Monday, August 31, 2009

VERBEELDINGSVLUG

Op 'n dag stap 'n man deur die plantasie op sy plaas. Sy hart is verskriklik beswaard. Sy gedagtes dwaal oor sy lewe tot hiertoe, en hy besef dat daar baie dinge in sy lewe is wat nie reg is nie. Hy dink oor almal wat vir hom gelieg het terwyl hy nog sy besigheid gehad het. Sy gedagtes huiwer 'n oomblik by diegene wat van hom gesteel het en hom benadeel het. Sy gedagtes wentel om sy siekte wat niemand op die stadium instaat is om te genees nie.

Sy hart is gevul met woede, bitterheid en frustrasie.Terwyl hy na antwoorde soek, kom hy tot die besef dat hy eintlik 'n mislukking is en dat alles en almal hom gefaal het.
Hy kniel neer by die stam van 'n ou eikeboom en met betraande oë roep hy Hom aan wat hy weet altyd daar sal wees.

"Here U het wonderlike dinge vir my gedoen in my lewe. U het my gedring om baie dinge vir U te doen en ek het gehoorsaam. Vandag dring U my om te vergewe. Ek is treurig Here, ek kan nie, want ek nie weet hoe nie! Here dit is onregverdig, ek het nie verdien om so in my lewe benadeel te word nie en ek moes nie by hierdie punt kom waar ek iemand moet vergewe nie. U weë is perfek Here, maar hierdie ding van vergifnis kan ek nie doen nie, want ek weet nie hoe nie.

Here my woede is so groot dat ek bang is ek sal U nie hoor nie, maar nogtans bid ek dat U my daardie een ding sal leer wat ek nie kan doen nie. Here, leer my asseblief om te vergewe?"

Terwyl hy so in die skadu van die ou eikeboom kniel, voel hy iets op sy skouer val. Hy maak sy oë oop, en sien uit die hoek van sy oog iets rooi op sy hemp. Hy kan hom nie draai om te kyk wat dit is nie, want skielik, daar waar die ou eikeboom was sien hy 'n groot vierkantige stuk hout in die grond. Hy lig sy kop 'n bietjie op en daar verskyn twee voete met 'n groot spyker in, binne sy gesigsveld. Hy lig sy kop verder op en dan vul sy oë opnuut met trane as hy Jesus aan die kruis sien hang.

Hy sien die spykers in SY hande die gapende wond aan Sy sy, 'n stukkende en vernielde liggaam, doringgate in SY hoof. Hy sien ook die lyding en pyn op SY geliefde gesig.

Wanneer hulle oë ontmoed begin die man hartstogtelik te snik, en Jesus begin met hom praat:
"Het jy ooit 'n leuen vertel?"
"Ja Here"
Het dit ooit gebeur dat iemand jou te veel kleingeld gegee het en jy het dit gehou?"
"Ja Here" en hy snik al harder!"
"Het jy ooit iets by die werk gevat wat nie joune was nie?"
"Ja Here"
"Het jy ooit gevloek en My Vader se naam ydelik gebruik?"
"Ja Here" die trane rol nou vrylik!

Jesus vra nog baie keer "Het jy ooit.....?"
Die trane loop nou onbeheerbaar want al wat die man kan antwoord is "Ja Here"

Dan draai Jesus Sy kop van kant tot kant en die man voel hoe daar weer iets op sy skouer val. Hy kyk en sien dat dit die Bloed van Jesus is. As hy weer opkyk en sy oë die van Jesus ontmoed skyn daar 'n sagtheid uit Jesus se gesig en Sy oë straal liefde uit soos die man nog nooit in sy lewe gesien het nie.

Jesus sê: "Ek het dit ook nie verdien nie..., maar ek vergewe jou..!"

Soms kan ons nie die anderkant van ons moeilikheid sien nie en ons kan nie sien hoe ons ooit anderkant gaan uitkom nie.
As ons egter terugkyk op ons lewens, dan besef ons dat ons dit nooit sou maak as dit nie deur die genade van die Here was nie. Dan sien ons daardie enkel ry spore soos Hy ons gedra het.

2 comments:

Nimsi se Blog said...

Amen en Dankie Here Jesus

mariki said...

O, hoe skuldig is ek -- maar prys Jesus vir Sy suiwere genade!