Thursday, March 26, 2009

MY PAPPA 3

My dierbare kind, is daar vreugdes in jou lewe? Wil jy My nie maar daarvan vertel nie, hoekom laat jy my nie deel in die dinge wat vir jou bly maak nie!
Vertel vir My wat het alles met jou gebeur van gister af. Het daar iets gebeur wat dalk troos vir jou gebring het of jou hart bly gemaak het?
Het jy dalk 'n onverwagte besoeker gekry wat vir jou baie plesier verskaf het of het die besoek dalk een van jou vrese besweer? Was die besoeker dalk die draer van goeie nuus, van een of ander sukses wat jy gedink het nie vir jou beskore was nie?
Het jy dalk 'n brief of 'n geskenkie ontvang, het iemand van wie jy dit nooit verwag het nie, jou 'n wonderlike kompliment gegee? Het iemand dalk vandag op 'n onverwagse tyd of plek, 'n liedesdaad aan jou bewys?
Het jy dalk daardie aanstelling by die werk gekry. Die een wat jy heimlik gehoop het vir jou ge-oormerk is maar wat jy en almal gedink het vir die die hoof se witbroodjie gegee sal word?
Het jy dalk iets in My Woord raakgelees wat vir jou verklaar waaroor jy lankal wonder. Jy weet My Woord is 'n skatkis en hoe meer jy daaring rondkrap hoe meer kom jy op die wonderlikste ding af. Hou net aan soek daar wag 'n wonder wêreld van openbaring op jou.

Weet jy dat Ek dit alles vir jou beplan het....., Ek weet wat goed is vir jou en Ek weet wat jy nodig het. Het iemand dalk vandag liefde aan jou bewys op 'n onverwagse tyd of plek

Jy kan maar hier by My kom sit en vir My sê hoe bly jy is en dat jy ook dankbaar is.

Is daar versoekings in jou lewe, My kind?
Daardie boek wat jou so prikkel, wil jy dit nie maar neersit en besluit om nooit weer daarin te lees nie. Wat van al die dinge op die internet, dit wat jou so aand vir aand vasgenael voor die rekenaar hou. Die wilde hartklop terwyl jy die internet blaaie toemaak as jy hoor iemand kom die gang afgeloop, want jy wil nie hê hulle moet sien waarna jy kyk nie.
Wil jy nie maar die besluit neem om daardie dinge te los nie, klaar te kry met die dinge wat jy weet nie goed vir jou is nie.

My kind ek nooi jou uit om by My te kom sit en my van al die dinge te vertel. Daardie ding wat jy doen of waarna jy kyk, of dalk wat jy besig is om te beplan. Kom praat met My daaroor, kom bely dit teenoor My en Ek sal jou sondes vergewe. Ek sal dit in die diepste dieptes van die see werp en nooit weer daaraan dink nie.

Ek wil hê dat jy 'n skoon en smetlose lewe lei, eenkant gesit vir My uitsluitlike gebruik. Dit is alleenlik moontlik as jy jou ten volle oorgee aan My volmaakte wil vir jou lewe.

Gaan dan nou uit en begin om vir My te werk, wees sagmoedig en nederig. Betoon liefde aan almal met wie jy skouerskuur en vertel hulle van My. Moenie vergeet nie, kom elke dag terug om weer met My te gesels en te vetel van al jou wedervaringe. Kom wys elke dag jou meer toegewyde hart vol liefde vir My, sodat ek jou met seëninge kan oorlaai.

2 comments:

Nimsi se Blog said...

Hello Oom Petrus, die MY PAPPA stukkies is regtig besonders en kosbaar.
Nimsi

Oom Petrus said...

Hallo Nimsie,
Dankie vir jou inloer ek waardeer dit.
Gaan deesdae so rof met my ek kom by niks privaat uit nie. Hopelik sal dit begin beter gaan na die Paas naweek
Liefde daar by julle