Thursday, August 13, 2009

SUKSES = Harde Werk + JESUS

Die ander dag hoor ek iemand sê: "Manlief het my verras en vat my vir 'n paar dae see toe. Daar gaan my dieet!" Ek hou nie daarvan om te praat van 'n dieet nie, maar gebruik eerder graag die woord, eetpatroon. 'n Dieet is iets wat jy volg vir 'n bepaalde tyd en dan gaan jy weer terug na jou normale eetpatroon.
Vir baie mense is dit 'n noodwiel en iets wat hulle gewete sus, want al volg hulle nie eintlik die voorskrifte soos dit van hulle verwag word nie, kan hulle darem sê dat hulle wel op dieet is.

Ek dink ons kan nogal ons eetpatrone goed vergelyk met die van Christenskap:

Is jy bereid om jou hele lewe vir Jesus te gee, of is jy net 'n Christen wanneer dit vir jou gerieflik is? Is Christus net vir jou 'n noodwiel wanneer jy Hom nodig het? Gaan jy net Sondae kerktoe om jou gewete te sus? As jy eerlik is met jouself, en jou antwoord is "ja" op sommige of al hierdie vrae, is jy nie ernstig met Christus nie, en is jy op die verkeerde pad sonder die vooruitsig van 'n ewige lewe!
As jy net 'n gesonde eetpatroon volg wanneer dit vir jou gerieflik is, of wanneer jou klere weereens gekrimp het, of wanneer jy dit net af en toe volg om jou gewete te sus, is jy ook op die verkeerde pad sonder die vooruitsig van enige langtermyn sukses.

Om 'n Christen te wees is harde werk! Jesus sê in Mark 8:34
"Neem jou kruis op en volg My." Om gewig te verloor is vir baie mense so moeilik soos om Kilimanjaro te klim, maar ek wil graag vandag vir jou kom sê, dat as jy bereid is om elke dag hard te werk aan 'n verandering in jou hele lewensstyl, en nie net soms in jou eetpatroon nie, sal jy weldra 'n groot verandering waarneem!

Of dit nou in jou verhouding met Jesus is en of dit 'n gewigsprobleem is, Jesus is altyd daar om jou te help dra aan daardie kruis, maar jy moet dit net optel

Dank aan: Dawie van Schoor

3 comments:

mariki said...

Dis nes oomP hier sê:"No pain, no gain." Selfs -- en veral, in ons dissipelskap.

Goed om dit weer te bedink.

Anonymous said...

Goeiemiddag Oom. Ek lees al die afgelope vier maande daagliks hierdie blog en het baie ernstig gebid oor die saak toe oom die blog wou sluit, ek is so dankbaar dat die blog nou weer oop is. Ek lewer nouwel nie komment nie maar die inskrywings is vir my vreeslik baie werd. Ek is in n baie ongelukkige huwelik ek is ses jaar getroud en wonder as oom nie asseblief iets oor onderdanigheid van die vrou in die huwelik sal skryf nie. My man sê ons is ongelukkig omdat ek nie onderdanig is nie. Dankie oom.
Annelize Potgieter

Oom Petrus said...

Hallo Annelize,
Gaan kyk bietjie by hierdie webwerf.
Dit is ongelukkig in Engels maar die verduideliking kan ek nie beter doen nie.
http://www.gotquestions.org/wives-submit.html
Sterkte vir jou