Monday, January 19, 2009

VRYHEID

Oorloë is al geveg en baie mense is dood en dit net om die magiese ideaal van vryheid te bereik. In ons eie land se geskiedenis, het die Voortrekkers die onbekende binneland van Suid Afrika aangepak en oorloë geveg teen die inheemse volke om net vry te wees en om van die Engelse oorheersing vry te kom is daar twee vryheids oorloë geveg...! Mense begin hulle eie besighede om vry te wees van die daaglikse verantwoordelikheid van om vir ‘n ander werkgewer te werk.
Ons het Vryheid van spraak...!
Vryheid van assosiasie....!
Persvryheid...!
Is dit regtig vryheid ? Is dit Vryheid wat blywend is? Is dit Vryheid wat rustigheid in ons bring en ons tevrede agterlaat? Ek dink nie so nie...!
Word ons as mense nie so besig gehou met die alledaagse dat ons self geen gedagte meer het nie? Ons hardloop vandat die son opkom in die oggend tot laat in die aand....! Dit is voldag werk, kinders grootmaak, kosmaak huis skoonmaak, tuinwerk op datum kry. Dan wil ons nog ‘n sosiale lewe ook hê. Ons wil kerk toe gaan, met vriende kuier, gaan fliek, en nog vele meer.
Waar is die gewaande vryheid wat ons het? Is dit nie net ‘n mite nie? Ons is so ingehok met alles wat om ons aangaan en wat van ons verwag word om te doen dat vryheid glad nie ter sprake is nie.
Sedert die sondeval in die Paradys is daar vir die mens grense gestel wat hom onmiddelik ingeperk het. Die Vryheid wat die mens gehad het in Adam en Eva voor die val, het slegs een klein beperking op die mens gehad.... Gen 2:17 Maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie: want die dag as jy daarvan eet sal jy sekerlik sterwe. Nie eers hierdie een klein beperking wat God op die mens geplaas het, was die mens bereid om te respekteer nie. Nee die mens moes die grense van vryheid toets omdat daardie mite van vry wees, doen wat ek wil deur die Satan in sy kop geplaas is.
Behalwe vir daardie een klein beperking, was die mens vry om te heers oor die diere van die aarde, die voëls van die hemel en die visse van die see. Die mens is vrypas gegee om te heers oor God se skepping . Adam en Eva kon doen wat hulle wil,slaap wanneer hulle wil. Die enigste taak wat God aan Adam gegee het, was om aan al die diere name te gee. Dit moes hom seker ‘n redelik lang tyd geneem het om hierdie opdrag uit te voer.
Dit was vryheid.....tot daardie noodlottige dag......! Die dag wat Eva geval het vir die praatjies van die slang en op sy uitdaging gereageer het.
Van toe af is die mens in kettings van sonde gebind..., en al die dinge wat ons so besig hou het oor ons pad begin kom as straf vir ongehoorsaamheid.
Daar is hoop, ons kan vryraak van die bande wat ons bind. Joh8: (32) En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak(36) As die Seun julle vrygemaak het sal julle waarlik vry wees.
Die Vryheid wat daar vir ons is binne die wil van die Here, is ware Vryheid, nie losbandigheid nie.
Kom ons dank God dat Hy die plan gemaak het om ons, ons vryheid terug te gee deur die bloed van Jesus.

3 comments:

Nimsi se Blog said...

Hello Oom Petrus.
Ja en bly die oorsteek van grense tot vandag toe nog die oorsaak van so baie hartseer, want satan bly dit voorhou as n opwindinde uitdaging!
Lekker week daar.
Nimsi

mariki said...

Groot stof tot dankbaarheid,het ons!

Oom Petrus said...

Nimsi en Mariki,
Baie dankie vir julle inloer
Groete