Wednesday, January 28, 2009

VERGEWE (met wolwegif) EN VERGEET

Nou onlangs een dag, het ek en vroulief woorde.., en ons veg mekaar oor en weer met die woorde. Party dinge sê ons met mening omdat ons dit bedoel, ander dinge sê ons net om mekaar seer te maak! Jy weet mos hoe gaan dit partykeer in so ‘n binnegeveg. Eintlik is dit verskriklik onaangenaam, maar as die geveg eers aan die gang is, dan is daar mos nie ophou nie. Ons is te beskaaf om mekaar te slaan, net dronklappe raak handgemeen en slaan mekaar pimple en pers.

Na die geveg so ‘n paar minute verby is en ek op my stoel sit en slegvoel oor die ding, staan ek op en stap kamer toe, waar ek vir vroulief op die bed kry sit en saggies ween. My primere doel van hierdie besoek aan haar, is om askies te vra vir my optrede en die dinge wat ek gesê het net om haar seer te maak. Nou sit ek met die problem die oomblik as ek haar probeer aanspreek dan huil sy harder, en ek weet ek moet die verskoning uit my lyf uitkry. Sy draai haar kop weg van my af, as ‘n duidelike teken dat my skouer nie vandag goed genoeg is om op te huil nie. Ek is amper seker ek hoor haar knor….sy is nog glad nie uitgeveg nie. Toe weet ek, ek gaan nog ‘n paar dae op die matjie slaap, die Yorkie gaan op my plek slaap langs vroulief stelling in neem.

Ek en vroulief is total verskillend getemperamenteerd. Ek die opvlieënd een en sy die rustige een, wat altyd die minste is en nooit terugveg wanneer ek "opgestart" het nie. Wat nou daardie dag verkeerd geloop het met haar emosies, weet ek nie, ek het myself eintlik besimpeld geskrik toe sy so lustig saam baklei en my met haar tong braai.
Ek in my opvlieëndheid is altyd die een wat druipstert agter vroulief aanloop en askies vra. Ek het al baie vir haar gesê ek moet so ‘n neonbord teen my voorkop laat aanbring wat die hele tyd met flitsende rooiletters sê: “EK IS JAMMER” want ek is met my geaardheid, altyd by iemand in die moeilikheid en moet om verskoning vra.

Nou wonder jy seker of ek regtig vir ‘n paar dae op die matjie geslaap het? Antwoord is nee…! Ons is mos altwee grootmense, wat die Here in ons lewens het. As daar woorde kom, is dit nie ‘n “shouting match” wat in iets leliks ontaard nie. Ons verskil in liefde van mekaar. As ons vir mekaar ontsteld is gaan ons nie slaap voordat die saak uitgepraat is nie.Eff 4:26.......laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; (27) en gee aan die duiwel geen plek nie.

Dit is jammer dat die binnegevegte in baie huishoudings uiteindelik ontaard in ‘n toeklap van die voordeur en ‘die geluid van ‘n motor wat in die nag wegspoed... Die volgende dag is die balju op die stoep….! Ag nee, dit is oor sulke dinge wat die egskeiding syfer in ons land so ontsettend hoog is.

Op die keper beskou is ‘n man en ‘n vrou wat in die eg verbind is net mooi niks van mekaar nie. Dit is twee totale vreemdelinge wat besluit om hulle skapies in dieselfde kraal te jaag, hulle is nie familie van mekaar nie en sal ook nooit wees nie. Hulle agtergronde verskil tien teen een ook nog van mekaar.
'n Huwelik kan net werk, as albei partye besluit, dit sal werk en nie daardie agterdeur van, “as dit nie werk nie dan skei ons maar” oophou nie.Die moet die dag van die huwelik styf toegemaak en gegrendel word.

Ons mag verskil van opinie, maar ons moet nie ‘n olifant geheue hê nie, as ons mekaar om verskoning gevra het moet ons dit bedoel en die verskoning met erns bejeen en aanneem, dan vergewe en vergeet ons. Dit is dan asof daardie onderonsie nooit gebeur het nie.Rom12:17 vergeld niemand kwaad vir kwaad nie;….(19) Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: “Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.” So wie is ons om iets teen ons wederhelfte te hou?

Die belangrikste is om jou huwelik te bou op die Rots Jesus Christus. As die storms dan om jou begin woed dan sal die fondamente van daardie huis nie skuif en inmekaar tuimel nie, maar as die fondament op sand gelê is……… !

Vergewe (nie met wolwegif nie, maar met die hart) en vergeet en gaan aan met jou lewe. Geniet jou huwelik, dit is ‘n ontdekkingsreis wat alles baie interessant maak!

6 comments:

Nimsi se Blog said...

Hello Oom Petrus,
Ek gaan nou op die daad my klomp "wolwegif" wegspoel!!!
... ai maar n mens vergewe tog so lekker met n spul wolwegif!
Grappies eenkant... dankie vir hierdie "wake-up call"
Liefdetjies daar.
Nimsi

mariki said...

Lekker gelees hier, Oom Petrus. So hoort die dinge.

Anonymous said...

Maak jammer alles reg?

Oom Petrus said...

Nimsi
Bly jy het besluit om weg te gooi.!
Dankie vir jou kuier

Mariki,
Dankie vir jou besoekie.

Anoniem
Dankie vir jou besoekie

Jan and Miekie said...

Dis nes jy se! Ek wou al baie keer kwaad gaan slaap het, maar kon dit gelukkig nog nooit regkry nie. Kan nou nie onthou wanneer ons laas woorde gehad het nie. Met die jare raak die huwelik net beter. Dankie, ek het lekker gekuier.

Oom Petrus said...

Jan en Miekie
Baie dankie vir julle besoek, waardeer dit regtig.
Ja vir my is ons huwelik 'n fees en vroulief is my bste, beste maatjie.
Geniet die dag