Saturday, January 24, 2009

KLEREDRAG

Met verloop van jare het kerkdrag ‘n dramatiese verandering ondergaan...

As ek maar dink in my jong dae het ons so ‘n losboordjie hemp gedra, wat stokstyf met stysel gestyf was. Dit was ‘n ernstige saak om die ding aangetrek te kry want as jy die das om jou nek het dan staan daardie boordjie stokstyf hier teen jou nek op. Wat ‘n stryd om die ding afgeslaan te kry...! Dan was daar natuurlik nog daardie pakklere met onderbaadjie en die lot in die middel van die somer. Jy sit daar in die kerk al blasend en swetend. Jy haak die voorvinger in die boordjie en trek dit so ‘n bietjie van jou nek af net om so ‘n ekstra bietjie lug deur te laat na jou smagtende longe toe want dit voel die heeltyd of die boordjie jou verwurg. Jy dra altyd ‘n handvol sakdoeke in jou sak om daardie sweet wat hier uit jou hare biggel en teen jou nek en voorkop afloop mee af te vee.
Die arme vrouens, ek het hulle net so jammer gekry, daardie jare was dit nog die stywe borstrok wat hulle asem behoorlik uit hulle longe gewurg het net terwille daarvan om streamline te lyk. As hulle eers sit kan hulle omtrent nie asemhaal nie. Dan nog die warm sykouse hier in die middel van die somer wat met sockspanners bo gehou is, dit was nou natuurlik in die dae voor broekieskouse hulle opwagting gemaak het. Ons ou voormoeders het natuurlik die kouse bo gehou met ‘n perskepit wat hulle in die bo-kant van die kous gesit en die dan so ‘n paar draaie gegee het.....! Wat nou nog van die hoed? Party hoeddens was so klein dan dit amper nie eers iets was nie, maar dit was daar. Ons was arm, so my ma het net so ‘n veertjies dingetjie gedra wat die haartjies net so effentjies bedek het . Die ryk ou dames of dames wat ryk mans gehad het, het ‘n konstruksie op die kop gedra wat so hoog was, as jy agter een van hulle beland kan jy geen woord sien wat daarvoor op die preekstoel aangaan nie! Dit was natuurlik in die tyd van mini rokkies..., van die dames wat eintlik nie heeltemal in die goedjies gepas het nie, het hulle gedra! Liewer dood as uit die mode!
Moet nou ook nie daardie reuk van twakrook en peppermente wat in die lug hang terwyl die diens aan die gang is, vergeet nie. Al die ouderlinge en diakens het sulke klein pienk lekkertjies gesuig, seker om die rookreuk in hulle asems weg te neem.

Hoe lyk dit vandag?

Die pakklere en stywe boordjie het plek gemaak vir gemaklike sportdrag sonder ‘n baadjie in die somer en ‘n das is net iets wat in die kas hang. Die dames se hoed het verdwyn, hulle is nie meer so styf ingegord nie en dit lyk of al die mode klere en sykouse plek gemaak het vir ‘n gemaklike broekpak en sandale.

Wat ‘n aangename rustige atmosfeer heers daar nou tydens die dienste! Daar is luidspreker stelsels, lugversorgers en dakwaaiers wat prober om mens darem koeler te hou as in die outyd. Daar is nie meer ‘n hoed wat jou uitsig versper nie. Jy trek nie aan jou boordjie om asem te kan haal nie.

Het hierdie verandering nou enigsins ‘n invloed op jou geloof? Dien jy die Here nou minder as voorheen, of dink jy dat die Here nou minder van jou dink as voorheen? Gaan die Here nou nie meer Sy seën oor jou uitstort nie? Gaan jy nou hel toe, omdat jy nou meer gemaklik aantrek?

As jou Gemeente of denominasie wetties is oor kleredrag, dan is dit goed so! Jy trek aan soos jy voorgeskryf word of soos jy voel jy moet aantrek, maar moenie andere veroordeel oor hulle kleredrag nie.

Moet tog nooit klere of die gebrek daaraan as ‘n verskoning gebruik om uit die kerk te bly nie. Liewers kaalvoet onder die geklank van God se Woord as met skoene aan langs die viswater! Die woord sê dat ons nie die onderlinge byeenkomste moet versuim nie.....!

Het jy opgemerk dat sedert die kleredrag rewolusie plaasgevind het, is daar meer mense in die dienste as wat ek kon onthou? Miskien verbeel ek my dit maar!

GEBED
Here dankie dat ons u kan dien, en dat u nie voorskrifte het hoe ons moet aantrek nie. U het in U wandel op aarde met vissermanne, tollenaars , kerkmense en gewone alledaagse mense omgegaan en nêrens lees ek in U woord dat U enigeen weggewys het omdat hy nie reg aangetrek was nie. Dankie dat u vir ons nooi om na U te kom net soos ons is. Help ons om asseblief nooit meerderwaardig te voel teenoor daardie person wat agter in die kerk gaan sit en dalk nie sulke mooi klere as ons aanhet nie en dat ek bowenal nie so ‘n person sal verkleineer nie. Wat maak dit tog saak of die klere R1000.00 of R50.00 kos, U kyk nie daarna nie, vir U is net die siel van die mens belangrik. Help ons om mekaar op sigwaarde te aanvaar. Amen

2 comments:

Nimsi se Blog said...

Hello Oom Petrus,
En daardie dierbare spierwit "bobby-socks" wat die arme meisies moes dra, en dan was dit nog hier onder die knie met n stukkie "broekrek" vasgemaak...
Ek is n groot "fan" van die nuwe gemakliker styl van kerk klere.
Nimsi

mariki said...

Hmm...ek is so iewers tussen-in. Moet tog net asseblief nie hoeddra terugbring nie!!