Monday, June 29, 2009

VERGEWE ONS ,ONS SONDE

Daagliks gaan daar baie gebede regoor die hele wêreld op. Wat die inhoud van gebede in ander wêrelddele en selfs in ander tale binne Suid Afrika is, is nie aan my bekend nie!

Iets wat my opval in openbare gebede, hetsy by bidure, tafelgebede, openingsgebede of waar ookal, veral waar dit in Afrikaans gedoen word. Is dat Iewers in die gebed, maar gewoonlik naby aan die slot word die volgende woorde gebid: “en vergewe ons, ons sonde?”

Ek luister gewoonlik verstom na die woorde en ‘n aantal vrae kom onwillekeurig by my op. Wie is die ons? Is dit die Bidder en sy familie? Is dit die mense teenwoordig in die vertrek waar die gebed gebid word? Is dit almal op die aarde? Word hierdie versoek bedoel, of gebruik die Bidder die woorde om aan die gebed “body” te gee? Is dit nie maar net deel van ‘n rympie wat die Bidder opsê ne nie eers agterkom dat hy/sy dit wel vra nie?

Nou wonder ‘n mens, dra so ‘n versoek gewig by God? As so ‘n “ons” versoek tot God gerig word in ‘n openbare gebed, kan almal op die aarde dan aanneem dat God alle sondes wat hulle gedoen het tot op die oomblik dat die persoon gebid het, vergewe is? “Ons” is mos nie beperkend nie, dit is ‘n “oop” versoek! Selfs al kwalifiseer die Bidder die “ons” met “ons wat in die vertrek teenwoordig is” of “ons wat om hierdie tafel sit”, is die vraag steeds, vergewe God nou almal se sonde op daardie oomblik wat die versoek gerig word?

As ek vanoggend ‘n verkeerde gesindheid openbaar het en die Heilige Gees oortuig my daarvan dat dit verkeerd was, dan vra ek mos dadelik dat God my sal vergewe en my weer sal vul met sy Heilige Gees. Ek is dan mos “sondeloos” want ek is vergewe vir die sonde van verkeerde gesindheid! As ek nou in die geselskap is en as deel van die “ons” beskou word, van watter sonde vergewe God my?

Is dit dalk ‘n geval dat die Bidder deur die Heilige Gees oortuig word dat daar sonde in sy/haar lewe is en dat dit nou in die openbaar bely moet word? Dalk is dit nou ‘n geval dat die bidder te skaam is om die verkeerde daad by die naam te noem, daarom die versamelnaam “sonde” Dalk ook te skaam om “ek” te sê daarom “ons”

Wanneer mens aanvanklik ‘n oorgawe aan die Here doen, dan bely mens in jou sondaarsgebed al jou sondes, omdat jy nie elkeen van die sondes wat jy gedoen het by die naam kan onthou nie, maar daarna bely jy ‘n sonde by die naam soos wat die Heilige Gees jou van oortuig bv. vloek, lieg, steel, gesindheid, kwaadpraat ens.

Wanneer mens by die volgende stap kom, dan bely jy die sonde wat in jou woon. Dit is daardie geneigdheid om die verkeerde te doen wat jy oorgeêrf het vanaf die sondeval in die Paradys. Daardie erf-smed waarmee jy gebore word, soos wat die Bybel sê in sonde word ons ontvang en gebore!

Word sondevergifnis nie dalk goedkoop gemaak wanneer Bidders vra “vergewe ons,ons sonde” sonder dat dit werklik bedoel word en sommer net so in die verbygaan van die Here gevra word nie?

Ons moet altyd onthou dat ‘n geweldige prys betaal is sodat ons vergifnis van sonde kan kry, dus is sondevergifnis nie ‘n goedkoop kommoditeit nie!!

2 comments:

Nimsi se Blog said...

(((Oom Petrus)

mariki said...

Sjoe alweer, OomP! Diep gedink en gesê -- baie dankie.