Thursday, June 11, 2009

DIT IS WINTER

Ek het hierdie per e-pos van Grietha du Plessis onvang en wil dit graag deel

Die warm-kombers is op nr. 3; die olie 'heater' op sy warmste en die
badwater se stoom wasem die spieëls toe. Jy moet nou uit die bed
met sy knus komberse klim; dit is alreeds 'n halfuur na opstaantyd. Uit die
bed, in die bad, tap kort-kort nog warm water by tot jy gerimpelde
ou-mens vingers kry. 'n Warm 'vest', wolkouse, 'n dik trui en 'n serp om
die koue uit te hou. Nou is jy reg vir hierdie winterdag! Kan 'n
mens sop eet vir ontbyt? Of pannekoek? Kan ek dan maar Milo of Hot
Chocolate kry?

Dikwels ervaar ons winter in ons lewens. Soms voel dit of ons geestelike
lewe ook deur winter gaan, leeg en dood, dis asof die
Here so vêr is. Of jou huwelik gaan deur 'n wintertyd, dalk is jou
werksituasie vir jou onaangenaam en jou finansies is in 'n toestand.
Beleef JY dalk êrens in jou lewe 'n wintertyd?

Ek hoor nou die dag 'n vrou sê: "As dit winter is wil ek net die nodigste
doen en so gou as moontlik terug wees by die huis, om warm
en veilig in my huisie te bly. In wintertye wil ons onttrek en op ons
eie probeer regkom, ons wil wegkruip en hoop die seisoene draai vinnig.

Ons het mos almal op skool geleer van die diere wat hiberneer. Hersiening:
hiberneer is wanneer hulle vir die winter gaan slaap, soos die
miertjies en weer opstaan in die lente. Ek dink baie mense wens hulle kan
ook so bietjie hiberneer, net so bietjie rus en slaap en van al
die 'worries' vergeet. Daar is 'n manier om te hiberneer, 'n Bybelse resep!

Jes. 40:31sê: "...maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle
vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg
nie, hulle wandel en word nie mat nie".

Die Message vertaling sê: "But those who wait upon GOD get fresh strength.
They spread their wings and soar like eagles, they run and
don't get tired, they walk and don't lag behind."

As jy bietjie moeg is, eensaam voel, baie stres en spanning ervaar het ek
vir jou goeie nuus: Jesus wil vir jou nuwe krag gee. Daar is
tye van "DOING" in ons lewens wanneer ons baie besig is om dinge te doen en
rond te hardloop en dalk selfs geestelik te groei, maar daar moet
ook tye van "BEING" in ons lewens wees, tye wat ons net kan wees! Tye van
wag, rus en hiberneer.

Moenie skuldig voel as jy deur winter gaan nie, ons almal moet daardeur.
Soms het jy net nodig om te sit! Ja, by Jesus
se voete te sit en weer jou asem terug te kry nadat jy so vinnig en
so vêr gehardloop het. Soos die ou Boesman wat besig was om vir 'n klomp
jagters spoor te sny, hy hardloop voor die bakkie uit en volg
die bokke se spore. Op 'n stadium gaan sit hy onder 'n groot ou doringboom,
toe die jagters wou weet wat gaan nou aan was sy
antwoord:
"Ek wag vir my siel, êrens het ek vir hom weggehardloop." Winter
laat ons soms toe om so bietjie te wag vir ons siel en te vra - waarheen
hardloop jy?

Jes 30:15 "Want so sê die Here HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer
en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan
julle krag..."

Na elke winter is daar 'n kroon. 'n Kroon met bloeisels; groen blaartjies
en swaeltjies. Die Kroon van LENTE! Wat jy nooit moet
vergeet van winter nie is: hy kom volgende jaar weer. Ons lewens bestaan
uit seisoene, kom ons gebruik die winter om introspeksie te
doen, stil te wees, te rus by Sy voete en sodoende ons krag op te bou vir
die volgende lente en somer waarin ons voluit kan groei, blom en
speel. God het geweet wat Hy doen toe Hy Winter gemaak het.

GEBRUIK JOU WINTER - DIT HOU NIE VIR ALTYD AAN NIE!!

2 comments:

Elmien said...

Sjoe, ek kom altyd net op die regte tye hier lees. Baie dankie!!!

mariki said...

Pragtig saamgevat, hoor.