Monday, September 7, 2009

KRUMMELS EN GENADE

Hierdie twee stukkies van Christa Els per e-pos ontvang. Die skrywer is onbekend

KRUMMELS
'n Brood val uit 'n bewegende broodwa en rol 'n entjie verder. 'n Stukkie breek af en bly in die straat lê.

Drie mossies peil af op die stukkie wat afgebreek het. 'n Hewige bakleiery breek los. Een kry die oorhand en begin die krummels gretig oppik, terwyl die ander twee met luide protes in 'n boom gaan sit.

Nie een van hulle het die groot brood 'n entjie verder raakgesien nie. Hulle was besig om oor die krummels te baklei!

Ons maak rusie oor klein dingetjies en ignoreer dit wat eintlik belangrik is. Oor die nietighede word ons vir mekaar so kwaad dat kosbare verhoudinge verbreek word. Voordat ons oor die krummels twis, kom ons kyk eers rond en sien die brood raak! Die krummels is nie die gevolge van die twis werd nie!


SWEM IN GOD SE GENADE
Die klein vissie swem, duidelik gestres, op en af in die middel van die oseaan.
Hy swem by die groot vis verby, en die ou kan sommer dadelik sien daar's fout.
Hy roep die klein vissie terug en vra hom waarna hy so ernstig opsoek is.
Die vissie sê toe dat hy dringend opsoek is na water, want hy't iemand hoor sê dat 'n vis doodgaan sonder water.
Die groot vis, duidelik al 'n "old campaigner", antwoord: "Maar Vissie, jy Swem nog jou hele lewe lank in die water.....!"
Wat 'n openbaring vir die klein vissie!
Hy kon nie gou genoeg terugswem na sy vriende toe om vir hulle die goeie nuus te gaan vertel nie!

As ons maar elke dag kan besef ons swem in die seën van God,
swem in voorspoed,
swem in geluk en blydskap en
swem in die liefde van ons almagtige Vader!
Dit is somtyds net nodig dat ons stop en dit raaksien!
Somtyds is dit selfs nodig dat ons so 'n tydjie afknyp om God te bedank daarvoor.
Wees jy nou die klein vissie en gaan vertel jou e-pos vriende waarmee God jou VANDAG geseën het!
Ek het vandag 'n werk, kos, klere, gesondheid, 'n huis, 'n motor, familie, vriende en ervaar liefde.
Ja ek LEWE in GENADE.

Ek DANK U, My Vader Heer vir alles waarmee U my so ryklik geseën het.

Heer, laat ek vandag onderskei tussen krummels en die dinge wat werklik saakmaak.
Amen

1 comment:

Muriel said...

Dankie vir die deel van hierdie stukkies.

Dis so waar mens moet jou seëninge tel. Dit gaan deesdae regtig so beroerd daarbuite, dat ek net elke dag op my knieë dankie sê vir werk, kos en my huis. Dit kan so maklik anders gewees het.