Friday, January 16, 2009

DIE JUK

Die osse stap aan deur die stowwe,
Geduldig gedienstig gedweë....

Die osse moet gelyk trek om daardie sware vrag te beweeg, sou een van hulle trek in ‘n verkeerde rigting, veroorsaak dit konsternasie wat al groter word soos die os teen die juk spook. Dit put die os uit en hy kry slae by die drywer.

In Mat11:29 nooi Jesus ons uit: “Neem My juk op julle en leer van My, want ek is sagmoedig en nederig van hart, julle sal rus vind vir julle siele.

Ons neem daardie uitnodiging aan in die vertroue dat dit met ons sal beter gaan…miskien met ‘n dubbele agenda en wanneer sake nie uitwerk soos ons dit wil nie, dan begin ons teen Jesus se juk werk en trek. Ons hou dan aan om in die verkeerde rigting te trek teenoorgesteld wat die Here vir ons in gedagte het, want ons weet mos beter as die Here wat goed en reg is vir ons. As ons bietjie slae kry dan is ons kwaad vir die Here en wil sommer heeltemal uit die juk spring.

Wat gebeur as ‘n mens beur en trek? Jy is naderhand flou en die sweet tap jou af. Jy beur harder want niks beweeg in die rigting wat jy wil hê dit moet gaan nie. Jy raak gefrustreerd en beur nog harder….jy raak so uitgeput dat jou bene onder jou wankel en jy voel of jy wil neerslaan.

Is dit die moeite werd

Seker een van die grootste beloftes wat Jesus ooit aan ons gegee het was…, “kom na my almal wat uitgeput en oorlaai is en Ek sal julle rus gee….. My juk is sag en My las is lig.”

Kom ons los die dwarstrekkery en ontspan. Wanneer ons Jesus se juk aanvaar dan beteken dit onderdanigheid aan Hom. Dit is ook ‘n teken van hulp want jy trek nie alleen aan die vrag nie. In elke paar osse is daar een wat lei en die ander een volg.
Jesus sal die leiding neem, maar ons moet saam met Hom ingespan wees om voordeel daaruit te kan trek en Hom volg

Om dus hierdie intieme verhouding met Christus te geniet, moet jy voor Hom buig en Sy wil vir jou lewen aanvaar. Hy belowe dat Sy juk jou nie sal wurg nie, dit sal jou nie uitput of beperk nie. Sy juk sal jou nie skaaf nie.
As jy waarlik vry wil wees, moet jy toelaat dat Jesus jou inspan onder Sy juk, deur onderdanig te word aan Sy wil.

Slegs binne Sy wil vir jou lewe is jy VRY…….!!!

3 comments:

Nimsi se Blog said...

Hello Oom Petrus
Vandat ek n baie jong meisie was, is Matt 11 vers 28 my gunsteling versie in die Bybel. Dit gee aan my n uitnodiging en n belofte!
Wil net op hierdie inskrywing van vandag graag se AMEN!
Nimsi

mariki said...

Dankie, Oom Petrus -- dit was goed om weer herinner te word.

Oom Petrus said...

Nimsi en Mariki
Baie dankie vir julle inloer. Ek vertrou julle het 'n geseënd naweek