Monday, August 17, 2009

Betaaldag - Genadedag

Groete en Vrede!!!

Vandag is betaaldag,genadedag op Noeniesput. Vir die meeste van die mense in die Agter-Kalahari is dit maklik die belangrikste dag van die maand want betaaldag is koopdag, uithangdag, kuierdag en selfs skuldaflosdag. So word nuus met ver familie en vriende uitgeruil terwyl 'n klomp hulself oorgee aan die rondslingerende wêreld van te veel soetwyn en groen twak. Betaaldag is wanneer die staat verniet geld weggee en elke maand het 'n betaaldag, 'n genadedag.

Die meeste van Noeniesput se mense op die winkeltjie se blink stoep is gedas en gejas in hul heilige sabbatsklere. Willem se boonste knoop belemmer die in-en-uit van sy asem en gevolglik rek hy kort-kort sy nek soos 'n langnek Kalahari hoenderhaan. Martha, sy té ronde vroutjie, dra blink polvye saam met haar stywe sweetpak en Angeline vee kort-kort oor die dun stfgevlegte hare op haar kop. Swart Piet (met sy langmouhemp, bont das en blinkswart skoene) loop vroom en statig met die kerkboekie rond terwyl ou Dikkes brom-brom met homself praat want die wynwinkel se pryse is hoeka al weer op. Oom Jan Jors en Katie (met rooipropwyn styf onder die arm) skel vir Apie want dié moet nog loop vullis laai met sy donkiekarretjie en dit wegry voor uitvaltyd. Dan stop Swartkopdam se bakkie met 'n gelag, geskree en gesels terwyl 'n witvaal stofwolk die winkel toevou....... en skielik oorweldig 'n kakofonie van klank, Noenieput. Oral is klein groepies mense en almal is besig om te doen wat belangrik is, almal behalwe Melkie.

Met haar jongste op die heup, staan sy so half eenkant, weg van die geroesmoes om die winkel en beskou die aktiwiteite diepdenkend. Veilig weggebêre naby haar hart, is haar vernietgeld. 'n Staatstoelaag van vernietgeld bepaal deur haar skynbare hoe bloeddruk, haar jongste op die heup en twee skoolgaande kindertjies. Dan verskyn 'n skamel spierwit glimlaggie op haar ligbruin gesig en ek weet dat sy ook herkou aan 'n paar aande gelede se gebeure toe sy met nat traanspore op haar wange die Mooiste
Mooi se hand styf vasgegryp het. Daardie aand toe sy die waarheid van Vader se vernietgenade begin verstaan het en dit gretig so begin uitleef het.

Vernietgenade wat elke dag vrylik sonder enige berekeningsfaktore beskikbaar gestel word omrede elke mens vir Hom kosbaar en belangrik is. Elke dag is Sy betaaldag, Sy weggeedag van vernietgenade. Vernietgenade om net te aanvaar en dan uit te gee aan ander - nes vernietgeld.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot 'n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou..................
 
Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene
DIVINE LIFE SENDING.
(Landlyn 054-551 1000)

2 comments:

loeloe said...

Ooo OomP, sit hier so aangedaan...dis so mooi, want dis oor ons Mooiste Mooi Ene!!

Dankie, dankie.

Nimsi se Blog said...

"Vernietgenade" daarvan kan ek voorwaar getuig!