Monday, August 3, 2009

NOAG SE ARK

'n Ware verhaal van HOOP

Na die skepping was God hartseer oor die boosheid daarin. Daar was darem nog een goeie man: Noag. God het hom toe 'n opdrag gegee om 'n houtskip te bou vir hom en sy drie seuns: Sem, Gam en Jafet en hulle vrouens. God het vir hom presies gesê hoe hy die houtskip moes bou: dit sou van goferhout gebou word, met pik geverf word en drie verdiepings hoog wees, soos vir Vader, Seun en Gees, Die skip is DIE ARK genoem en moes groot genoeg wees vir Noag en sy familie en ook vir die diere wat God sou stuur om in die ark te wees.

Noag het honderd-en-twintig-jaar aan die ark gebou. Hy was ses-honderd-jaar-oud toe hy in die ark ingegaan het. God, het die diere gestuur en toe almal in was, die deur aan die kant van die ark toegemaak. Wat God toemaak, kan mense nie weer oopmaak nie! Daar was geen ander opening in die ark nie behalwe 'n luik-venster op die boonste verdieping sodat die mens moes opkyk. As jy opkyk kan jy voorentoe gaan!

Veertig dae en veertig nagte het dit gestortreën, totdat die hele aarde onder water was, vyftien meter hoër as die hoogste berg. Dit het honderd-en vyftig dae gevat vir die water om te begin wegsink. Die ark het op berg Ararat tot stilstand gekom Na nog drie maande was die toppe van die berge sigbaar. nog veertig dae later het Noag die luik oopgemaak en 'n kraai uitgestuur. Die kraai het heen en weer gevlieg, maar nie terug gekom ark toe nie.

Wie sou hom verkwalik? Dit was al amper 'n jaar vandat die vloed begin het! En met al die vars lug en nuwe lewe buite die ark, het die kraai sy vryheid geniet! Dalk bietjie selfsugtig....soos kraaie maar is! Kraaie was ook as onrein beskou.

Daarna laat Noag 'n duif uitvlieg. Die duif kon nie rusplek kry nie en kom terug ark toe met 'n boodskap: Dis nog te nat buite! Dis anders as die kraai wat net wegbly. Na nog sewe dae, stuur Noag weer die duif uit. Hierdie keer het die duif weer terug gekom met goeie nuus: 'n groen olyfblaar in sy bekkie vertel sy eie storie. Noag weet die waters is besig om te verminder. Sewe dae later het hy weer die duif uitgestuur, maar die keer het die duif nie terug gekom nie en Noag het geweet die aarde is droog. Na meer as 'n jaar in die ark, 377 dae, het Noag en sy gesin en al die diere hulle veilige vesting verlaat. En God het 'n verbond met die aarde gemaak en die teken van die reënboog gegee.

Hoe simbolies dat die duif, die simbool van die Herilige Gees, nie soos die kraai net weggebly het nie, maar teruggekom het. Die tweede keer bring hy 'n boodskap van hoop, die groen olyftakkie om die Heilige Gees te verteenwoordig. Die derde boodskap is van vryheid en oorwinning! En God stuur 'n reënboog met sewe kleure wat die verbond bevestig.

Mag die duif, olyfboom en reënboog ook vir jou 'n bevestiging wees van jou ewige verbond met die Vader, Seun en Heilige Gees in die veiligheid van Sy Ark.

Met dank aan: Terry Steenkamp.

2 comments:

mariki said...

En Jesus is ons ark van behoud, né.

Pragtig! Dankie OomP.

Anonymous said...

Jislaaik Oom petrus dag oom dis gr8 oom!
sam