Wednesday, July 29, 2009

KUISHEIDSGORDEL

Ons sê ons is kinders van die Here en dat ons dankbaarheidswerk vir hom doen! Is hierdie titel van kind van God net op ons van toepassing Sondae by die kerk of Woensdae by die selgroep of biduur, of by die kerkraadvergadering een maal per maand? Hoekom wil dit dan al lyk asof ons net geleentheids kinders van die Here is? Net wanneer ons voor ander "Christene" is, dan speel ons die rol van 'n Christen, dan praat ons soos 'n Christen, kwoteer Bybel tekse bemoedig die broer of suster, - maar wat doen ons wanneer ons nie naby ander Christene is nie? Daar waar ons alleen staan in die samelewing! Onthou ons dan steeds ons is Christene? Praat ons dan die taal van 'n Christen. Weerhou ons, ons dan steeds van gekruiede taal, van kwaad word vir die persoon wat nie die gegewe opdrag uitgevoer het nie?

Daar kom uit, ons as kinders van die Here, se mond woorde wat gladnie by ons pas nie. Hierdie woorde word in die geselskap van ander Christene nie hardop uitgespreek nie, maar word so agter die hand of so skuins uit die mondhoek gesê terwyl die persoon na die luisteraar oorleun! Hierdie franse woorde wat ons gebruik maak sulke groot bruin vlekke op ons, miskien andersins wit "klere" Soms wanneer ons iets wat ons gehoor het oorvertel, dan doen ons dit met al die kleure en geure soos wat ons dit gehoor het en dink ons dan ons het vrypas om die franse woorde ook te gebruik. Daardie woorde maak dieselfde bruin vlekke op ons mondering as die agter die hand woorde.
Dan is daar ook nog daardie suggestiewe woorde wat ons gebruik, waar ons die ander persoon dan los dat hy sy eie afleiding maak, van wat ons bedoel. Ook dit tas jou reinheid of gewaande reinheid aan want jy veroorsaak dalk dat daardie persoon se gedagtes op 'n verkeerde pad beland.

Ons raad aan nuwe Christene is altyd, hou jou oog op die Here, moenie na mense kyk nie hulle sal jou net teleurstel.

Of ons dit nou wil weet of nie, ons word dopgehou en ons word geweeg en baie keer..... te lig bevind. Ons is leiers. Ons mag nie toelaat dat mense dink ons is nie op standaard met die Here nie. Ons moet 'n rein en kuise lewe lei. Ons moet 'n voorbeeld stel aan andere, hulle moet ons ten volle kan vertrou en weet dat ons die regte dinge sal doen. Dat ons die belange van die kerk van Jesus voorop sal stel en nie ons eie belang nie.

As ons, ons daarop instel deur die genade om rein voor die Hemelse Vader te leef en ons wil nie hê dat daar sulke bruin kolle op ons monderings kom nie, moet ons toelaat dat die Here vir ons ‘n kuisheidsgordel oor ons monde aansit sodat ons rein kan bly.
1Tim4:12
Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ’n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.
Die Bybel Nuwe Vertaling, (Suid–Afrika: Bybelgenootskap Van Suid–Afrika) 1983.

2 comments:

mariki said...

Goeiedag OomP -- wonderlik lekker om weer hier te lees!

En oe, hierdie possie maak mens voor die Here se spieël staan....

Dankie vir die opskerp.

Nimsi se Blog said...

Hallo Oom Petrus.
Stem saam met mariki - lekkerste lekker om weer hier te lees! Dankie!