Thursday, July 9, 2009

PSALM 34 - Die Here beskerm die gelowige

Hierdie wonderlike Psalm het my weer opnuut getref toe ek dit gisteroggend gedurende my stiltetyd gelees het. Toe ek dit herlees in Die Boodskap van Jan van der Watt en Stephan Joubert, het ek gevoel ek wil hierdie weergawe met julle deel.
Alles hierin is voorwaardelik: Jy moet die Here liefhê en jy moet Hom ten volle dien, nie met 'n halwe hart nie.

Ek wil die Here heeltyd prys;
ek sal Hom dag en nag met lofliedere loof.
Ek sal liedere oor die Here sing om Hom te eer.
Kom julle, kom maak die Here se Naam saam met my groot.
Kom laat ons Hom vereer.

In gebed het ek die Here gevra om my te help, Hy het dit gedoen.
Hy het my gered van al die dinge wat my lewe bedreig. Mense wat swak is en hulp nodig het, sien dit raak. Hulle gesig straal van blydskap. Wanneer hulle die Here se hand styf vashou, sal Hy hulle nooit teleurstel nie.
Kyk maar na my. Ek was swak en hulpeloos.
Toe het ek gebid en die Here het my gehelp.
Hy het my uit al my krisisse gehelp.

Op baie maniere beskerm die Here elkeen wat Hom dien. Hy verlos hulle wat Hom aanbid.
Julle moet self kom kyk hoe goed doe Here is.
Jy is baie gelukkig as jy van die Here afhanklik is om jou op te pas.
Julle almal wat aan die Here behoort kom dien Hom.
Onthou, die Here voorsien in elke behoefte van die mense wat Hom dien. Jy sal niks nodig hê nie.
Selfs sterk roofdiere soos leeus met hulle groot krag vang partykeer niks nie. Dan ly hulle honger.
Maar as jy van die Here afhanklik is, sal jy niks nodig hê nie.
Die Here sal vir jou sorg.

Kom laat ek julle iets leer!
Ek gaan julle wys hoe om die Here te dien.
Is daar iemand onder julle wat lief is vir die lewe? Wie wil graag die goeie dinge van die lewe geniet en gelukkig wees?
Jy, pas dan op om nooit verkeerde dinge te sê nie! Moenie oneerlik wees en ander mense met leuens verkul nie.
Vermy slegte dinge.
Doen net goeie dinge aan ander.
Lewe in vrede met mense

Die Here sorg vir almal wat doen wat Hy sê.
Hy help hulle wat om hulp vra.
Maar die Here ignoreer mense wat kwaaddoen.
Hy gaan hulle laat verdwyn.
Niemand sal ooit weer aan hulle dink nie.
Die Here help die wat Hom liefhet.
As hulle Hom vra, red Hy hulle uit al hulle probleme. Die Here is naby mense wat hartseer is;
Hy gee mense wat moedeloos is weer nuwe moed.
Al tref duisende rampe mense wat die Here liefhet, Hy sal hulle nooit alleen los nie.
Uit elke krisis sal Hy hulle red.
Hy beskerm Sy kinders tot in die fynste besonderhede.
Daar sal nie 'n been in jou liggaam breek sonder dat Hy daarvan weet nie.
Maar mense wat weier om die Here te dien, sal deur hulle slegte dade aan hulle einde kom;
hulle wat die Here se kinders sleg behandel, sal in eie munt daarvoor terugbetaal word.
Die Here red almal wat Hom dien.
As jy op die Here vertrou om jou op te pas, sal Hy jou nooit teleurstel nie.

1 comment:

mariki said...

"Jy is baie gelukkig as jy van die Here afhanklik is om jou op te pas."

!!!