Monday, January 26, 2009

GEBED

Elke mens op hierdie aarde is gebore met die behoefte om iets te aanbid, of dit nou die lewende God is, ‘n boomstomp,’n beeld, ‘n dier of wat ookal.... die behoefte is daar!
Gebed is sekerlik een van die mees sielsverrykende ervarings wat ‘n mens kan hê. Stil te word voor jou Heiland en net met Hom te gesels, om Hom vir raad te vra oor jou finansies, oor jou toekomsplanne. Voor Hom te huil en Hom te vertel van jou teleurstellings, hoe jou hart gebreek is, van jou mislukkings....! Jy vertel Hom van jou suksesse, dat jy die wiskunde som waarmee jy gesukkel het reggekry het en nou verstaan! Jy vra die Here om vir jou ‘n huweliksmaat te gee, jy deel al jou vreugdes met Hom, jy vertel Hom van jou beplanning en wat jy beoog...! Jy kan met die Here gesels net waaroor jy wil...!
Dit is absoluut fantasties om te weet as jy jou hart voor die Here oopmaak met alles wat binne in jou is, daar nooit ooit ‘n skinderpraatjie sal onstaan nie. Hy help, ja, maar God sal nooit uitpraat nie!
Het jy al voor die Here op jou aangesig gelê en geween oor ‘n verlore gaande wêreld, oor bekende mense of familie wat die ewigheid in die hel gaan deurbring, oor jou man, vrou, boetie, ma, pa, sussie, jou seun of dogter?
As jy daar opstaan en jy weet, dat jy weet dat die Here jou gebed gehoor het, dat jy deurgebid het en dat jy met rykhalsende verlange kan uitsien na die verhoring van die gebed... Soms neem dit net ‘n paar dae en soms neem dit jare voordat jy resultate sien op jou gebed. Die Bybel leer ons om te volhard in die gebed.... en dat ons die Here gedurig moet herinner aan die dinge wat ons van hom vra.
Bid jy ooit nog regtig in kinderlike geloof soos jou moeder jou geleer het? Dalk is jy een van daardie ongelukkige mense wat in ‘n huis grootgeword het waar geen gebede gebid is nie en die Here nie gedien is nie, dan voel ek vir jou jammer, en wil jou vra dat jy leer om te bid. As jy nie op jou eie daarvoor kans sien nie, die Here het vir ons die wonderlikste gebed geleer in Matt 6:9 -13, Onse Vader wat in die Hemele is, Laat U Naam geheilig word.......

Dit is natuurlik ook so dat mense bid en vra en hulle ontvang nie, die Bybel sê dat dit is omdat ons selfsugtig is en dinge vra wat net om ons gaan en nie regtig nodig is nie ons wil dit net hê. Ons moet wegkom daarvan om net vir ons eie selfsugtige behoeftes te bid, rondom ons is soveel nood en mense wat gebed nodig het, dat ons eintlik nie eers op ons self kan tydmors nie. Maar ja, ons moet vir ons eie behoeftes ook vra...!

As jy net ‘n Christen is en nie ‘n kind van die Here nie, dan sal God seker eerder Sy kindertjies se gebede verhoor. Maar dit is nie onmoontlik vir God om ook die ander gebede te verhoor nie. God is soewerein en kan doen soos Hy goed dink.

As jy ook dink dat God in vandag se dae nie meer gebede verhoor nie, wil ek jou uitdaag om vir die volgende jaar elke gebedsversoek wat jy tot Hom rig neer te skryf met die datum daarby Kry sommer vir jou een van hierdie hardeblad, helfte A4, boekies wat die kinders gebruik, die goed kos ‘n paar sente, en skryf alles daarin neer. Kyk dan aan die einde van die week, maand, jaar daaroor terug en sien hoeveel gebede God verhoor het. Jy sal verbaas staan! Dit is in elke geval ‘n goeie ding om ‘n daaglikse joernaal te hou van jou wandeling met die Here en alles sorgvuldig op te teken.

Ek wil voor jou bely dat ek ‘n ontsettende groot behoefte het om vir die kinders enjongmense van ons dag te bid. Hulle is so blootgestel in ‘n tyd waar alles wat mooi was lelik geword het en alles wat lelik was mooi en aanvaarbaar geword het. Is jy tevrede met wat daar deesdae vir ons kinders en jongmense opgedis word? Hulle is die leiers van more, hulle is die besluitnemers wat nou opgroei en die land in die toekoms moet regeer. Hier gaan dit ook nie net oor die kinders van jou dorp of stad nie, maar ook oor die kinders van die land en die hele wêreld, want oral is dieselfde dinge aan die orde van die dag.
Ek vra jou mooi, bid asseblief elke dag saam met my vir die kinders en jongmense van die wêreld...???