Sunday, June 21, 2009

GOD SE VADERHART

Dit was 'n seer oomblik toe dr Erich Heine 'n blommekrans op 'n branderplank in die see in stoot as deel van 'n intieme groetseremonie toe hulle van Erich junior afskeid geneem het. Erich is oorlede toe 'n Airbus A300-vliegtuig onlangs in die see gestort het. Wat die impak van die meer as 200 mense se dood op hulle families en vriendekringe gelaat het, is ondenkbaar, maar wat Erich Heine aanbetref, het diè vliegramp ouers sonder 'n seun, 'n vrou sonder haar man en kinders sonder 'n pa agter gelaat.

Vir elke kind wie se pa oorlede of afwesig in sy lewe is, is 'n dag soos Vadersdag waarskynlik nie so 'n feestelike geleentheid soos wat dit vir ander kinders is nie. Ons weet dat ons, ons vaders, moeders, ons geliefdes en ander mense èlke dag, en nie net hierdie dae spesiaal en besonders behoort te laat voel nie, maar dit is tog goed dat ons sulke spesifieke geleenthede het om hulle 'n bietjie ekstra te bederf en na te dink oor hulle rol en betekenis is ons lewens.

Iemand vra onlangs of God nie ook soms vir ons soos 'n afwesige vader voel nie? Dis nie nèt kinders wat sonder 'n pa(of met 'n onbetrokke pa) moes grootword wat sy vraag sal verstaan nie. Om met ons menslike Vader-prentjie, God as "Vader" te aanvaar, is nie altyd maklik nie, tog dien dit as 'n stewige basis. So baie mense identifiseer juis met hierdie metafoor omdat 'n pa, soos wat Johann Symington skryf, baie meer aan sy kinders as kos, klere en 'n dak oor hulle koppe gee. "Hy gee ook aan hulle die geloof waarmee hulle die lewe moet aandurf"(Man uit een stuk, CUM 195:95) Andries van Aarde noem dat God so 'n groot en betekenisvolle rol in Jesus van Nasaret se lewe gespeel het, juis omdat Hy sonder 'n vader grootgeword het in 'n tyd en plek waar mens nie eintlik sonder 'n vader kon funksioneer nie(Fatherless in Galilee, Trinity Press ,2001) Vir Jesus was God alles in Sy lewe en het Hy volkome op Hom as Vader vertrou. Deur ons omgang met Jesus kan ons ook vandag vir God as Vader beskou en outentiek leef.

God se Vaderhart klop sterk, ook vir kinders sonder 'n vader(Ps68:5/6; Jer 49:11) Omdat Hy oor hulle besorg is moes sy mense van vroeg af vir hulle voorsiening maak (Deut 14:29; Jak1:27) en na hulle omsien(Jes1:17; Jer 7:6) Ons, wat God Vader noem (Matt 6:9), weet almal hoeveel ons kinders vir ons beteken. Hoeveel meer beteken ons dan nie vir ons Vader nie(Matt 7:9; Luk11:11-13)?

Mag God se Vaderskap jou vandag en elke dag diep raak en motiveer!

Dank aan: Dawie van Schoor

1 comment:

mariki said...

Dankie, Abba Vader...