Sunday, August 23, 2009

TEMPEL VAN DIE HEILIGE GEES

In die Sondagskool sing ons kindertjies:

"Weet jy nie, weet jy nie, jy's 'n tempel, jy is 'n tempel van die Heilig Gees."

Kom word ons groot, dan vervaag daardie waarheid en verskiet dit in die verte.
Dit wil voorkom asof ons dan probeer om daardie tempel so vinnig as moontlik te verniel en af te breek. Dan gee ons nie meer om dat ons die tempel waar die Heilige Gees in woon, moet mooi en gesond en skoon hou nie.
Hoe doen ons dit? Deur die misbruik van drank, verdowingsmiddels, sigarette en al die ander sosiaal aanvaarbare maniere wat satan uitgedink het waardeur ons ons liggame se imuunsisteem kan afbreek.
As daar nou 'n dooie rot in ons huis lê en verrot, sal mens instaat wees om saam met daardie reuk te lewe? As daar dag vir dag 'n nuwe stinkende rot ingedra word waaroor ons geen beheer het nie. Dink nou maar daaraan, as jy 'n huis huur en die ding gebeur met jou. Jy sal sekerlik die landlord aantree en dit met hom opvat. Selfs as die bure elke aand raas en baklei, sal jy dit ook met landlord opvat. Wat gaan jy maak as hy niks aan die saak doen nie? Hoe lank sal ons dit kan hanteer voordat ons, ons meubeltjies pak en 'n ander plek gaan soek waarin ons kan bly? Nie baie lank nie, miskien loop ons sommer oornag weg!

Vraag is nou, hoe voel die Heilige Gees oor die tempel wat jy vir Hom aanbied om in te bly. Is Hy gelukkig met wat Hy kry? Praat Hy met jou oor dit waarmee Hy nie gelukkig is nie? Doen jy iets daaraan om die probleem uit te sorteer of ignoreer jy Hom sommer net. Of sê jy vir hom jy sal anderdag wanneer jy 'n kans kry aandag daaraan gee!

Skuif bietjie nader, ek wil jou iets vertel: "Het jy geweet, Jesus het gekom om ons te verlos en van ons ware tempels te maak met Hom as die hoeksteen? Die Heilige Gees maak woonplek in elke gereinigde hart!(1Kor 3:16) Sy blyplek moet skoon wees, met geen nare reuke wat Hom ontstel nie."
Hoe lyk en ruik jou tempel wat jy vir die Heilige Gees aanbied om in te bly?
Bly die Heilige Gees nog ooit in daardie tempel?
Miskien moet jy soos 'n goeie landlord bietjie gaan kyk wat daar aangaan. Doen introspeksie. Gaan kyk of die plek nog skoon en bewoonbaar is, en maak seker dat die Heilige Gees nog daar woon en nie dalk lankal getrek het nie.

1 comment:

mariki said...

Altyd maar weer "huisskoonmaak", né OomP. Valse gerustheid is 'n dodelike ding.