Monday, September 21, 2009

KOUE BEKEERORE

Groete en Vrede


Die sit in hulle huisie was maar so in die skemerte gewees want die wintersonnetjie het vroeg-vroeg loop aanstaltes maak om te wyk voor die murgsuig windjie en naderkomende donkernag koue. Vandag se kuier is die tweede keer dat ons hier kom oorstaan en ek onthou nog die gekerm en gekla oor die genadelose kerk en sy se mense tydens ons vorige besoek. Meedoënloos vervelig laat die ysige windjie se waai die vaalkleurige kantgordyne geruisloos heen-en-weer voor die vaal, vuil vensters verby beweeg. My se hande vryf heen-en-weer oor mekaar om die diep byt van die koue teen te werk terwyl ek woordloos wonder wat hierdie besoek gaan inhou.

Saggies klop iemand aan die deur en die gesprek steek skielik vas soos ‘n rooijakkals wat ‘n jaghond ruik. Versigtig word die houtdeur eers op ‘n skrefie oopgemaak. Daarna word die deur vinnig al groter en groter oopgeskuif sodat die ongenooide oorstaner kan inkom. Karools is sy naam en hy het maar kort voor laaste week hier ingewaai. Sy handdruk is ferm en vertel sy lewensverhaal vol kennis en ervaring. Ons praat is los en vas en handel oor skape, slange en laaste somer se lekker reën. Dan verander sy swartbruin oë blitsig in klip toe ek die gesprek in die rigting van gelowiges en kerklopers as Sy verteenwoordigers hier op stofaarde draai.

Ek kyk hom vol in die oog en besef dadelik dat sy hart vol littekens en ‘n geelrooi oorryp sweersel is, diep uitgekerf en veroorsaak deur genadelose gelowiges en liefdelose kerklopers. Met sy skouerknoppe effens agteroor getrek, sy kop omhoog soos ’n regopstaan geelslang, sit hy trots en kyk my aanvallend en uitdagend aan. Duidelik lees ek in die vensters van sy klipkoue hart die opskrif van sy binnekantstorie en ek besef dat Karools geensins ‘n binnenste-binne warmte vol liefde en genade ken nie.

“Vandag is die dag wat jy gaan leer om met jou se koue bekeerore na ander se seer te luister,” fluister Hy in my se gemoed. “Vandag is die dag wat die sandstorm van ‘n littekenhart na buite gaan waai sodat jy met bekeerore My liefde daarin kan saai.”

Skaars het Sy woorde my se hart bereik toe woede en frustrasie deurtrek met teleurstelling, haat en verwyt vanuit Karools se binneste-binne onverpoosd begin te woed. Hierdie uitbarsting en tirade het die huismense soos ‘n uitbundige uitbreekskaap heel onkant gevang. Verdwaas en verbaas sit hul daar terwyl ysige hartswoorde hard in my se ore basuin. Kort neffens die eerste salvo’s gevuur is, begin hulle ook stadig maar seker vertel van dit wat kerkloop so moeilik maak. So word vertel van lang jare se gelieg en bedrieg en hoe kerklopers en gelowiges met ‘n vlymskerptong mos jou se toekoms en selfs saligheid bepaal.

Heelwat later en Karools se litteken en geelrooi sweersel hart is leeg gepraat en hy sak moeg in die rusbank terug. ‘n Klompie minute gaan verby terwyl ‘n amperse goddelike stilte oor ons hang. Selfs die murgsuig windjie het sy asem opgehou. “Dankie, pastoorgoed, dat jy met oop ore geluister het,” het hy lateraan gegroet toe hy my se hand saggies druk.

Stadig, met onse vingers inmekaar gevleg en diep in my se baadjiesak gesteek, stap ek en die Mooiste Mooi daardie donkernag na onse woonhuis toe. Karools se groetwoorde maal deur my kop en ek onthou weer Vader se sagte opdrag gefluister. Dan besef ek om met bekeerore te luister is dieselfde as om Sy woorde “Jy’s ‘n uitgesoekte en uiters kosbare mens,” saggies in ‘n ander se hart te fluister.

Mag jy van vandag af aan met jou se bekeerore na ‘n ander luister want jy is ‘n Jesuslig in sy se duister.


Wel vanuit die Agter-Kalahari tot 'n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ...................

Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene
DIVINE LIFE BEDIENING.
(Landlyn 054-551 1000)

1 comment:

Nimsi se Blog said...

Oom Petrus,
Ja hierdie is so waar ne - soveel littekens en seerplekke...