Thursday, August 27, 2009

Déja vu of Vuja dé ??

Jy het sekerlik al gehoor van déja vu - daardie gevoel dat jy vantevore op 'n plek was, selfs al was jy nog nie daar nie. Wel, wat ook van 'n Vuja Dé gevoel. Wat van 'n omgekeerde manier van leef? Dink bietjie - wat sou gebeur as jy jou lewe begin leef asof jy dit vandag vir die heel eerste keer beleef? Dinkl jy nie dit sal jou totale ingesteldheid verander as jy daagliks van voor af begin met jou huweliksmaat, jou vriende, jou kollegas - ja, sommer met alles en almal rondom jou nie? Sal dit nie asemrowend wees as jy elke aand jou wrokke vergeet en daardie swart notaboekie opskeur wat jy stilletjies in jou hart in stand hou nie?

Weet jy, God doen elke dag Vuja Dé met jou en my. Hy begin daagliks oor en voor met ons. Sy genade is elke oggend kraakvars en nuut soos wat Klaagliedere 3 vir ons leer. Die Here vernuwe ons elke dag innerlik, soos wat Paulus glashelder in 2 Korintiërs 4:16 sê. Die Apostel skryf dat al vergaan ons uiterlik, dan maak God ons nogtans elke dag innerlik nuut.
Volg vandag in die Here se voetspore! Begin nuut. Begin voor. Begin oor. Wees leergierig. Wees onversadigbaar nuuskierig. Leef asof die lewe vandag vir die heel eerste keer aangebreek het en alles vanaand tot 'n einde gaan kom. Delf met oorgawe in God se skatkamers rond op soek na nuwe hemelse skatte. Word 'n fynkenner van die nuutste wonders wat Hy verrig. Leef van nou af op die Vuja Dé roete. Dan bruis daar weer lewe in jou hart.

Met dank aan: Dawie de Koker

2 comments:

Nimsi se Blog said...

Oom Petrus,
Amen op hierdie inskrywing!
Vuja Dé!

mariki said...

Sjoe OomP -- hierdie lese bring 'n diep besef weereens van die wonder van ons God en Sy handelinge, en ons verantwoordelikheid!