vrugte mag eet nie, want hulle is darem so mooi.

Heerlik het Adam en Eva in die tuin gebly, tot op daardie dag..........!

Toe hulle vroeg die oggend wakker word, het hulle nie geweet wat daardie dag met hulle sou gebeur nie en hulle het ook nie die vêrrykende gevolge wat daardie dag op die ganse mensdom sou hê, besef nie...!

Hoeveel oggende word ons wakker en ons besef nie wat daardie dag vir ons inhou nie. Dit is ‘n dag soos elke ander dag, maar ons weet nie dat dit die dag is wat die slang uitgekies het om ons te besoek en vir ons daardie geestelik slaggat te stel nie.
Ons staan lekker op, stort en doen. ‘n Rukkie later begin ons normale roetines. Ons ry werk toe waar ons daaglikse dagtaak vir ons wag. Dit is vergaderings, beplannings, afsprake,papierwerk, briewe en e-pos lees en antwoord. Ons dagtaak slurp ons gedagtes so op dat ons aan niks anders dink as die voor die handliggende take nie. Miskien kry ons deur die dag kans om vir Liefie te skakel en net vir hom/haar te vra hoe dit gaan, of net ‘n sosiale afspraak te bevestig, verder is ons so besig met ons eie dinge dat daar nie tyd is vir ander dinge of gedagtes nie.

Dan net so voor huistoe gaan tyd, wanneer die ergste druk van die dag af is en die spanning so bietjie begin lig, dan kom staan daardie slaggat voor ons reg in die pad wat ons moet loop. Hierdie slaggat kan verskillende vorms aanneem, en kan jou op verskillend maniere pooitjie; Met humeur, met taalgebruik, met begeerte, met jaloesie, met vergrype, met versoeking, met twyfel, met oneerlikheid, met ongehoorsaamheid, met bakleiery en ‘n legio ander dinge.

Kyk laat ons maar eerlik wees, Eva en ook Adam, het daardie slaggat wat die slang vir hulle gestel het nie sien kom nie. Hulle het pens en pooitjies daarin beland en moes die gevolge daarvan dra. Die uitsetting uit die Paradys...!

Wanneer die slaggat voor ons verskyn, hoe hanteer ons dit? Het ons geleer uit die geskiedenis van Adam en Eva? Is ons bedag daarop dat die slaggat voor ons mag verskyn, of gaan ons maar net voort en val soos ‘n oningeligte daarin.Het die elende van Adam en Eva se val ooit tot ons deurgedring?

Onthou die sielevyand is slim, hy kom altyd op so ‘n bedekte manier, die Woord sê vir ons dat hy hom voordoen as ‘n engel van die lig. As ons oningelig is omtrent die Woord van God, sal ons swaarkry om te onderskei want die vyand kom met sy leuen so naby aan die waarheid dat ons dit so maklik kan verwar met die waarheid. Dan beland ons ook pens en pooitjies daarin.

As ons inval, wat doen ons dan? Bly ons dan maar net lê en kry ons self jammer, “sulk” in ons elende en wag vir iemand om ons te kom soebat om op te staan. As daar nie gou genoeg iemand by ons uitkom nie,dan bly ons lê soos ‘n babatjie in sy vuil doeke en kerm. Agterna is dit maklik om die Predikant, Pastoor of Prediker te bekuldig dat hy nie in jou belangstel nie en jou nie die heeltyd gepamperlang het nie. Dan verkies ons om maar in die vuil doeke te bly lê omdat die Predikant nie ons hand kom vashou het nie.

Nee genade man/vrou, jy kan nie so in jou elende en eie gemors bly lê nie! Daar is ‘n lewe wat ons moet lewe....!

Staan op uit die gat, stof jou af, vra vergifnis in berou, van die Vader, vergewe jouself (dit is gewoonlik die moeilikste) en gaan aan met jou lewe. Leer iets uit die voorval, skerp jou heiligmaking op, bestudeer die Woord en lewe voluit vir Jesus.

Wees van een ding verseker, Jesus het die vyand oorwin, hy is verslaan, hy het nie tande nie. Die woord sê vir ons : “weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”

Bestudeer die woord leer die woord en gebruik die woord teen die vyand sodat hy jou sal uitlos, maar wees bedag daarop dat hy soos ‘n brullende leeu rondloop en net ‘n geleentheid soek....!

Jy is nie immuun daarteen om versoek te word nie. Jesus was versoek maar Hy het die vyand telkemale platgesit met sy antwoorde.

Jy kan ook! Kry net jou skietgoed bymekaar. Daar is ‘n oorlog daar buite aan die gang.

No comments: