Thursday, September 17, 2009

WIE GAAN DIE WAARHEID VIR HULLE VERTEL

Ef 6:14 "Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan...."

Ek en jy het die voorreg om van die waarheid te leer en ook die waarheid te ken. Wanneer ons bv. na 'n Cinema gaan om 'n fliek te kyk en jy sien al die mense, dan wonder jy of hulle die waarheid ken? By 'n vol rugby stadion sien jy al die mense en weer kom die vraag: "Wie gaan hulle vertel?" Stap in die Mall en jy sien die geskarrel van mense en weereens kom die vraag dan ook of hulle die waarheid ken? Ons is almal besig om oral te beweeg en baie keer besef ons nie die enorme taak wat ons het om hulle te vertel nie. Ons kry wel 'n angsgevoel wanneer ons besef dat ons eintlik deel daaraan het hoekom die Groot Opdrag nie uitgevoer word nie, want ons dink mos soms dat die opdrag net vir 'n paar gekose mense is. Luister wat sê die Woord van God oor die opdrag:

Matt 28:19 "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het."

Hier was Jesus besig om met die skare te praat en nie met die uitgesoekte paar nie. Toe die skare Hom gesien het, het hull Hom aanbid en daar was ook die wat getwyfel het. Dus moet ek en jy eintlik net vir onsself die saak uitmaak of ons deel van skare is wat die opdrag hoor en gaan doen en of ons deel is van die skare wat twyfel in die krag en werking van die Here. Dit is HY wat ons die vermoë gee deur die Heilige Gees om te doen ver bo wat Jesus gedoen het - dit is ook 'n belofte van die Woord.

Joh 14:12 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in MY glo - die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na My Vader gaan.

Glo ons dit, of twyfel ons? Ek en jy ken die Waarheid, (Jesus is die Weg, die Waarheid en die Lewe) en daarom moet ons ander vertel van die Waarheid. Dit is ons gegewe opdrag, 'n inklusiewe en nie 'n eksklusiewe opdrag nie, van God en dit sluit elke gelowige Kind van God in.

Die vraag bly egter - "WIE GAAN DIE WAARHEID AAN HULLE VERTEL?"

Met dank aan: Manie Delport

No comments: